(Week 18 in Afrikaans) - In Nelspruit

Ons het heeltemal te lank in KZN gebly. Dit en die feit dat ons al maande terug ons maand in Springbok bespreek en betaal het, maak dat ons baie min tyd in Mpumalanga en Limpopo het. Daar lê vir ons 2000km voor om van bo in Limpopo tot in Springbok te kom aan die einde van die maand en ons wil dit nie in een dag ry nie.

Ons lysie van goed wat ons hier wil doen is eintlik lank, maar ons het hom gebêre en 'n verkorte weergawe aanmekaar gesit omdat ons so min tyd hier het.

Ons tydjie in Marloth Park was heerlik. 

Mens hoef amper nie eers in die Kruger wildtuin in te ry om diere te gaan sien nie, jy kan net daar rondom jou huisie bly dan kom die diere na jou toe. Vlakvarke en blouwildebeeste het ons by die voordeur ingewag in die oggend en die diere was bly as ons in die aand 'n lekker vuurtjie maak om gesellig by hulle te sit en kuier.


Die wildtuin was ook heerlik. Die koerant artikels wat gewaarsku het dat mens moet bespreek om in te gaan by die hekke en dat mense weg gewys word as hulle laat kom was darem al ou nuus, want gewone mense is huistoe na die langnaweek en net sekeres het die voorreg om rond te rits op 'n weeksdag.


Die diere was volop en ons siele is verkwik deur die aanskou van die natuurskoon. By een piekniek plek het 'n rooikol muskeljaatkat vir ons uit 'n boom geloer en die rooibek kakelaars het kom kyk wat ons ingepak het vir middagete. Die witliesbosbontrokkie het pragtig vir ons gesing en ek dink iemand moet 'n simfonie skryf op die tema van die bosmusikant se liedjie.
Ek het Jock of the bushveld afgelaai om te lees op my foon en kon myself so lekker inleef in die stories soos ons deur die plekke gery het waar hy was.
Dinsdag het ons Nelspruit toe gekom en vroeg Woensdagoggend is ek met die citybug Pretoria toe om te gaan werk aan 'n projek by 'n maatskappy. Dit was baie vreemd om so in ons ou bekende wêreld rond te ry en ek het weer net besef hoe ongelooflik groot die voorreg is dat ons hierdie toer kan doen.
Vrydagaand laat is ek weer terug en my lyf was seer van die paar dae se kantoorwerk...

Gister het ons vinnig bietjie gaan rondloop... Op die N4 waar mens afdraai na die Schoemanskloofpad, is die Montrose waterval. 


As jy daar stilhou en uit die kar klim kan jy die waterval hoor, maar jy kan hom glad nie sien nie. Die waterval sit omtrent onder die snelweg en die enigste plek wat lyk of daar 'n paadjie kan wees soontoe is omhein want dis 'n besigheidsperseel. 'n Vriendelike sekuriteitswag het vir ons die hek oopgemaak en die paadjie vir ons gewys na 'n plek waar jy die waterval mooi kan sien. (Dit nadat ons bietjie "bundu-bashing" probeer het om self daar te kom... dit het nie so goed uitgewerk nie).

Daarna het ons na die Sudwala grotte gaan kyk.
Hierdie rots klink soos 'n musiek instrument en was gebruik om gevaar aan te kondig

 Die Swazis het hier weggekruip wanneer die Zulus hulle kom aanval het en selfs as die Zulus vure maak voor die grot opening om hulle uit te rook, het die Swazis nie uitgekom nie. As die ligte in die grot afgeskakel word is dit pikdonker, jy kan nie eers jou eie hand voor jou oë sien nie, hoe dan nog iemand anders sien. Dit het dit 'n baie goeie wegkruipplek gemaak vir die Swazis. Dit was 'n ongelooflike ervaring om so rond te loop daar binne en die toergids was baie goed gewees met al sy verduidelikings en interessante stories.


In ons boek het ons gelees van 'n groot sonwyser voor die stadsaal van Nelspruit in die vorm van 'n ossewa wiel as herdenking aan Louis Trichardt en die groot trek. Ons wou graag dit sien, maar ons gps en google maps kon nêrens 'n stadsaal kry nie. Google vertel toe vir my dat die ou stadsaal nou die huidige Promemade hotel is. Ons ry toe na die mooi hotel en wraggies staan die ou ossewa wiel daar. 

Hierdie was die ou stadsaal van Nelspruit


Ongelukkig is die wiel baie beskadig en dit word deur voetgangers as 'n toilet gebruik... ons het nie lank daar vertoef nie..

Vandag was daar net een ding op ons lysie om te gaan besoek, en dit was die botaniese tuine. Dit raak nou baie moeilik om te besluit watter een vir ons sover die mooiste is van die 3 waar ons nou al was (Pretoria, Pietermaritzburg en Nelspruit). Die een hier in die laeveld het 2 watervalle, die krokodilwaterval en die nelsrivier waterval. Dan is daar nog die afrika reënwoud wat jy deur stap op 'n houtbrug paadjie en die belifte dat jy seekoeie kan raakloop... dit was regtig beeldskoon.


More oggend gaan ons vertrek en kyk hoeveel watervalle ons kan sien oppad na Letsitele. Hopelik kry ek so paar hoofstukke vir die kinder gelees van Jock voor ons sy wêreld verlaat.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai