Week 71 - Die Ooskaap

Die laaste week op 'n plek het 'n vreemde uitwerking op ons. Ons is gereed om te gaan in ons harte en aanbeweeg is 'n lekker vooruitsig. Maar elke keer raak ons nogal geheg aan mense. 

Laaste "surf" by "Pipe"


Ons land is vol oulike mense. Lieflike mense. Interessante mense. Dis elke keer nog lekker gewees om hulle te ontmoet en bietjie te leer ken. Dit was elke keer ook moeilik om totsiens te sê. Konneksies met mense vat dus die koek van menswees. Dit is hoër as avontuur, beter as gedenkstene en museums en soeter as vakansies. Dit maak ons lewens vol en interessant.

Niks is vir altyd nie en ons leer dit veral hierdie jaar. Dit is bittersoet. Vriendskappe loop soos seisoene - nie konstant dieselfde nie en altyd veranderend.

"Sundowners" by die hawe



Ons het hierdie week vir oulaas gaan branderplankry by "Pipe" en "Millers Point". Ons het die sonsondergang gaan kyk by Maitlands, hamburgers gaan eet by Frederick & Sons en sundowners by die hawe gaan drink. Oor en oor totsiens gesê vir mense en plekke en gewonder wanneer ons seisone weer gaan aanbreek dat ons mekaar weer sal sien. Hoopvol met 'n tikkie hartseer, want eintlik weet mens net eenvoudig nie.

Die Ooskaap is die armste provinsie in Suid Afrika en het al die eienskappe wat mens sal verwag van die provinsie met daardie status. 

Frederick & Son


Maar soos ons begin verder ry het van Port Elisabeth af na Port Alfred toe - oor die groen heuwels en verby al die mooi eenvoud van die landskap, besef ek net weer hoe mooi dit hier is. Daar is nog soveel hoop in ons hopeloosheid, soveel kans vir nuut begin, soveel genade vir die klein dingetjies. Suid Afrika is 'n pragtige plek.

Laaste "surf" by Millers


Dis 'n fees om hierdie padrit te kan deel met my man, sonder wie ons nie vreeslik ver sou kon kom nie. Hy is so 'n doener - ons dink nog en wonder hoe en wanneer, dan het hy ons klomp al in die kar en is ons reeds oppad. Met my seun wat in sy jonkheid en onskuld so dapper en sterk is in wie hy word en in wie hy is. Met my dogter wat so 'n kontras is van fyn en klein en dapper en sterk. My hart borrel oor van dankbaarheid vir die ongelooflike voorreg wat ons het om hierdie seisoen te mag hê en te kan geniet.

Port Alfred se wilde see


Ons het gister in Port Alfred aangekom en vertrek weer Vrydag hiervandaan. Die weervoorspelling lyk nie te wonderlik nie, maar ons is opgewonde om ook uiteindelik hier te wees en te gaan kyk na die skone wildsheid wat hier so volop is. Die wind waai nog die hele tyd verskriklik, en die seestrome is sterk en die golwe is groot. Ons het nog nie self gaan branderplankry nie, maar ons stap elke nou en dan see toe om te gaan kyk hoe die ander dit doen.

Massiewe sandduine

Ou "Carpark John" wat ons in Port Elisabeth 'n paar keer raakgeloop het, en na wie 'n bier by die "Beershack" vernoem is - het vir ons mooi verduidelik waar ons moet gaan branders ry. Soos altyd is die beste "surf-spots" naby rotse en waar sterk "rip-currents" is. Dit is egter nie altyd vir ONS kalliber surfer die beste plekke nie, so hy het verduidelik dat ons lekker sal surf by "Middles", wat tussen die "pier" en "Kelly's Beach" is.

Hier is Middles :-)

Vanaand het ons Bathurst toe gegaan en my skoonma se seun, Theuns gaan hallo sê. Hy het gespeel by "The Village Bistro" en toe kry ons sommer 'n lekker kuier, goeie kos en mooi musiek ook saam. Ons sal in die week weer terug gaan Bathurst toe om die groot pynappel te gaan kyk en die oulike winkeltjies en straatjies te gaan verken.

Theuns - aka "Gingi" - (undercover van Gogh :-))


Ons sien uit na die volgende deel van ons avontuur ook wat voorlê vir ons. Ons gaan volgende week opbeweeg in die binneland in en dan gaan ons weer bietjie opgaan plaas toe om uiteindelik weer bietjie in KZN en Gauteng tyd te spandeer saam met vriende en familie.

Dit gaan lekker wees :-)

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf