Mamelodi, braai en boeremusiek

Ek en my geliefdes slaap vanaand in Mamelodi. 


Ons het 15h30 saam met Kelina, of Sonto soos sy hier genoem word, na die busstop toe gestap by die biblioteek hier naby ons huis in die hoofsaaklike wit afrikaanse buurt van Constantiapark. Ons het gewag vir die taxi om ons te kom optel. Elkeen kon net een sak goed saamneem, want anders moet ons betaal vir 2 sitplekke in die taxi per persoon met te veel bagasie. As 'n taxi met 'n "menlyn" sticker stop, sal hy ons R12 vra om ons net tot by Menlyn mall te vat (3km van ons huis af). Ons klim toe in een sonder 'n sticker en die goedhartige taxi man vra ons toe niks nie.







Dis vreemd om binne in die voertuig te sit wat ons so dikwels vervloek vir sy padvark-geaardheid. Heel gemaklik swiep ons deur die verkeer en bereik moeiteloos ons bestemming.

By menlyn mall gekom is daar ewe skielik orde in my gewone ervaring van wanorde daar waar die taxi's saamdrom langs die mall. Daar is 'n man wat mooi verduidelik (nie in 'n taal wat ek verstaan nie) waar ons moet staan en watter taxi ry waarheen. Op 'n stadium klim ons in een taxi maar daar is nie genoeg plek vir al 5 van ons nie, dus klim ons toe maar weer uit en die taxi is fort sonder ons. Toe weet die man van orde dat ons 5 graag saam op die "straight line" na Mamelodi toe wil gaan en hy begin dinge so reël vir ons. Die volgende oomblik beduie hy toe vir ons na 'n ander taxi toe en ons begin daar in te klim. Ewe skielik skree iemand vir (of dalk op) ons "mafias, mafias". Dit is duidelik uit watookal hulle besig is om te sê dat ons nie in daardie taxi moet klim nie en ewe gedwee klim ons toe maar weer uit en gaan staan weer in 'n ander ry. Ek dog toe by myself dis dalk 'n skelwoord en dit is dalk omdat ons wit is en hulle nie ons wil help nie.

Uiteindelik help die man van orde ons en is ons toe in 'n ander taxi. Vriendelike passasiers reg rondom help ons deur tasse en sakke en die koek wat spesiaal gebak is vir "gogo" (ouma) aan te gee oor die sitplekke. Nou is ons oppad Mamelodi toe en geld word aangestuur van almal af na die gelukkige passasier wat langs die taxi bestuurder beland het. Hy word sommer vanselfsprekend vertrou om die taxi man se geld in te neem. Ons stuur ook ons geld vorentoe. Die rit kos R14 per persoon tot in Mamelodi. Sodra almal betaal het, word kleingeld weer aangestuur tot agter in die minibus. Na 'n ruk is daar 'n "commotion" agter in die bus en ek besef die passasiers is bekommerd dat ons nie die regte kleingeld gekry het nie. Hulle maak ons somme saam met ons en lyk verlig om te sien ons is nie ingedoen nie.


Die blerrie foon lui en 'n kliënt wil met my oor iets praat. Hoe harder ek praat, hoe harder draai die taxi bestuurder die township-musiek. My kliënt vra naderhand of ek oppad is na 'n kersfees partytjie en ek sê toe ja ek is. Sy knip haar gesprek toe darem kort na dit en stuur eerder vir my 'n epos.

Ons ry verby verskeie buurte. Party herken ek en ander glad nie. Dan is daar 'n buurt aan die linkerkant en Sonto sê dis "Mafias". Die bordjie sê egter dis "Nelmapius". Ek besef toe niemand was kwaad vir ons by Menlyn nie, daardie taxi was net oppad na die spesifieke buurt toe en sou nie ver genoeg vir ons ry nie.





Ons kom toe by ons stop plek en iemand roep van agter af "after robot". Ons klim ook daar af en weer is almal heel behulpsaam om ons af te kry. Pieter vergeet sy selfoon op die sitplek en iemand tel dit op en gee dit vir my aan.

Ons stap so paar 100m af in die pad tot by Gogo se huis. Ons word omtrent verwelkom en die bure se kinders kom almal speel met die wit kinders. Die kinders word sorgvry winkel toe gestuur so 2 of 3 keer om goed te gaan koop en naderhand speel hulle vreesloos in die strate saam met die ander kinders. Daar is kinders tussen die ouderdomme van 2 en 12 en nie een keer hoor ek hulle baklei nie. Vir eens is my kinders se normale gekerm oor onregverdigheid doodstil en hulle speel mooi saam. Toe hulle bietjie moeg rondgehardloop is, kom hulle in (die buurt se kinders ook) en kyk tv. My kinders voel of hulle in die hemel is want ons het nie 'n tv by die huis nie. 
Dis 'n baksteenhuis wat nie heeltemal klaar gebou is nie, en daar is net 'n buitekraan. Water word dus aangedra in skottels vir die huishoudelike gebruik. Daar is darem 'n badkamer, maar die krane is nie baie mooi ingesit nie en daar is nie warm water nie. Die bad is ook per ongeluk verkeerdom ingesit, so die luuksheid van lê in die bad word versper deur 'n kraan.



Pieter steek die vuur aan in die splinternuwe braai. Gogo wys ons dat hulle gewoonlik op die grond langs die muur vuurmaak vir braai. Die swart merke sit nogsteeds teen die muur. Hulle het ook charcoal gekoop en firelighters en meel vir pap en uie en tamaties vir sous en ons het vleis en koeldrank gebring.

Ek word geroep kombuis toe waar ek gesê word om pap te maak. Ek weet nie of hulle lekker kry deur die witvrou aan die werk te steek of wat nie, maar sien toe dis eerder 'n teken van samehorigheid. Dis maar wat die vrouens doen en hulle geniet dit duidelik. Niemand moun of kla oor hierdie tipe werk nie.



Terwyl die pap gaar word en die vleis gebraai word, kom gesels Nokuthula met my. Sy sê hulle is vry hier waar hulle bly. Ons suburbians is nie. Ons bly in 'n hok waaruit ons nie die wêreld kan sien nie. Ons sien net ons eie suburbian lewe en hulle sien ons wêreld en hulle s'n. Ek lê nog tot laat en dink aan wat sy gesê het en besef hoe ironies dit is dat daar iets nadelig is aan ons "white privilege".



Sonto se nefie kom daar aan met sy blink kar. Hy is baie opgewonde om ons te sien en praat vlot afrikaans met Pieter. Hy vertel ons van wit mense wat in die deel van Mamelodi bly waar sy huis is - 'n ene Koos van Wyk. Hy sê hy ignoreer jou flat as jy afrikaans met hom praat, maar zulu of sotho praat hy graag en hy luister as jy hom roep. Hy het sy naam ook verander in Sipho, en sê dat "Koos" sy pa is.

Martin gesels lekker en sit sy kar aan sodat ons musiek kan luister. "Jakkals trou met wolf se vrou" speel en hy sing lekker saam!


Gogo kom sit ook en gesels saam met ons buite waar die manne braai. Sy vertel van 'n man en vrou wat poedelnakend 3uur in die more baklei het omdat die vrou baie geld het. Die man het haar toe net so doodgesteek en nou het sy kinders nie meer 'n ma nie.

So kuier ons tot laat. Ons eet onsself trommeldik, sing vir Gogo "happy birthday" en eet koek. Andile is die jongste grootmens in die huis, maar sy is 'n regte moedertjie vir al die kinders. Toe my kinders moeg is, toe tap sy water in die bad en dra kookwater aan vir warm water. My kinders bad, die buurt se kinders (wat almal lekker saamgeëet het) word na hulle huise toe gestuur en die huis word rustig en stil. 


Die grootmense besef hoe moeg hulle is en ons almal was en sê vir mekaar nag. Togo en Nokuthula het intussen al die skottelgoed gewas, die kos gebêre en die vloere skoongemaak. Nokuthula dring daarop aan dat ons in haar buitekamer met die dubbelbed moet slaap en almal praat lank in zoeloe oor hoe slim ons is dat ons slaapsakke ingepak het en dat ons nie omgee om vir ons kinders op die vloer 'n bed te maak nie.

Ons is pootuit toe ons in die bed klim, maar die pap voel soos 'n groot klip in my maag en ek lê lank en rondrol voor ek ook uiteindelik aan die slaap raak. Die geluide van mense wat lag en kuier en musiek speel gaan aan tot in die vroeë oggendure.




Vieruur staan ons op en was by die buitekraan. Ons kinders sukkel om wakker te word, dis 2 ure vroeër as gewoonlik! Ons gaan by die huis in en Gogo bid eers vir ons voor ons groet. Sy bied vir ons tee aan, maar Kelina sê needankie want Gogo het nie melk nie. Ek weet dit is nie omdat sy wil melk hê in haar tee nie..

Ons stap heelwat verder na die taxi as waar ons afgelaai is die vorige dag, maar daar gekom is daar heelwat meer bekende gesigte want almal wat Constantiapark toe gaan, staan bymekaar. Almal is vriendelik en verras oor die witmense wat oorgeslaap het in hulle township.

Die rit huistoe is asof die taxi drywer ons die extremes wil laat ervaar van taxiry. Hy jaag teen aankomende verkeer op, druk in voor enige iemand en stop net waar hy wil, wanneer hy wil.

Ons kom darem veilig aan in ons buurt en toe ons uitklim wens al die pasassiers mekaar geseënde kersfees en nuwejaar toe.

By ons huis gekom gesels ons oor ons Mamelodi avontuur en geniet die gemaklikheid van ons krane met warm en koue water in, en tee met melk.

Ek gesels met my kinders oor hulle ervaring en Declan besluit ons moet summier begin om deur die hele Suid Afrika te toer. Nee, sê hy.. die hele Afrika! Of nee wag, die hele WERELD!!
Charma kondig net die volgende oggend aan dat as sy eendag groot is, gaan sy 'n zoeloe meisie word. En dan gaan sy in zoeloeland gaan bly.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai