(Week 17 in Afrikaans) - uiteindelik in Mpumalanga

Die hele Zululand vol en waarookal ons Zulu huisies langs die pad gesien het, het ons opgemerk dat hulle reghoekige huise bou. In elke erf is daar egter ook een ronde huisie. 

Ons wonder lank al hieroor. Selfs die ryker zulu huise in Ulundi en Eshowe en Nongoma wat in die "tuscan styl" gebou is met pragtige staal hekke en fancy plaveisel... het elke keer een ronde hut / rondavel iewers in die erf. Ek het toe my skoonma se huishulp gevra wat die huisie se doel is en sy het gesê dit is waar hulle tot hulle voorvaders bid. Dit was vir ons baie interessant.

Die pakkery begin ons bietjie onderkry.. na baie gesels en beplan en WEER uitsorteer en regpak het ons die week op die plaas ons 6 kleresakke verminder na net 4 sakke klere... die 6 badsakkies (ja, ek weet dit is verskriklik) na net 2 badsakkies... die 13 kratte verminder na 6 kratte en ALLES in en op die kar gekry!! Ons het die sleepwa op die plaas gelos!


Dit voel soos 'n droom.
Ons sien nou sommer kans vir meer agterpaaie en kort oornag-stoppies vir die res van ons toer.
Ons is donderdag oggend weg by die plaas (sonder die sleepwa!!) en is uiteindelik - na 3 maande-  oor die grens van KZN na Mpumalanga. Ons het vriende ontmoet net buite Barberton en die langnaweek lekker saam met hulle gekuier. 


Barberton is 'n pragtige klein dorpie wat nog baie ou geboue het uit die 1880's. Ons het vrydag die mooi uitgemerkte "heritage walk" gedoen wat ons 'n roete geloop het op en af teen die heuwels oor die strate om ou geboue en plekkies te bekyk. 

Dit was heerlik. Die weer was perfek; 'n lekker bewolkte dag en goeie geselskap het die dag een gemaak om huistoe oor te whatsapp. 

My hoogtepunt was 'n random storie wat ek gelees het in ons boek "Op Pad in Suid Afrika" van die duitsgebore Conrad Frederick Genal wat uit die franse vreemdelegioen gedros het - hy het sy skip in die Suezkanaal verlaat en van Egipte tot in Suid Afrika GELOOP! Oppad het hy sy geld verdien deur muurpanele te verf en een so muurpaneel is in 'n ou gebou in Barberton oorkant die Cockney Liz hotel.

Saterdag het ons ekstra vroeg opgestaan om vroeg te kan inkom by Josefsdal se grenspos om te gaan kyk hoe Swaziland lyk. Iewers het ons raakgelees van 'n spookdorp aan SA se kant op hierdie pad en ons het hom gaan soek. Die pad soontoe is asemrowend mooi. Daar is nou so "geotrail" wat mens kan ry om die verskillende soorte rotse en rotsvormasies rondom Barberton te sien. 


Die kronkelende bergpaadjies het ons geneem na Msauli - die spookdorpie. Dit was so vreemd om 'n hele dorp te sien wat leeggeloop het. Dit was 'n asbesmyn wat weens wetgewing moes toemaak vroeg in die 2000's. 

Ons het heeltemal verlore geraak in ons gedagtewereld oor die dorp en die mense wat eens op 'n tyd daar gebly het. 

Ons het toe eers 11uur op die grenspos aangekom! Daar was nog 'n verlate myn by Bulembu, die grenspos aan Swaziland se kant. Daar het ons die museum besoek en bietjie geleer van die myn se heydays. Daar was 'n kabelkarretjie wat die asbes van die myn af 20km vervoer het tot op Barberton se treinstasie! 


Ons het verder gery tot by die Piggs Peak hotel, ietsie geëet en net betyds by die Jeppes Reef grenspos gekom.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai