Week 72 - Port Alfred en die wildsplaas

Toe ons laasweek Saterdag in Port Alfred aangekom het, was die see ontstuimig.

'n Stappie langs die strand


Die weervoorspelling het gewys dat die wind baie gaan waai en dat dit net Dinsdag mooi genoeg gaan wees vir branderplankry. Dit was heeltemal waar.

Dinsdag was "surf'-dag


Dit is asof die see al wilder word hoe hoër ons opbeweeg langs die kus. Daar waar die Kowie rivier in die see inloop, het hulle twee piers gebou as ingang in die klein hawetjie waar die bote veilig kan lê.  Die mensgemaakte stellasie maak egter 'n baie lekker golf wat die branderplankryers lekker ver kan ry op goeie dae.

Sonsopkoms in Port Alfred


Maandagmiddag het ons gou na werk na die Boesmansrivier toe gery. Oral langs die kus is daar rivere wat in die see invloei, en die riviere het dan ook hoog- en laagwater soos die see. Met hoogwater styg al die "jettys" voor die huise waar die bote vasgemeer is op, en met laagwater gaan lê hulle weer in die modder. By omtrent al hierdie riviere het dorpies ontwikkel, en dieselfde het gebeur by die Boesmansrivier. Ons het eintlik net gaan hallo sê vir 'n maatjie van 'n maatjie wie nou die eienaar is van die "Bushmans Pub & Grill" - 'n mooi restaurant wat uitkyk oor die rivier en die see.

Net bokant die Boesmansrivier


Dinsdag was branderplankrydag, maar selfs op hierdie "goeie" dag het ek nie kans gesien vir die wilde see nie. Dis jammer as mens alles inpak om te gaan branderplankry en dan doen jy dit nie. Ons het aan die westelike pier se kant gebly en die lekker branderplankry plek is aan die oostelike pier se kant.

Port Alfred


Die meeste branderplankryers swem sommer oor die Kowierivier om by die ander kant te kom, maar ons het maar nie die kans gewaag nie - ons het eerder maar net omgery. Terwyl die kinders en Pieter gespeel het in die water, het ek lekker gestap op die strand en fotos geneem.

By die grootste pynappel in die wêreld


Woensdag het ons die pad gevat en bietjie opgery Grahamstad toe, deur Bathurst en terug deur Salem en Kenton. Die Britse Setlaars het hulle merk duidelik gelaat in hierdie wereld en ek bewonder hulle vir hoe hulle erfenis nogsteeds staan. Die koperplaatjies wat afgesteel word, word vervang met uitgekapte klip en die ou geskiedenis word vermeng met nuwe geskiedenis en hulle maak die Xhosas se storie deel van die Britse storie. Dit is baie slim om nogsteeds relevant te bly in 'n tyd wat mens eintlik verwag dat sekere geskiedenis net uitgewis moet word.

By die Toposkoop in Bathurst wat aandui waar die Britse Setlaars se plase was (en ook waar die Xhosa-hoofde se grond was)


Ek geniet nogsteeds die ou geskiedkundige plekke baie. Ou kerke, museums en geboue roer my hart. My gesin is egter nie meer so entoesiasties daaroor nie. Die kinders klim partymaal nie eers meer uit die kar uit as ons stop by nog 'n ou kerkie nie. Ek dink dis seker verstaanbaar, veral as jy in ag neem dat hulle nou al keelvol is van meer as 'n jaar lank daarvan. Die gewone kind van hulle ouderdom het nog nie naastenby so baie museums en geskiedkundige plekke gesien soos hulle in hierdie laaste 17 maande al gesien het nie. So ek waardeer die goue oomblikke wat hulle my gun om gou te gaan inloer by nog 'n museum, of vir hulle 'n storie te lees van iets wat gebeur het lank terug. (Hulle hou darem nogsteeds van stories!)

Salem se krieketveld en kerkie


Een so storie is die een van die dorpie Salem, waar die Xhosas gedurende een van die grens-oorloë van plan was om die dorpie aan te val en hoe een man  - ongewapend - na hulle toe gery het en die Xhosa weermag oorreed het om nie dit te doen nie. Wat ook vir my mooi is, is die kerkies in Bathurst en in Salem waar die mense kon skuiling vind gedurende sulke aanvalle en dat die plekke nogsteeds staan.

Die Anglikaanse katedraal in Grahamstad


Grahamstad was vir my verbasend mooi skoon, en die Anglikaanse kerk was 'n hoogtepunt. Die Anglikane het darem maar die mooiste katedrale gebou in ons land.

Die Anglikaanse Katedraal in Grahamstad


Donderdag het ons toe 'n lekker voldag se werk en skool gehad om te doen, en toe is dit weer tyd vir die groot oppak om Vrydag-oggend die pad aan te durf na ons volgende stop.


'n Bietjie lawwe spelery tussen werkery

Vrydagoggend het ons vroeg opgestaan, gepak en pad gevat. Ons het 'n hele entjie gehad om te ry en wou nog graag in Hogsback stop en rondkyk. Die kinders moes maar so in die ry hulle skoolwerk probeer doen, en ons was dankbaar vir 'n lekker snoesige kar want dit was maar bitter koud gewees.

By die Butterfly Bistro in Hogsback


Hogsback is pragtig. Ons het 'n lekker ontby geëet by "The Butterfly Bistro" en toe stap ons bietjie rond. Daar was 3 watervalle op my lysie om te gaan kyk, maar toe Pieter die bordjie sien wat sê "Don't leave any valuables in the car", toe sit hy maar en pas die kar op terwyl ek en die kinders die "Madonna & Child" watervalpaadjie stap. Die tweede waterval was die "Kettlespout"... waarby ons nie uitgekom het nie, want die bordjie het gewys dat karre nie daar mag inry nie, en die derde een ("39 Steps") het net ek en Charma gaan soek, terwyl die 2 manne by die kar gebly het. Ons sal maar eendag weer moet teruggaan soontoe.

Madonna & Child waterval


Charma het in Meimaand-toe ons in Plettenbergbaai gebly het - 'n maatjie gemaak op die strand. Hulle twee het dadelik gekliek, en toe ons twee mamma's mekaar uiteindelik ontmoet nooi Lizelle ons sommer dadelik om by hulle te kom kuier op hulle wildsplaas naby Queenstown. Dit is nou die eerste keer in 'n lang ruk dat ons volgende basis nie by die see gaan wees nie, maar enige negatiewe gevoelens is sommer gou weggetoor deur die skoonheid van die plaas, en die gasvryheid van hierdie juwele van nuwe vriende wat ons gemaak het.

Declan met sy eerste bok!


Garry is 'n vreeslike interessante man. Hy het 'n ongelooflike kennis van die veld en van diere. Hy benader sy boerdery met 'n baie interessante metode en veral sy uitkyk oor roofdier-bestryding is interessant. Hy het 'n baie suksesvolle wildsplaas opgebou in Venterstad en wil nou dieselfde op hierdie plaas doen. Hy was die eerste wildsboer wat bastergemsbokke in die Ooskaap ingebring het. Dit is vir my een van die lekkerste dinge op aarde om te sit en te luister hoe iemand praat oor iets waaroor hy / sy baie entoesiasties is. Garry is so mens.



Declan was natuurlik in sy element, want Garry het hom gevat om sy eerste bokkie te skiet. Selfs met die bokkoors en groot opwinding, kry Declan dit toe baie mooi reg, en Garry smeer sy gesig toe vol bloed en gee vir hom 'n stukkie lewer om te eet! Hy kan gelukkig wees, want Garry sê sy pa het sommer laat hulle as seuns hulle hele kop in die bok se (skoongemaakte) lyf insteek!

'n Lekker piekniek op die berg


Charma en Lynca het nog nie vir een oomblik opgehou speel nie. Hulle kom net huistoe as hulle honger word en elke aand nog lyk hulle soos nuwe mense as hulle klaar gebad het. Hulle speel hulleself moeg en vuil en dit is heerlik om hulle so te sien.



More gaan 'n swaar afskeid wees as ons aanbeweeg Maclear toe, van daar af Underberg, en dan uiteindelik weer bietjie na my skoonpa se plaas toe op Normandien.

Opmerkings

Charne het gesê …
Klink na 'n fees en hoe wonderlik om nuwe (kwaliteit) vriende ook te maak! Ek hoop daai bokkie word biltong?
Rut Cloete het gesê …
Ja absoluut 'n groot voorreg om sulke kwaliteit mense te kan ontmoet! Die bokkie word biltong, maar ongelukkig het ons net by die braai die aand aan haar gesmul - geen plek in die kar vir vleis nie :-(

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Kersfees-koekies!

Week 58 - Oppad na Jeffreysbaai