Die Uitdaging van 'n berg

Iewers in die jaar het dit by my opgekom dat ek 'n paar berge in my lewe moet oorkom.


Suikerbosrand
Ek is mal oor berge.
Ek het nog altyd berge verkies bo die see.
En dit is vir my so 'n mooi prentjie van hoe ons uitdagings in die lewe maar is.

Wanneer jy begin om in die berg se rigting in te stap, dan is die wêreld gewoonlik plat.

Almal kan nog lawwe grappies maak en die natuurskoon geniet. Daar word gelag en gesels en die opwinding is nog groot. Jy kan maklik voor jou uitkyk en ver sien, jou oog op die einbestemming hou.

Maar soos dit bietjie meer steil raak, raak die opwinding minder. Ons lag nie meer so baie nie.

Ek kry minder woorde gesê, sodat ek my asem kan spaar. En ek verloor my sin vir humor omtrent heeltemal.

Op Madeira


Bewaar die arme kind se siel wat my durf waag vra om ietsie te dra... of nog erger... om haar te dra.
Al my vrugte van die Gees val net daar en dan af en vrot so dat almal wat na my kom ook daaroor gly en val.

En ek vergeet heeltemal om op te kyk.
Na waar ek heen oppad is.

Deels omdat dit lyk of ek NOOIT daar gaan uitkom nie, en deels omdat ek te moeg is om my kop op te tel.

My tree is aansienlik kleiner.

Ek hyg aansienlik meer na my asem.

En dan, op 'n stadium onthou ek om op te kyk, en dan kyk ek terug en sien hoe ver ek gekom het.

Kyk van bo af op Madeira


En aan die een kant gee dit my hoop om verder te gaan... maar aan die ander kant ook 'n rede om op te hou net hier waar ek is, want it is so mooi hier...

Maar dan hou ek aan, en die laaste stuk is absoluut die moeilikste.

Los klippe, doringtakke, kinders wat huil en bang is.

Vrees skop in en verlam ons.

En dan is ons bo.

En bo is dit plat.

En bo kan ons alles sien tot daar doer onder.


Bo-op die berg by Moorfield


Maar, dan is die volgende uitdaging, om af te gaan.

Die opstap het ons geleer van los klippe en gladde paadjies.

Vrees skop weer van voor af in vir die terug-gaan.


Oppad af van Majuba af


En wanneer ons uiteindelik weer onder is. Kan ons nooit weer op dieselfde manier kyk na die berg daar doer in die verte nie.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai