Week 25 - In Afrikaans (Garies, Vredendal, Calvinia, Nieuwoudtville)

Oppak is so 'n fees sonder die sleepwa.
Maandag het ons tjoef-tjaf opgepak en pad gevat Garies toe. Die "locals" korrigeer ons vinnig as ons dit uitspreek met 'n "g" soos in "gras". Dit is "g" soos in die engelse "grass"!
Die grondpad van Hondeklipbaai tot by Garies het ons mos toe al gery en die keer kyk ons toe mooi uit vir "Simson se moer" soos party hom noem. Ander noem hom "Goliat se albaster". Dit is 'n ronde rots wat in die middel van nêrens lê. Baie indrukwekkend en dit laat mens wonder hoe hierdie rotse en formasies daar gekom het.
Goliat se albaster

In Garies moes ons eers bietjie stop en werk doen. Dit was kokend warm (in kontras met die ysige koue by Hondeklipbaai die dag tevire) en ons het weggekruip in ons huisie met lugversorging in. Die kinders moes maar skoolwerk doen terwyl ons gewerk het en eers later daai middag is ons bietjie in die kar om die "Letterklip" te soek. 

Letterklip
Pieter het die storie by iemand gehoor... blykbaar is dit een van die plekke waar die boere weggekruip het vir die engelse in die anglo-boere oorlog. Dis 'n baie goeie wegkruipplek so tussen rotse, goed beskut van wind en weer ook.

Dinsdag oggend het ons toe die pad aangepak Vredendal toe. 'n Hoërskool vriendin van Pieter en haar man woon daar en hulle het hulle huis vir ons oopgestel vir die week. Die vrou het sonder om 'n woord te sê my respek gehad want sy het 5 kinders al amper grootgemaak! Ons kuier nog heerlik hier by hulle en sal nou eers more aanbeweeg. Hulle huis is in die Olifantsriviervallei tussen die wingerde.

Wingerde naby Vredendal

Die week was maar vol gewone dinge. Ons het hard probeer om vir Declan 'n lekker verjaardag te hou, maar hier was nie rotse naby om te klim nie en ook nie 'n see om by te surf nie. Ons het darem naby Vanrhynsdorp na 'n waterval gegaan en daar geswem en piekniek gehou. Ons is so op die Noordkaap - Weskaap grens hier en hier en daar is nog lappies blomme te sien.

Waterval naby Vanrhynsdorp

Ons het Vrydagaand by my vriendin Adel se sussie gaan oorslaap in Calvinia en heerlik geëet en gekuier EN verjaardagkoek gekry!


Calvinia se museum was toe gewees Saterdagoggend maar ons het by die Hantam huis gaan koffie drink en by die Akkerendam natuurreservaat gaan rondry.

Die Hantam botaniese tuine in Nieuwoudtville was nogal 'n vreemde belewenis: Dit was alles toe gewees, niemand in sig nie. Daar was ook nie 'n tuin nie. Dit is seker maar seisoenaal en ons het die blomtyd gemis... As dit nie die middel van die dag was nie sou ons nog een van die wandelpaadjies gaan stap het, maar dit was warm en almal was honger! 

Waterval naby Nieuwoudtville

Naby Nieuwoudtville is daar 'n bord wat wys daar is 'n waterval. Ons ry toe soontoe en tot ons verbasing is daar toe 2 pragtige watervalle. Dit is nogal 'n verrassende verskynsel want die wêreld is maar plat daar.

'n Ent verder daarvandaan is die Kokerboomwoud. Dit is die mees suidelike konsentrasie kokerbome in ons land. Die boompies is oor die hange van die berge vir 'n hele ent lank en is nogal 'n mooi verskynsel om te sien.
Kokerboomwoud 


More pak ons weer op dan gaan ons Lambertsbaai toe. Ons sien uit daarna om weer by die see te wees en miskien kan Declan bietjie "surf" terwyl ons daar is!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument