Week 7 - In Afrikaans


gepak!

Dit het amper gevoel asof die tyd te vinnig gevlieg het. Asof ons eintlik nog so maand of wat moes bly op die plaas. 
groet die beeste


Ons was eintlik nie regtig so lus om op te pak nie en het begin gesels oor 'n moontlike terugkeer in Julie. Junie was egter geboek en betaal so ons moes eenvoudig fort. Donderdag het ek die HELE FREAKIN DAG gepak en skoongemaak (ek vind goed beter as ek skoonmaak..) en Pieter het hekke gebou saam met sy pa. Die hekke het hom tot baie laat besig gehou en dit het tussenin gereën so ongelukkig was die tetris-meester nie beskikbaar om die kratte se inhoud mooier pak nie..
Dit het egter mooi uitgewerk... dink ek.... alhoewel toe ons aan die anderkant uitpak was ek nogal verstom oor hoe baie gaatjies nog beskikbaar was vir goedjies om ingedruk te kon word... ag wat, so leer mens maar.
Die rak wat Pieter gebou het werk flippin goed! Die sleepwa het nou meer plek, niks is vasgemaak op die kar se dak nie en ons het lekker gemaklik gesleep aan die vrag.





Ons wou nie regtig vreeslik "sightsee" oppad af nie, want ons het gereken dit gaan ons so 5 ure neem tot in Kingsburgh van die plaas af, maar ek wou tog genl Louis Botha se graf gaan sien buite Greytown en die Bloukrans gedenkteken naby Weenen. My skoonpa het seker 3 of 4 keer verduidelik hoe ons moet ry, en ek het notas geneem van wat hy sê en ge"save" op my foon. Maar toe ek weer bykom, het ons 'n groot draai gery verby Greytown en die gps neem ons toe na 'n massive miershoop langs die pad in plaas van die goed opgepaste bloukrans monument.
Charma het bietjie die verloop van die gesprek gemis en sy het in haar dagboek geskryf van die Bloukrans gedenksteen wat soos 'n miershoop lyk. (ek het haar nie reggehelp nie).
Iewers langs die pad was daar 'n padstal met 'n reuse bankie wat Pieter 'n u-draai laat maak het sodat ons 'n foto kon gaan neem.



Ons ry toe ook sommer deur Estcourt en na die Midmar dam toe waar ons bietjie bene gerek het.




Ons useless gps word toe gestel om snelwee te vermy sodat ons gedurende die afjaag Kingsburgh toe ook darem bietjie mooi goed kan sien, en daar eindig ons toe op in 'n lokasie tipe woonarea in 'n doodloop straat. 

Interessante buurt waar mense vlaggies in hulle erwe sit

Na 'n pare nare woorde het Pieter darem toe die kar met die sleepwa omgedraai en vir die hoeveelste keer op hierdie trip is ek diep dankbaar dat hy saam is en vir al sy vermoëns!
Ons is toe ook deur Pietermaritzburg en Declan met sy geheue soos 'n olifant onthou toe dat juffrou Annieka hulle geleer het dat daar 'n standbeeld van Ghandi is in PMB. 

Ek sleutel dit toe in en Pieter volg die pad.... reguit in spitsverkeer in. Met 'n gesukkel draai ons toe af en net toe ons wou moed opgee, staan die beeld toe en pryk op regterhand. Fotos is geneem terwyl Pieter almal agter hom blok (daar is eenvoudig nie parkering vir die kar en die sleepwa in daai nou straatjies nie)en ons is toe weer verder.




Ons woonstel is pragtig en gemaklik al is daar baie reëls wat ons moet nakom; die kinders het reeds raasgekry by die sekuriteitswag want hulle mag nie met hulle fietse ry in die parkeer area nie en hulle mag ook nie met die hysbakke speel nie.


Ek het heel naweek in die woonstel gebly om te leer vir my eksamen wat ek dinsdag skryf (ekonomie) en Pieter het die kinders strand toe gevat en vandag "crocworld" toe. 
Ons uitsig vanuit die Shangri-la woonstel blok

Hulle skryf nog elke keer in hulle dagboeke as iets besonders gebeur en vandag was vir altwee 'n absolute hoogtepunt. Selfs Declan se paragrawe word langer en sy sinne voller wat hy gebruik om sy dag te beskryf!



Ons gaan hier bly tot die 30ste Junie en dan gaan ons vir die eerste keer op ons toer bietjie kamp. So ons het basies net 3 naweke om avonture hier rond aan te pak!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai

Week 73 - Terug waar ons begin het...