Week 58 - Oppad na Jeffreysbaai

Maandag was ek 'n regte slawedrywer.
Daar was Wiskunde om gedoen te word.
Asseserings en eksamens om te finaliseer.
Dan word ek taak-georienteerd, en nie mense-georienteerd nie.



Arme kinders :-)

Die goeie ding was darem dat ons BAIE mooi gevorder het, EN die huis was skoon, EN almal se magies was vol teen die tyd dat ons bed toe gegaan het.

Dinsdag was baie dieselfde, behalwe dat ons ook ver langs die see gaan stap het. Soos om koebaai te sê.



Woensdag was dit ek en Pieter se huweliksherdenking - ons is al 'n hele 15 jaar lank getroud met mekaar :-) Ons het vir die son gaan kyk terwyl hy sak met 'n drankie in die hand en vir mekaar vertel wat ons van elke jaar wat verby is, kan onthou. Dit is interessant hoe mens goeie goed makliker onthou as dit goed gaan met jou. Ons het baie goeie herinneringe, maar hierdie laaste jaar is sover die beste van almal!



Donderdag en Vrydag het ons uiteindelik begin pak. Ongelukkig het my innerlike draak weer uitgekom. Ek het gesukkel om vriendelik te bly en te fokus op pak en skoonmaak en opruim, ek dink die lang ure wiskunde het ook nie gehelp nie...

Darem het ons almal dit ook oorleef en ons is veilig aan die einde van nog 'n week. EN almal is nogsteeds lief vir mekaar!

3 haaie waar ons wil "surf"...



Die kinders het hulle laaste "surf" les gehad in Plettenbergbaai Vrydag en net voor hulle ingegaan het, het Pieter gou weer die "drone" opgestuur. Daar swem toe 3 groot witdoodshaaie net daar by die "backline" waar die goeie "surfers" vir die lekker golwe lê en wag! Ons gee hulle toe maar 'n rukkie kans om verby te swem, en toe gaan die les tog maar voort!

Laaste "surf"-les by Plettenbergbaai


Die opwinding was GROOT in die huis om Jeffreysbaai toe te gaan. Dit is die eerste keer wat ons 'n regte egte "surf" kompetisie gaan sien en dalk die "pro's" in lewende lywe kan ontmoet! Dit gebeur egter eers in Julie, so ons het lank om nog op te lees oor al die deelnemers en hoe die sport beoordeel word. Die kinders beplan vir wie hulle wil vra vir handtekeninge en Charma begin al klaar haar dagboek vol teken met surf prentjies.



Ons het besluit om lekker lank in Jeffreysbaai te bly - 2 maande is nou bespreek en betaal. Verder het ons nog nie regtig beplan nie - die dele tussen Jeffreys en Oos-Londen is nogal ver uitmekaar  en ons is bekommerd daaroor om te ver te wees van goeie opvangs en internet. Ons het darem nog heelwat tyd om dit alles uit te werk.

Ons het gister so slakke-pas hierheen gery. Afgedraai by Nature's Valley, verby daai mooi padstal op die melkplaas en gaan kyk vir die mooi prentjies oor die see. Toe ry ons verder met die Grootrivierpas en ook die Bloukranspas, terug op die N2 en tot in Jeffreysbaai.


Die mooie Nature's Valley


Ons dink die Bloukranspas is eintlik toegemaak, maar ons het nie borde gesien wat dit aandui nie, dit was maar net dat die pad so woes toegegroei is met mos en gras! Dit was eintlik baie mooi gewees.

Vandag het ons so bietjie gaan ry op die branders. Daar is heelwat "surf-spots" hier in Jeffreysbaai, die bekendste natuurlik "Supertubes". Ons sal daar net gaan koffie drink hierdie keer, want die golwe is groot en die rotsrif op die bodem, gevaarlik. Daar is mens banger vir die rif as vir die haaie :-)

'n Oulike winkel se muur in Jeffreys  (die kinders se gunsteling "surf-movie" is "Soul Surfer")


Darem is daar ook plekke vir beginners soos ons, en ons sien uit na lekker baie tyd in hierdie see.

(Hierdie "blogpost" is bietjie kort, so as julle wil kan julle ons nuutste youtube video gaan kyk - kliek hier onder.)




Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Verf en verf en verf

Week 24 (In Afrikaans) - Hondeklipbaai

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai