Wat ons aangevang het in 2020

Ek is spyt dat ek nie die hele 2020 deur my weeklikse dagboekinskrywing (aka - blog) gedoen het nie. Nou voel dit soos 'n vergete tydperk in ons lewens. Ek wil graag hierdie post gebruik om bietjie te vertel wat ons aangevang het. 

Nadat ons in Gauteng was vir 'n rukkie en huise opgepas het vir vriende, is ons Ooskaap toe. Natuurlik was dit nie net 'n deurjaag tot daar nie, so ons eerste stop was Bloemfontein. Van daar af is ons Rhodes toe vir so 2 nagte. Rhodes is 'n prentjiemooi dorpie in die berge - hier is 'n youtube video wat ek daarvan gemaak het - ek sal enige dag weer teruggaan soontoe!


Die mooiste dorpie in die berge - Rhodes



Ons het spesiaal in Rhodes gaan bly om die Naudesnek pas te gaan ry - en dit was ABSOLUUT die moeite werd! As jy die pas ry van Rhodes af, dan eindig jy op in Maclear. Ons het mos die laaste keer wat ons in die area was (September 2019) naby Maclear gebly en die Tsitsa waterval gaan kyk daar naby

Tsitsa waterval


Nadat ons inkopies gedoen het in Maclear, is ons reguit deur na Hole in the Wall.

Die Ooskaap is asemrowend. 
Wild. 
Misterieus.

Die rukkie in die ou Transkei was heerlik. Ons was by Hole in the Wall vir 'n hele week in Januarie 2020. Alhoewel die grenspos lankal toe is, is daar 'n duidelike verskil tussen die anderkant van die Kei rivier en hierdiekant van hom.

Die mense wat woon in en om Koffiebaai en Hole in the wall is òf "locals" òf hippies òf mense wat wil geld maak uit die toerisme bedryf. Of altans so lyk dit vir my in die kort tydjie wat ons daar was.
By Hole in the Wall


In Transkei word jy elke dag geroep deur een of ander "local" wat kreef of mossels of vis aan jou wil verkoop. Heerlik en steurend terselftertyd. Met die krag wat af was die eerste paar dae en die selfoontorings wat dan ook nie werk nie, kon ons net sowel iewers diep in Afrika gewees het.

Youtube video - 'n Week in Transkei

Hoogtepunte van Hole in the wall was:
- elke oggend se hardloop by die bult af om te gaan "boogie-board" saam met die kids
-vars seekos om te braai
-lekker grasheuwels om op te sit om die see te bewonder
-die gat in die muur. (Flip dis mooi.)
-snorkelsessies! Ons het 'n lewendige kreef gesien!


Queensberry bay is 'n verassing gewees vir ons! So lekker weggesteekte plekkie naby Oos Londen. Hier moes ek inderhaas ons kliente se employment equity indien met internet konneksie probleme, en ons het onsself gevind in 'n parkeerterrein in Gonubie om dit reg te kry. (Dit was darem nogsteeds nie so erg soos daai eenkeer toe ons in Hondeklipbaai gebly het en moes 80km grondpad jaag tot in Garies om te kan werk nie!)

Youtube video - 'n Week in Queensberry Bay

Daar is sulke mooi rotspoele en swemstrande in en om Queensberry Bay. Een of ander wind het verwoed gewaai en bloublasies by dosyne uitgespoel, so ek was nie te lus om in die water te baljaar nie, maar dit het nie die kinders gekeer nie. (Ek het darem altyd 'n goeie dosis kortisoon en anti-histamine byderhand om hulle in te gee as dinge skeefloop).

Ons het Huberta die seekoei gaan besoek by die Amathole museum en geleer oor die Xhosas onder Sandile en toe was ons by die "Missionary Museum". Lungile het spesiaal saam met ons gery tot daar (van die Amathole museum af tot by die Missionary museum) om vir ons oop te sluit. Dis pragtig, maar is definitief heel onder (of dalk glad nie) op die lysie van dinge wat reggemaak moet word in die munisipaliteit.


Die res van die jaar was ons maar "stuck" in Jeffreysbaai en ek beplan om 'n lekker youtube video te maak oor ons elkeen se "surf-journey". Want dit is basies wat ons gedoen het die hele laasjaar!





Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai