Wie gaan wen?

Baie dinge het die laaste klomp jare verander.


Ek wou byvoorbeeld 20 jaar terug nie trou of kinders hê nie. 

(Dit het nie lank gehou nie.)

Ek en Pieter sou 16 jaar terug nooit kon raai dat ons op 'n padrit deur Suid Afrika sou gaan nie.

Of dat ons soveel lekker dinge hier in ons land kan aanvang nie.

Maar wat ons wel al 16 jaar terug saam gedoen het en van gehou het, was om rots te klim. Ons gunsteling plek om heen te gaan was Waterval Boven. Daar was 'n kamp plek - Elandskrans. Google maps sê hy bestaan nog, maar dit het intussen verander.




Elandskrans was die plek om te wees as dit langnaweek was. Nie so ver om te ry van Johannesburg af nie, en nie te duur om by te kamp nie. En die beste van alles is die wêreld-klas klimroetes. Ietsie vir almal, lekker maklikes vir gewone mense en dan vingers-afkou-benoude roetes vir die anders-as-ons-mense. Soos Gustav Janse van Rensburg wie Roc 'n Rope Adevntures begin in Waterval Boven, by wie se backpackers ons gaan bly het vir so paar dae. Gustav-hulle kan jou op wonderlike avonture vat in die area, maar ons het geweet wat ons daar wil doen. Ons wou klim.

Weens misdaad is Elandskrans nie meer die plek om te wees nie, maar die klimroetes is wel.


As jy nie in die dorp wil slaap by Gustav-hulle nie, dan moet jy maar by Tranquilitas gaan bly. Daar is baie om te doen by Tranquilitas ook (fietsry, staproetes, voêls kyk) maar ons het onsself alleenlik verlustig in die rotsklim. En die lekker swembad vir na-die-tyd se afkoel.

Rotsklim is bietjie soos surfing - dis 'n baie individuele sport. Meeste van wat jy aanvang, is in jou kop. Die groot vraag is - gaan jy laat vrees wen of gaan jy vertroue laat wen? Elke beweging toets jou vrees-vlakke. 

Gaan jy jou "belayer" vertrou? 

Gaan jy jou skoene vertrou om goed te klou? 

Gaan jy die rots waaraan jy klou vertrou?

Dit is seker ook heel gepas om dit met die lewe te vergelyk. Daar is baie dinge wat jy moet doen wanneer jy rotsklim om seker te maak dat jy wel veilig is. Jy moet jou klim-maat se toue en knope nagaan en hy joune. Julle moet mekaar dophou en kommunikeer. Jy moet jou toerusting ken en vertrou. Maar die belangrikste van alles is dat jy nie moet toelaat dat vrees wen nie. Want sodra vrees wen, dan maak dit nie meer saak of jy die veiligste toerusting het en die betroubaarste klim-maatjie nie. Jy gaan misluk. Net so in vandag se lewe moet ons nie toelaat dat vrees ons harte oorheers nie. Ons moet doen wat ons kan om veilig te bly (was jou hande, dra jou masker) maar as jy gaan toelaat dat vrees wen, dan gaan jy jou lewe - jou opwinding en vreugde en optimisme -  verloor.

Die eerste roete wat ons geklim het was "Little Bonsai". Ons vlakke was getoets. Maar ons het die volgende dag en die dag daarna terug gegaan vir nog. En ons het dit BAIE geniet! (gaan kyk ons youtube video - kliek hier.)

Vrees het nie gewen nie.






Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai