(Week 16 in Afrikaans) - Terug op die plaas

Vir die eerste keer in 16 weke het ons 'n redelike "normale" week gehad. Ons is weer hier op die plaas uitgespan, en dit voel amper of ons 'n breek het van ons toer. (Nie dat ons dit nodig het nie!) 

Ek het die week lekker tyd gehad om skool te gee en bietjie op te vang waar nodig. Dit lyk in die nuus asof ons regering wil stywer beheer neem oor die tuisskolers ook en ek is 2 keer gekontak deur die departement van onderwys vir dokumente wat blykbaar nie ontvang is deur hulle toe ek geregistreer het as tuisskoler nie (alhoewel my applikasie volledig was).

My liefste dogtertjie se oorbelletjies wat sy vir haar verjaardag gekry het se stoppertjie het binne in haar een oor vasgesit. Dit het my amper 2 weke geneem om agter te kom... ek dog net dis snaaks dat die oorbelletjie so vassit... eers toe ek uiteindelik die oorbelletjie uit het toe besef ek die rubber stoppertjie is wat hom so vasgehou het... Dit moes toe natuurlik ook uit en na 'n paar dae lank se gespook om dit self uit te kry, volg ek maar die goeie raad wat uitgedeel is en vat haar dokter toe. Hy spuit die oortjie toe dood en druk hom net uit! Wat 'n verligting!

Die kinders het ook die geleentheid gehad om met die beeste te werk hier op die plaas. Dit was immers hoekom Pieter wou terugkom; om te help met die beeste.


Ek het my kans waargeneem terwyl die res van die huishouding besig was met die beeste, om my e-posse van die laaste 4 maande op datum te probeer kry...(ek was nie heeltemal suksesvol nie). 

Die beeste moes in die kraal gejaag word, in die drukgang in, en een vir een gespuit, horings afgeknip en gebrandmerk word. 'n Bloederige, vuil spul. Die kinders het dit baie geniet.


Verder beplan ons lekker aan ons volgende paar weke se toer: Dit gaan 'n lekker vinnige trippie wees deur Mpumalanga en Limpopo, en dan reguit deur tot by Springbok waar ons sal wees vir die hele September maand.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai