Week 24 (In Afrikaans) - Hondeklipbaai
Na 'n naweek van begin skoonmaak en pak en weer ophou het ons Maandag(!) uiteindelik finaal opgepak en aan die gang gekom. Dit het omtrent 3 ure gevat om vir almal totsiens te sê. Dit het gevoel of ons net sowel bietjie langer kon bly... Die kinders se maatjies, Carter en Jayden, en ons liewe tannie Jossie het so lekker laaank met ons gesels voor ons daar weggekom het.
Maar toe ons uiteindelik wil ry, toe wil die kar nie "start" nie en die een wiel is pap! Tannie Jossie, by wie ons laaste tee gedrink het, bel toe haar seun en hy ry toe spesiaal om vir ons te kom help.
Ons volgende stop was Hondeklipbaai.
Die pad soontoe het baie roetes. Almal het ons gemaan om te ry op 'n sekere manier wat bietjie meer kilometers is, maar meer teerpad en minder sinkplaat grondpad. Iewers het ons egter iets misgery en ons is toe op die ou einde omtrent heelpad grondpad tot daar. Dit was ook oraait want ons het die mooi landskap geniet en selfs op een plek 'n skilpad wat in die middel van die pad was opgetel en oorgehelp tot aan die anderkant. Die rympie is toe waar wat sê "ek tel hom op, hy maak my nat", want daar was net so 'n streep wat hy gelos het en amper op Declan ook!

Ons blyplekkie in Hondeklipbaai |
Ons het darem veilig aangekom op Hondeklipbaai. Ons huisie is 'n tent met 'n goed ingerigte kombuis en lekker beddens vir ons al 4. Hier is nie enige vorm van 'n Spar of Checkers nie en ook nie 'n vulstasie nie. Die see is wel pragtig en hier is baie rotse wat belowend lyk vir bietjie seekos. Party van die "locals" wat ons oral agtervolg belowe regs en links dat hulle vir ons kan kreef uithaal, en mompel iets van lisensies en permitte wat suspisieus klink. Dit lyk of mense hier maar swaarkry en dat hier nie juis werk is nie. Elke dag vra ons "volgelinge" vir 'n R10 of 'n R20 en dan gee ons maar as ons het. Maar ten spyte daarvan voel ons heel veilig en is dit rustig hier.
Hier is die internet en selfoon sein so onvoorspelbaar soos die wind wat waai. Ons werk maar so plek-plek en bel maar die kliënte terug soos die kennisgewings kom van oproepe wat gemis is. Dit is frustrerend en ons moes beter beplan het... maar nouja.
Elke middag so teen 16h00 steek die wind verwoed op en dan voel dit of ons - huis en al- gaan wegwaai soos Dorothy in "The Wizard of Oz". Dan gaan lê hy maar weer iewers in die nag as ons slaap. In die oggende is dit lekker stil en dan gaan draf of stap ons langs die see en vergeet van die wille wind in die middag.
By die Spatklip |
Donderdae is ons besigste dae vir lone en salarisse prosesserings. So gebeur dit toe dat ons steunpillaar (Marina) se babatjie (vir wie ons so baie gebid het om te kom!!!) uiteindelik hierdie Donderdag sou kom en ek en Pieter sou alles behartig wat behartig moes word. Dis nie so erg nie en ons is toe op ons pos by die enigste restaurant (Sam's Restaurant) waar opvangs is (edge) by die enigste tafeltjie waar daar opvangs is (die eerste een van die deur af). Beweeg ons een tafel op, is daar geen sein nie. Ongelukkig vir ons het Eskom juis die einste Donderdag besluit om die krag af te sit vir die Noordkaap, maar ons het ons rekenaars en selfone goed gelaai ter voorbereiding daarvan en was nie te bekommerd nie. In Pretoria het ons baie keer so 'n dag deurgekom op battery-lewe (en 'n sekere goeie buurvrou met 'n generator). Ons kom toe egter gou agter dat as die krag af is in Hondeklipbaai, dan is die selfoontorings ook af.
Geen internet.
Geen telefoonoproepe.
Niks.
"Emergency call only"
Geen internet.
Geen telefoonoproepe.
Niks.
"Emergency call only"
Noodgedwonge klim ons toe in die kar en jaag al biddend Garies (amper 90km se grondpad ver) toe (waar die krag ook af is, maar ons hoop vir die beste). Daar aangekom is daar toe darem redelike sein en het ons verwoed aan die werk gespring... in die warm kar... voor 'n petrolstasie... maar alles is gedoen, die babaseuntjie is gebore en die dag het heel goed uitgedraai..
Op die pad tussen Garies en Hondeklipbaai het ons weer pragtige Namkwaland blomme gesien en die spatsels kleur het die 180km heen en weer heelwat makliker gemaak.
Terug in Hondeklipbaai het ons gou die Aristea wrak gaan kyk ('n "moet sien" in Hondeklipbaai) die "spat-klip" besoek en 'n draai by die hondeklip gemaak. Ons kon nie juis die hond mooi in die klip sien nie want hulle sê sy oor is afgeslaan deur die weerlig, maar dit is die klip wat die dorpie sy naam gegee het.
Die krag het uiteindelik iewers in die nag eers aangegaan en ons was dankbaar dat ons huisie se stoof met gas werk.
Vrydag het ons die gewone werkies weer gedoen by Sam se restaurant en toe alles gedoen is, ry ons so entjie af tot teen die myn se grond en vertoef daar op die rotse. Toe ek klein was het my sussie Maria ons gevat op so "roadtrip" al langs die kus af en ons het skulpdiere van die rotse afgehaal, skoongemaak en geëet. Op dieselfde manier het Declan met sy "Crocodile Dundee" mes en hoed lustig ingespring en mossels en skulpmossels bymekaar gemaak. Charma was sy gewillige handlanger wat die oes aangevat en op 'n hoop by die koninginmoeder (ekke) se voete kom neerlê het. Pieter het met sy kampstofie dit gekook en 'n heerlike dis met 2-minute noodles aanmekaar geslaan. Hemels!
Saterdag het ons so 14kms gery tot by die Namakwa Nasionale Park se kusstrook en lekker deurgery in die park tot by 'n afgesonderde plek langs die see. Ons het skilpaadjies, gemsbokke, 'n slang, een of ander soort arend en meerkatte gesien. Dit is betowerend om so ver te wees van alles af maar tog omring met majestieuse natuurskoon. Ons was heeldag daar en ons het gesels en op die rotse gespeel.
Terug in Hondeklipbaai het ons gaan kyk of ons die robbe kan sien en daar slaat Declan toe neer op die rotse, met wat lyk soos die voorste deel van sy groottoon af. Dit is darem net velle, maar die gille was luid en die pyn was eg.
Vandag is ons al heel dag binne in 'n wolk. Dit is so mistig dat ons die see omtrent nie eers kan sien nie. So ons speel speletjies en Pieter maak lekker kos!
More oggend ry ons hiervandaan eers weer weg van die see af deur Garies oppad Vredendal toe. Ons sal slaapplek soek iewers tussen hier en daar want ons gasvrou in Vredendal verwag ons eers Dinsdag.

Laaste oggend op Hondeklipbaai |
Opmerkings