Week 44 - Onrus, Bettiesbaai, Botrivier

Ons het vroeg opgestaan Maandagoggend en vol opwinding in ons harte, ry ons toe lughawe toe! My ouers kuier heelweek hier by ons en ons kon nie meer wag nie! Na ons hulle opgetel het, het ons in Longstreet gaan ontbyt eet en ek en Pieter is toe agtergelos daar vir ons eerste "date night" in wat voel soos 'n honderd jaar.

Heerlik.

By 'n Etiopiese restaurant in Long Street

Longstreet in Kaapstad is vol karakter. En dan is daar nogal baie soorte karakters ook wat daar rondhang. Ons het gesien hoe sakkerollers ("pick-pockets") hulle beste aandag-aftrek tegnieke gebruik om hulle besigheid te doen, hoe dwelmverkopers slinks uitvind wie potensiële kliente is, en hoe toeriste met blink oë van winkel na winkel, of restaurant na restaurant stap. Dit is 'n plek wat baie "hip and happening" is, maar tog soveel geheime van lank, lank gelede wegsteek dat dit amper vir my voel ek moet sykouse en 'n mooi hoed dra met rooi lippe en donker gegrimeerde oë om in te probeer pas by die ou styl van baie van die geboue. Na ons veelsydige ete by die Etiopiese restaurant in 'n gebou met die datum 1862 op, het ons gestap tot by 'n sjokelade winkel.
Agterin die "Honest Chocolate Cafe" is die "Gin Bar"

Dis nogal moeite ("effort") om so rond te dwaal op die strate van Kaapstad, want daar is heeltyd mense wat in spanning wag vir 'n teken.... oogkontak, 'n glimlag, selfs net iets wat in sy rigting wys. Die "teken" gee hom die reg om jou te vra vir geld of dalk te probeer om iets aan jou te verkoop. Die ding is net dat jy regtig nie kan rondloop SONDER om op te kyk nie. So vele gesprekke is gevoer met 'n verskeidenheid soorte mense. Mense waarmee ons nie onder normale omstandighede sou gesprekke voer nie. Dit is nogal 'n kontras tussen ons wat besig is om die Kaapse "vibe" te geniet wat so vars en nuut is teenoor hulle wat elke aand in hierdie selfde "vibe" op Kaapstad se onvriendelike strate moet slaap.

By die Gin Bar

Ons moes inloop en tot agterin die sjokeladewinkel stap tot waar die binnehof is. Daar is 'n  "gin-bar". Dit voel of jy iewers in Italië op klipstrate voor 'n kafee sit en opkyk na die sterre. Hulle verkoop Jenewer daar wat jou melankoliek kan wegneem, of hoop gee; selfs een soort wat jou mooier kan maak of jou knorrigheid wegvat. Pieter het gegaan vir een met die naam "Hoop" en ek het gegaan vir die een met die naam "Ambisie" :-)


Vol hoop en ambisie is ons toe daar weg na ons hotelkamer toe om lekker te gaan slaap :-)

Longstreet het egter nooit gaan slaap nie. Nie een keer die hele nag deur was daar absolute stilte nie. Enige iets van 'n gesing tot 'n geskree en 'n gesels was heeltyd teenwoordig.

Dinsdagoggend na ontbyt het my ma-hulle met die kinders ons kom optel en ons is deur na Onrus toe. Oppad het ons gaan loer hoe Kleinmond lyk en middagete daar geëet. Wanneer ons so ry en stop by plekkies sonder dat ons dit beplan het, besef ek net oor en oor hoe 'n ongelooflike mooi land ons in bly. Mens moet eintlik 'n jaar op 'n plek kan bly om dit NOG beter te kan beleef.
Naby Onrus Strand... altyd plek vir nog 'n skulpie of 'n klippie...

Woensdag het ons hard gewerk in ons Onrus-huisie aan skoolwerk, want die kinders het nie juis werk gedoen Maandag en Dinsdag nie. Declan is nou al klaar met sy eerste kwartaal se werk vir 4 van sy vakke - ek is baie tevrede met sy vordering sover. Dit voel of ons mekaar nou mooier verstaan. Woensdagmiddag is ons deur Voëlklip strand toe en toe ry ons bietjie op die branders. Declan het baie vinnig maatjies gemaak met 'n ander outjie - sy naam is Jack - wat ook oefen om te "surf" en ons ruil toe sommer telefoon nommers uit met sy ouers om weer te kan kuier. Sy is die perfekte persoon om mee te gesels oor dinge wat mens kan doen hier rond, sy het selfs 'n blog "Ask Jack's Mom" (op facebook ook!) waar sy klomp inligting het oor dinge om hier rond te doen! Die kinders het ook sommer baie vinnig maatjies gemaak met die kinders in die straat, en daar het ons ook met die ouers kontak gehad.

Declan is ons groot ou "connector". Hy is altyd eerste om "hallo" te sê en kontak te maak met mense om ons, en ek moet sê die mense hier rondom Hermanus is uiters vriendelik. Hulle is nie bang vir oogkontak en geselsies nie. Ons word nou al party oggende wakker van die bure se kinders wat ons kom groet voor hulle skooltoe gaan :-) Dis baie oulik.

'n mooi sonsondergang in Onrus
Donderdag en Vrydag het ons oorval soos rowers en al ons baie planne vir die honderde goed wat ons saam met my ma-hulle wou gaan doen het soos "deadlines" verby gevlieg. Maar deur die chaos was daar baie geselsies en grappies, en dis al wat tel.

Dit is een van ons kosbaarste besitting op die oomblik - tyd met mekaar. Soos met baie kosbare besittings, weet mens nie heeltemal altyd wat presies jy daarmee moet doen nie. Party steek mens weg dat niemand dit kan steel nie, ander stal jy uit om beter te kan geniet. Tyd met mekaar is soos 'n skat wat mens kan vasvang in oomblikke wat later verander in herinneringe. Dit hou lewenslank.


Vrydag het ek besluit om my kans waar te neem en vir Charma te vat om skulpies te gaan optel by Pearly Beach. Dit is regtig net ek en sy wat opgewonde is daaroor om skulpies op te tel, maar my ma-hulle en Declan het toe maar saam gegaan en sentimenteel gevoel saam met ons dat ons na al die jare weer terug is daar.

En toe gebeur 'n wonderlike ding: Charma tel 'n ongelooflike besondere skulp op - 'n "paper nautilus". Blykbaar is dit 'n eierdop van 'n soort seekat, maar ek was nog nie een keer gefokus genoeg om PRESIES te lees wat wikipedia daaroor sê nie.


Gister het ons die parkrun weer gaan doen in Hermanus. Dit sal ons laaste keer wees, want volgende naweek trek ons uit ons Onrus huisie uit 😥. Na die Parkrun het ons Bettiesbaai toe gery en die dag daar spandeer - meestal in die see, besig om te probeer om op daardie wilde golwe te ry, maar dit was baie moeilik. Ek het agtergekom die surfboard werk ook baie goed as 'n boogie-board😁!


Ons het ook vinnig 'n draai gaan maak by die pikkewyne, maar ek moet sê dit is glad nie so mooi soos by Boulders in Simonstad nie. 


Die pikkewyne by Stony point in Bettiesbaai







Die pad terug huistoe het ekstra lank gevoel na ons lekker spelery in die son, en toe stop Pieter gou vir ons by die Botrivier kroeg vir ietsie om te drink voor ons huistoe gegaan het. Botrivier is 'n pragtige klein dorpie met 'n hotel wat in 1890 gebou is. 


Vanoggend is ek en my ouers gou na die NG kerkie hier op Onrus toe. Ons was aangenaam verras deur hoeveel mense daar was - so baie dat ons gesukkel het om parkering te kry. Ou mense, jongmense en kinders. Die res van die dag was rustig hier by die huis en die laaste rukkie van Keara se kuier geniet.


Dit lykmy die "Google Photos Link" het nie so mooi gewerk laasweek om al die fotos vir die week met julle te deel nie, so ek werk nog aan 'n plan om fotos's makliker te deel met julle. Hier is weer 'n link vir die week se fotos terwyl ek nog soek na 'n oplossing.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Kersfees-koekies!

Travelling through South Africa - some things we've learnt about self-catering accommodation