Die Pienk Boei
Declan is nou 13.
Hier aangekom in Jbay besef ek dat die volgende paar jaar 'n nuwe tipe avontuur vir ons almal gaan inhou.
Die golfies in die see is maar klein die week hier in die Jbay (soos dit maar is in die somermaande) so daar word branderplank gery - maar nie so baie soos voorheen nie. Dit is ook maar goed vir ons Cloetes, want 2 maande weg van die see af laat jou selfvertroue vlakke in die water maar bietjie daal. (Of dalk "sink" dit eerder in water?)
So gaan sit ons noudiedag - noudat oom Cyril die strande weer oopgemaak het - op die strand vir 'n "sundowner"-tjie, en sommer ook 'n vinnige swem. Die meisies dip net so vinnig in die vlak water, maar die manne besluit om dit dieper in te durf. So hou ek hulle dop - ek en Pieter en Candice sit op die strand en gesels, terwyl Corné, sy seun en Declan swem.
Alhoewel die see nie te rof was nie, was ek onseker of my seun so ver kan swem. 'n Mens verdrink mos gewoonlik in die see omdat jy uitgeput raak, so vertel ek myself toe. So, toe Corné en Rocco uit die see uit kom en Declan se kop soos 'n klein spikkel op die horison al dieper en verder van hierdie mamma af swem, toe begin ek bietjie bekommerd raak.
Ek draf-stap toe so al langs die strand af, terwyl my seemeeu-oog op my seun rus. Ek bid stilletjies in my hart dat die surfers wat naby hom is sal help as dit nodig is, maar sien hoe Declan net verby hulle swem. Skielik sien hy my raak en hy waai vir my - ek wys vir hom die "sharp" teken om te vra of hy nog oraait is. Hy wys hy is nog reg, maar ek stap maar nogsteeds strand-langs om seker te maak, want die volgende deel wat hy aan nader swem is een van die plekke waar ons ingaan as ons gaan surf - so dit beteken dat hy stroom-op daar moet swem.
Ek hou hom nog so dop en dit is vir my baie duidelik dat hy nêrens kom nie. Die stroom is te sterk vir hom, en hy is reg by die mossel-bank-rotse so hy gaan nie net daar kan uitkom nie. My moeder-instink skop in ek ek hardloop strand-op vir die naaste pienk boei, want my logika sê vir my hy is moeg, en as hy net iets byderhand kan hê wat hom sal laat dryf sal dit verdrinking of seerkry heeltemal vermy. Teen die tyd gee ek nie meer om dat my handdoek afgeskuif het en almal my boude sien uitsteek by my swembroek nie. Ek laat val my handdoek net daar en hardloop oor die rotse sodat ek naby genoeg kan kom om die pienk boei vir my seun te gooi.
In my gedagtes sien ek klaar hoe moeg hy is en hoe benoud hy moet voel so diep in die see sonder enige iets of iemand om hom te help nie. Wat as sy voet nou begin kramp? Wat as die stroom net te sterk word vir hom, of daar kom nou 'n groot golf en slaan hom in die rotse vas?
Dan draai hy om in die water en hy maak oogkontak met my en skree (sodat ek hom kan hoor):
"Bêre daai ding ma, dis embarrassing!"
Opmerkings