Week 23 - In Afrikaans (Laaste-laaste week in Springbok)

Oumense is die beste mense.
Hulle het tyd vir nog 'n koppie tee en 'n vinnige geselsie. Tyd vir nog 'n drukkie en nog 'n keer dankie sê. Hulle jaag nie na die volgende vergadering of byeenkoms nie en is regtig baie bly om jou te sien of te ontmoet of dalk weer te sien. Hulle is in die vertreksaal en geniet die tydjie wat hulle nog hier by ons het en sien ook uit na die nuwe lewe wat voorlê.
Dit is wat die week vir my uitgestaan het.

Declan het elke middag met sy maatjie sokker gespeel, hulle was skoon hartseer toe hulle mekaar gegroet het

Die tannie wie se huisie ons huur in Springbok het kom inloer en verskoning gevra dat sy nie al lankal kom tee drink het nie. Sy het alreeds 2 keer sommer uit haar eie vir Charma by haar laat speel en rustig met haar tyd spandeer. Sy het kom vra hoe dit gaan en of ons darem 'n lekker maand gehad het. Sy het vertel haar kleinseun is gebore en hulle gaan bietjie vir hom gaan kuier en dat sy nie hier gaan wees as ons ry nie so ons kan net die sleutel los by haar bediende. Sy het vertel van die Here se genade en hoe goed Hy vir hulle is.


Toe, later die week, stap ons bietjie in die dorp rond vir lekkerte en toe ons terugkom is 'n ander ouer tannie besig by haar voordeur en sy knoop 'n geselsie aan met ons. Sy nooi ons vir tee en Saterdag maak ons die tyd toe vas vir 3 uur. Sy het vir ons beskuit gebak en heerlik met ons gesels. Hulle het 'n plaas gehad hier bo in Namakwaland en een onder in die Sandveld. Die lekker ding van die sandveld is dat dit winter en somer reën kry. So hulle het op 'n stadium agter weiveld aangetrek tussen die 2 plase met hulle karakoel skape. Eers in tente gebly en later huise gebou op altwee en so volgens die weiding in die een of die ander huis op die plase gebly.

Haar man is nou al 5 jaar gelede tot op die dag oorlede en sy sê sy onthou net die goeie dinge. Sy het ook vertel van hoe dankbaar sy is en hoe die Here alles in Sy hand hou en vir ons sorg.
Sy is hierdie jaar 87 en sy vergeet elke nou en dan, hier en daar 'n woordjie of wat en dan kry sy vreeslik skaam as sy so sukkel, maar haar hart is vol liefde en omgee.

Die kinders het lekker maatjies gemaak met al die kinders hier rondom ons. Hulle speel so van huis tot huis en het hulle eie paadjies oor die lae muurtjies tussen die huise. Dit word eers na 7 regtig donker in die aand so hulle speel tot baie laat in die aande. Dis so 'n lekker ou dorp hierdie met vriendelike mense. Ons het nie een keer onveilig gevoel hierdie hele maand wat ons hier was nie.
Gister het ek en Declan die parkrun gedoen en daar was 14 mense (ons ingesluit). Declan het 2de gekom met 26 minute en ek was 8ste. Dit was so lekker. Almal wat verbyloop of hardloop groet jou, selfs al vat jy hulle ook weer verby.

Vanoggend is ons kerk toe en ons besluit toe op die "happy-clappy" kerk want hy is langs die mooi ou sinagoge wat ons laaskeer besoek het. Die pastoor praat toe oor die gawes van die Gees en soos dit maar is in charismatiese kerke, lei hy die gemeente toe in gebed en spoor ons ook aan om in tale te bid of vir mekaar te bid en die gawes te beoefen. Op die stilste oomblik - toe almal opstaan om hulleself beskikbaar te stel vir diens aan die Here, gaan my foon sommer op sy eie aan en my "learn zulu" app sê kliphard vir die hele gemeente "*Hello!!!.... Sawubona!!!*"

Vir middagete het ons by die Springbok lodge geëet en Pieter het vir my 'n boek gekoop vir my verjaardag (Springbok lodge het die coolste boekwinkel!). Na 'n lekker lang middagslapie is ek en Charma berg-op tot waar die klippe gepak is wat "SPRINGBOK" spel. Dit was 'n lekker afsluiting vir 'n heerlike maand.

Verjaardagstap tot bo-op die berg

More oggend val ons weer in die pad dan ry ons Hondeklipbaai toe waar ons sal bly vir die week.
Ons sien uit daarna om lekker vars seekos te eet (dalk self uit te haal ook!)

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai