Week 73 - Terug waar ons begin het...

Maandag het ons gery van die wildsplaas af naby Queenstown, tot by Maclear. Heelpad in die Ooskaap. Die landskap herinner baie aan dele van Kwazulu Natal en het amper bekend gelyk. Ek het myself misgis met waar Maclear is, want my plan was eintlik dat ons die Naudesnek bergpas moet ry, maar die is baie nader aan Rhodes en sou 'n 2-ure ompad vir ons beteken het. Dit is ook lekker want dit beteken dat ons weer moet teruggaan soontoe. :-)



Sonsondergang op die plaas naby Maclear


Ons was lanklaas vir sulke lang tye aaneen in die kar. Die kinders het mooi getrou hulle skoolwerk gedoen en ek het vir ons elke nou en dan voorgelees uit 'n boek wat ek in Bathurst gekoop het. Die boek was nie so lekker boeiend soos "Fiela se Kind" of "Kringe in 'n Bos" nie, so die voorlesing was nie juis suksesvol nie.

Dit was baie hartseer om die dorpies te sien wat so vuil en afgeskeep is, diere wat verwaarloos wei tussen vullishope en brandsiek brakke wat weggejaag word met stokke.

Hartseer prentjies in die Ooskaap


Ons het nie veel verwag van Maclear na die vuil landskappe rondom die dorpies waardeur ons gery het nie, maar ek moet sê dit was glad nie sleg nie. Nie 'n wonderlike dorp nie, maar tog ook nie vuil nie. Ons het in die mooiste airbnb-huisie gebly op 'n plaas net buite die dorp, met uitsigte oor die mooie Amatola-berge. Naby Maclear is 'n waterval - die Tsitsa-waterval en daar het ons ook gou 'n draai gemaak. Daar is 'n backpackers daar naby wat voorheen baie lekker avontuur-aktiwiteite aangebied het, maar die eienaars het deur te veel inbrake oorleef en maar 'n skuif gemaak so 2 jaar terug.

Tsitsa-waterval naby Maclear


Ons het broodjies gemaak en ingepak vir padkos en toe ons in Kokstad kom het ons gesoek vir 'n lekker piekniek-plekkie. Die probleem met hierdie scenario is altyd dat ons net te honger is om ordentelik te soek. Partykeer eindig ons dan oplangs die pad met verkeer wat verbyjaag (nie "great" nie) en dan net soos ons magies se honger gestil is en ons weer pad vat, ry ons dan verby die mooiste piekniek-plek net om die volgende draai. Tot my verbasing trek Pieter toe die keer net eenvoudig die kar by 'n Rooms-katolieke kerk se gronde in en daar staan ons so by die kar rond en eet en drink. Ek het angstig rondgekyk en gewag dat iemand ons beleef kom vra om wegte gaan, maar niemand het ons weggejaag nie en ons kon selfs hulle toilette gebruik (silwerskoon nogal ook!) :-)

Katolieke Kerkie 


Ons volgende slaapplek was in Underberg. Hier het ek en Pieter 15 jaar gelede ons wittebrood spandeer en ek was so opgewonde om terug te wees in die pragtige dorpie. Die dorpie is nie so pragtig soos ek hom onthou het nie, maar die berge is wel. Ons het in so oulike hout-huisie geslaap en die mooiste sonsondergang beleef. Ons het lekker nostalgies geraak oor al die mooi plekke wat ons nou al was en die kosbare tye wat ons al beleef het as gesin en met baie dankbare harte gaan slaap daardie aand.

Die mooiste sonsondergang oor die Drakensberge


Die volgende oggend vroeg het ons broodjies gepak en die volgende deel van die rit aangedurf. Die keer was ons volgende slaapplek Normandien, in Kwazulu Natal. Dit is waar ons padrit begin het op die 26ste April 2018. Oppad soontoe het ons vinnig weer gestop in Howick vir 'n koffie en om ons padkos te eet terwyl ons opgewonde mekaar herinner dat ons al hierdie pad en daardie winkel voorheen al gesien het. Iewers in die middag het ons toe veilig op die plaas aangekom.

Netjiese lanings bome oppad Underberg toe

Ons sirkel is dus nou voltooi. Ons het in April 2018 op die plaas begin, van daar af na Kingsburgh, St Lucia, Mtunzini en Ulundi. Toe is ons deur Barberton, Nelspruit, Swaziland, Graskop, Sabie, Hazyview en tot in die Limpopo-provinsie. Van daar af is ons deur Rustenburg, Mahikeng, Ulco, Witsand, Pofadder, Pella, Kakamas en Keimoes tot in Springbok. Daar is ons op tot in Namibië, deur Alexanderbaai, Port Nolloth, Mcdougallsbaai, Kleinzee en Hondeklipbaai. Toe bly ons in Vredendal, Lambertsbaai, Citrusdal en Sutherland. Toe skiet ons deur tot in Langebaan, bly in Stellenbosch, Kaapstad, Onrus, Riversdale, Mosselbaai, Plettenbergbaai, Jeffreysbaai, Port Elisabeth, Port Alfred, Maclear, Underberg en nou is ons weer terug op die plaas.

Ons was altesaam 2 ure in die Vrystaat, 3 maande in Kwazulu Natal, 2 weke in Mpumalanga, 1 week in Limpopo, 1 week in Noordwes, 2 maande in die Noordkaap, 7 maande in die Weskaap, en 2 en 'n halwe maande in die Ooskaap. Ons het geleer dat ons land beeldskoon is en vol hoop en goeie mense. Ons het verlief geraak op die see en op branderplankry. Ons het die mees kosbaarste tye saam met mekaar en met ons kinders al beleef. Dit kan ons nie verruil vir die wêreld nie.

Die kinders doen hulle skoolwerkies mooi terwyl ons ry :-)


Daar lê nou so week se werk voor in Johannesburg, en dan gaan ons in Oktober in Hibberdene gaan bly. November en Desember gaan ons boeke vat en ons volgende jaar se avontuur beplan. Ons harte trek terug see toe, waar ons verder aan ons branderplank-vaarighede kan werk :-)


Terug in Kwazulu Natal


Ek dink vir die volgende paar weke sal die Sondagaand-whatsapp nie so opwindend wees nie, maar hou maar dop - ons sal; julle op hoogte hou van die volgende episode in ons avontuur!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf