(Week 19 In Afrikaans) - Mpumalanga na Limpopo

Hierdie week was 'n absolute fees. Die laeveld het 'n skoonheid aan hom wat jou hart steel. Veral as dit eintlik nog winter is en hy hou jou warm. So warm dat jy eintlik al kan swem.

Van Nelspruit af het ons die "stortende waters" roete gevolg volgens ons padrit boek. 



Horseshoe Falls
Lone Creek Falls


Bridal Veil Falls
Mac-Mac Valle

Horseshoe falls, Lone Creek falls, Bridal Veil falls en Mac Mac. By Mac Mac se poele het ons lekker geswem, al was die water yskoud en al het ons die oggend nie gedink om ons swembroeke los in te sit in die kar nie. 


MacMac Poele
Alhoewel ons oral gehoor het dat Pelgrimsrus nie meer is wat hy was nie, het ons tog maar gaan kyk en 'n drankie in die "Royal Hotel" gaan drink. Ons was aangenaam verras, dit is darem nie 'n spookdorp nie en daar is heelwat nog om te sien en te doen. 


Die "Royal Hotel"


In Graskop het ons in 'n tipiese "backpackers" geslaap en ons was omring deur Franse skoolkinders wat tot 1uur daai volgende oggend hulle doef-doef musiek geluister het. So met min slaap en af rûe, is ons vroegerig voort na die volgende stop...

Elke keer as ons stop om af te pak dan is ek dankbaar dat ons sleepwa-loos is. Die op en af pakkery is net soveel makliker en die draak (aka Rut) kry glad nie kans om uit te kom nie.

Van Graskop af is ons na God's window en die Pinnacle. 
God's window


The Pinnacle


Dit was asemrowend mooi en oral was dit mooi skoon, die badkamers ook en mense was vriendelik en behulpsaam. 

Lisbon Valle

Die volgende stop was Bourke's luck se kolkgate. Dit was soos 'n paradys vir die kinders wat ewe skielik in "klip-springers" verander het sodra die "kode-woord" vir die transformasie ge-uiter is. "Charma, klippe!" En dan gebeur dit net outomaties. Die kinders is dan klipspringers en al wat ek seker maak is dat hulle nie op nat klippe of van die kranse afspring nie.


Bourke's Luck Potholes

Bourke's Luck Potholes

Bourke's Luck Potholes

Die drie rondawels staan nog en was beeldskoon. Al die jong meisie-toeriste by die uitkykpunt het gelei gevoel om modelwerk te doen op die kranse met die mooi agtergrond. Die gunsteling "pose" was met hulle rug gedraai na die kamera, arms uitgestrek, titanic-styl. Idilies.


Die 3 Rondawels


Limpopo het vir ons gelê en wag. Geduldig.

Vir die volgende paar dae het ons op 'n lemoenplaas gebly. My maatjie van laerskool dae het met 'n lemoenboer getrou en hulle het hulle huis vir ons oopgemaak "vir so lank as wat ons wil"! 

Ek en Elsabe :-)

Heerlike kuiers, heerlike kos omring met lemoen, pomelo en mango boorde was vir ons beskore en was dit nou lekker! 


Op die lemoenplaas baby Letsitele
Ons het so bietjie rondgerits die een dag, deur Magoebaskloof gery, in die Modjadji natuurreservaat gaan rondloop tussen die oerbroodbome in die reënkoningin se buurt, en pizza gaan eet naby Haenertsburg. 


Oer-oue Broodbome in Modjadji se ryk
Die reënkoningin heers oor die reservaat se broodbome. Sy is die leier van die Balobedu, en die een wie nou aan bewind is, is maar 13 jaar oud. Hulle sê sy gaan op die oomblik skool in Johannesburg.
Oppad het ons ook lekker gaan baljaar by die Debegeni waterval en op ons boude op die gladde klippe gegly tot in die poele!

By die Debegeni waterval


Limpopo is natuurlik ook die wereld van die Boabab, oftewel die Kremetart boom.
Daar is 2 massiewes waarna ons gaan kyk het: die Sunland Boabab (hy het ongelukkig gebreek) en die een naby Leydsdorp.


Die Sunland Boabab

Die Sunland Boabab


Die Boabab naby Leydsdorp



Dit was heerlik om saam met die boer rond te ry op sy plaas terwyl hy vir ons verduidelik het hoe hulle die lemoene ent op suurlemoenbome want suurlemoenbome se stamme en wortels is sterker. 



By die pakhuis het die blink lemoene se magies die son wat sak weerkaats waar hulle gelê het in die water om hulle mooi af te spoel voor verpakking. Declan het in die boer se hart ingekruip en hy is gevat op skietuitstappies. 


Hy het selfs sy eerste haas geskiet en hou sy haasstertjie veilig in 'n sakkie by hom in die kar.
Die dam naby die lemoenboer se huis het seekoeie in wat soms hulle drade plat trap en dit het gemaak dat Charma nie juis belang gestel het in die aand uitstappies nie
Ons laaste dag by die lemoenboere het ons spandeer by die naby geleë Eiland ATKV oord waar ons almal lekker gespeel het soos kinders en afgegly het by die super tube en die warm swembaddens geniet het.


Met bokse lemoene, pomelos, mango atchar en selfs 'n kokosneut is ons toe fort na Rustenburg gister oggend. Hier aangekom het ons by vriende gaan eet en heerlik gekuier tot laat! Trommeldik het ons huistoe gerol gisteraand en al die kaloriee opgebruik op vandag se uitstappie by Sun City! Dit was my en die kinders se eerste keer daar by die "valley of waves" en ons het behoorlik gespeel! Die tyd het verby gevlieg en voor ons ons oë kon uitvee, was dit al 4uur en het ons begin oppak.



More sal ons weer oppak en eers die dag in die Pilanesberg natuurreservaat spandeer voordat ons ry tot in Mahikeng waar my nefie vir ons slaapplek aangebied het. Ons gaan so stop en ry die hele week, en dan sal ons uiteindelik van Saterdag af in Springbok bly.
Ons. kan. nie. wag. nie!!!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Verf en verf en verf

Week 24 (In Afrikaans) - Hondeklipbaai

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai