Week 42 in Afrikaans - Onrus, Stellenberg en Gansbaai

Maandag oggend het ons wakker geword en - net so - is die reën weg en die son is uit.

'n Perfekte dag vir buite speel.

Charma het 'n hele lysie van goed neergeskryf wat ons moet doen.
Die eerste een was om die paadjie te gaan stap en in die poel te gaan swem. Al was die son uit, was die water YSKOUD... maar ons is in, en in die proses het ons sommer mooi skulpe ook opgetel.
Die Davies Poel

Dit is toe egter Maandag in die regte lewe en dus moes daar darem gewerk word ook, so na 'n lekker ontbyt is dit toe boeke toe met ons waar die kinders moes leer van "tornados" en "hurricanes" en in Wiskunde moes ons breuke en somme doen vir 'n vale... teen middagete was ons moeg vir die klomp werk en besluit toe om sommer weer te gaan swem. Die keer stap ons ook verder af met die paadjie tot by die Onrus se strand waar Pieter en Declan intussen opgedaag het met die "surfboards" en die "boogie boards".

Onrus Strand


Onrus se strand is ongelukkig 'n bietjie wild. Daar is 'n sand strook wat skerp afdraende in die see in loop en as jy ingaan in die golwe in is jy een oomblik nog vlak, en die volgende oomblik slaan die golf jou onderstebo en trek jou dieper in. Dit het gesorg vir so paar oomblikke van spanning, maar darem nie te lank nie - toe gaan speel die kinders in die "lagoon" en ons gaan koop lekker roomyse. Die "surfing" was nie so goed daai dag nie, maar die roomys was darem baie lekker!

Dinsdag het ons teruggekeer na ons huis in Stellenberg. Die keer het ons Franschoek om terug gery; deur die pas en na 'n wynplaas toe waar my maatjie Lynne se beeldhouwerk uitgestal word. (Ons moes net 'n gesinsfoto neem saam met haar perde!)

Ons (ek) het nou 'n hele rooster uitgewerk vir die skool en die kinders is darem nog goed op skedule. Ons fokus op een vak op 'n slag en maak die hele kwartaal se werk klaar vir daardie spesifieke vak in 'n week of dalk 2 weke. Dit voel op die oomblik of dit goed werk - ons sal maar moet sien aan die einde van Maart of dit wel so is.

Lynne-Marie Eatwell se mooi beeldhouwerk by die  "Grande Provence" by Franschoek

Ons was net so 2 aandjies by ons Stellenberg huisie waar ons gefokus kon werk (dit is 'n mooi manier om te sê ons kon nie gaan "surf" nie), en toe ry ons weer Donderdag middag terug Onrus toe.

Ek en Charma het toe verder deur haar lysie van goed om te doen gewerk, so die volgende item was om die paadjie te stap, maar in die ander rigting in. Dit het ons die meeste van die middag gevat, want die rotspoele is vol wonderlike dinge om te ontdek. Daar is vreeslik baie kokkerotte so tussen die seebamboese (of kelp) by die rotspoele en daar is ook baie sandluise. Hulle spring sommer so oral rond en dit is vir ons twee meisies baie "gross". Die ding is net... by al die stink goed is gewoonlik die mooiste skulpe...

Na ons lang stap wou Charma natuurlik dadelik weer gaan swem. Pieter en die kinders het toe sommer hier naby ons huisie in die Davies poel gaan afkoel. (Ek het bietjie in "nerd-mode" ingegaan en 'n boek gelees...)

Pieter het met sy "wetsuit" ingegaan en onder die kelp gesnorkel. Toe ons in Lambertsbaai was by die voëleiland het ons geleer dat daar 'n hele geheime wêreld in die kelp "woude" onder die see is. Pieter het dit beaam en vir Charma die mooiste skulpe uitgeduik. Die kelp is natuurlik ook baie misleidend want soos dit op en af deur die stroom gesleur word, lyk dit baie soos 'n vin wat uitsteek bo die water!  Die see bamsoese wat so uitspoel is wat dan so begin stink en dit lok die nare goggas wat ons oral so sien. Die goggas lok dan weer baie verskillende soorte voëls, en daarvan is hier ook baie - selfs kolganse wat so rustig by die rotspoele rondhang!

Die see was ook daardie dag anders as wat ons tot dusver beleef het - BAIE rustig. Die water was sommer so helder dat mens die bodem kon sien al was jy baie diep in. Die golwe was ook so mooi dat Pieter en Declan altwee baie lekker kon "surf" en hulle oë het sommer geblink.

Ons stap van Gansbaai hawe tot by die ingang van Walkerbay natuurreservaat

Keara het by ons kom bly vir die naweek en Saterdag oggend het ons na ontbyt weer strand toe gegaan. Dit was so lekker. Die golwe was weer bietjie wilder as die vorige dag, maar dit was baie beter as vroeër die week. Die kinders speel baie lekker in die lagoon en hulle het sommer gou maatjies gemaak saam met wie hulle lekker kon swem en toertjies doen in die water. Dis lekker om te sien hoe hulle dit geniet om kinders van hulle ouderdom raak te loop en hoe maklik dit vir hulle is om maats te maak met hulle. Later die middag het vriende van ons ook by ons kom kuier en ons het eers laatmiddag rooi gebrand by die huis terug gekom van die see af.




Vandag het ons al langs die see af gestap van Gansbaai se hawe af tot by die ingang van die Walkerbay natuurreservaat. Die roete se naam is "Duiwelsgat staproete".  Die paadjie is spesiaal want hy is besaai met grotte waarvan die Klipgat grot die grootste en die mooiste is en ook baie interessante opgrawings al by gekry is. Langs die pad het ons 'n rob raakgeloop en ook dassies.

Daar was die vreemdste rotsformasies oral en sulke mooi skulpe wat Charma kon optel (ek weet nie waar daar nog plek gemaak gaan word daarvoor nie!) Sy het perlemoen skulpe, see pampoentjies, alikreukels, skulpmossels en cowrie skulpe opgetel. Wat ook nogal besonders was, is dat daar varswater bronne is al langs die paadjie af en ek weet nie of dit verwant is nie, maar waar die varswater stroompie dan in die see in inloop, is daar helder groen mos wat oral op die rotse groei in die rotspoele.




Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Finding King Shaka's Isivivane

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 35 in Afrikaans - Stellenbosch, Houtbaai, Vishoek, Kalkbaai