Week 43 - Onrus, Hermanus, Stanford en Pearly Beach...(en 'n besoek aan die Parlement)

Ons is nou al 43 weke lank op die pad. Ons is besig met ons 10de maand op die pad.
43 weke lank weg van die huis af.
43 weke lank lewe ons met net soveel goed soos wat in die kar kon pas.
Ons het al amper 35000 km gery.
Ons het al in 45 verskillende huisies gebly.
Selfie naby die Davies Pool in Onrus

Dinsdag het ons 'n besoek aan die Parlement afgelê en gekyk hoe die opposisie partye die SONA van die president uitmekaar skeur en bevraagteken. Daar was baie ander mense ook daar en dit was baie interessant om te sien hoe dinge gebeur in die "huis". Daar was baie dinge wat vir my uitgestaan het. Een ding was hoe klein en maer Julius gelyk het en hoe statig en mooi Mmusi en Cyril gelyk het. Meeste van die nuttelose ministers het verspot gelyk en ek kon ten minste 2 mense sien wat vir my effens gedrink gelyk het. Ek het egter net weer besef hoe gelukkig ons is om nog in 'n demokratiese land te bly. 'n Land waar ons mag kla oor swak diens en korrupsie, en waar ons vryheid van spraak het en menseregte. Ja, dit word skeef getrek en daar is steeds baie korrupsie, en onregverdigheid. Maar, ons president se SONA mag, nee MOET bevraagteken word en dit word ook bevraagteken. Die mense wat rondom ons gesit het was van alle rasse en agtergronde. Hulle almal was net soos ons opgewonde oor sekere goed wat gesê was en "disgusted" met ander goed.
Voor die groot vergaderingslokaal

Waarvoor ons besoekie natuurlik ook baie goed was, was om vir die kinders mooi te verduidelik hoe ons land se regering werk en so bietjie van elke politieke party te kan vertel. Ek dink die padrit van ons verbreed en vergroot definitef hulle algemene kennis oor dinge rondom hulle.
Binne in die Parlement - voor almal aangekom het, en ook voor ons besef het ons mag nie fotos neem nie

 Ons het ook op dieselfde dag die Holocaust museum gaan besoek. Dit was vir die kinders erg om te dink dat een man soveel mense se dood kon veroorsaak het net omdat hulle Jode was. Ons het maar baie van die uitstallings vermy want dit is te grafies vir die kinders om te sien. Ons kon ongelukkig nie alles vermy nie so daar was baie vrae gevra oor die eksperimente wat op die kinders gedoen is en hoekom dokters sulke goed sou doen.
Binne in die eerste Sinagoge wat nou die Joodse Museum is

Na die vol dag is ons weer reguit terug Onrus toe - ons "vakansiehuisie". Oppad hierheen het ons bietjie 'n ander paadjie gevolg as voorheen en uitgekom in 'n pragtige vrugbare vallei - VOL vrugteboorde. So ver as wat ons kon sien, was daar net vrugtebome gewees. Selfs mooier nog as wat ons in Ceres gesien het. Ek dink dit was naby Grabouw gewees - maar ek is nie seker nie.

Dit is so 'n groot voorreg om hierdie toer te kan doen en in sulke lekker huise te bly. Ons voel heeltemal bederf tot by ons ore!

Woensdag het die kinders fluks aangegaan met hulle skoolwerk. Ek moet sê - sover gaan dit baie beter hierdie jaar met die tuisskool as laasjaar. Ek voel gemakliker met die werk en die kinders ook. Ek is sommer baie trots op hulle dat hulle so goed aanpas. Charma het nou al emmers vol skulpe wat sy oral opgetel het. Dit het soos 'n goeie dag gelyk om al die skulpe uit te sorteer en terwyl sy dit so doen, is dit sommer die perfekte geleentheid om sortering, en tel en datahantering vir Graad 2 in te bring in die speletjie. Haar ogies het sommer geblink toe haar skulpe in sulke netjiese hopies gepak, getel en op "lysies" neergeskryf word. En toe sy dit nog in 'n staafgrafiek ook moes oorteken was dit hemels! Sy hou BAIE van orde...


Declan was mal oor die fliek "The Walk" wat die storie van Philippe Petit ('n "wire walker") vertel en hoe hy tussen die 2 "Twin Towers" geloop het op 'n kabel.

So Declan het - terwyl die uitsortering van skulpe gebeur het - geoefen om te balanseer op die stoepie se heining. Ek kyk maar net weg as hy dit doen want al wat ek myself verbeel sien gebeur is die ergste.

Daar is ook later in die week toue gespan om dit beter te probeer oefen.

 Dis nog oraait as hy dit alleen doen, maar later wou Charma ook probeer en dan sukkel hulle mos maar om vir mekaar beurte te gee..

 ('n Besemstok het ook later deurgeloop om die paal te word waarmee hy moet balanseer.)
Ek het gesoek vir 'n fliek of 'n boek wat ons kan lees of kyk oor die Tweede Wêreld oorlog sodat die kinders 'n beter idee vorm oor dit wat hulle by die Holocaust museum gesien het, maar al wat ek aan kon dink was "I am David". Dit speel eintlik nie af in die Tweede Wêreld oorlog nie en is ook nie op die waarheid gegrond nie, maar die tema pas goed aan by wat hulle geleer het en die fliek het bonop 'n baie gelukkige einde. Hulle was mal daaroor!


Donderdag is maar altyd 'n besige dag vir ons en dan gebruik ons die geleentheid vir skoolwerk. Die spesifieke dag was 'n uitdaging vir my. Wat moes gebeur het was dat Declan 'n landskap moes teken en Charma moes getalkombinasies van 10, 11, 12, en 13 hersien. Soms raak skool so lekker dat alles in grappies verander en dan gaan dit teen my gryn in van orde en struktuur. Miskien sou 'n tuisskoolmamma wat ander as ek gemaak is, die "pret" kon gebruik om iets vir die kinders te leer, maar my koppie raak deurmekaar onder sulke omstandighede.

Dan "malfunction" my sisteem bietjie en ek kan nie alles mooi hanteer nie. So na 'n paar "tantrums" en ernstige gesprekke, is alles weer in orde en vloei ons weer in dieselfde rigting.

Vrydag het ons weer huis skoongemaak en my skoolmaatjie van lank terug het kom kuier by ons.

Tussenin is daar baie geoefen om op 'n tou te balanseer:



Saterdag het die wolk weer op die berg agter ons huis kom lê met die intensie om daar te bly die hele dag. Dit het moeite gekos om op te staan en weer die Parkrun te doen, maar ons is op en Declan en Charma het eerste gekom in hulle ouderdomsgroepe.  Nadat ons huistoe is en gestort het is ons na die Hermanus mark toe. Dit het baie gevoel soos die "Hazelwood food market" waarnatoe ons een of twee keer was in Pretoria. Ons het lekker geëet en rondgekyk na die goed wat ons nie plek voor het in die kar nie. Ek en Charma het gedroom oor wat ons alles in ons huis gaan sit as ons eendag 'n huisie by die see gaan koop.

Van daar af is ons Stanford toe - opsoek na 'n kaasplaas (Kleinriver Cheese Farm) waarvan iemand ons vertel het. Daar gekom het die kinders so lekker gespeel dat Declan nie eers agtergekom het hy klim kaalvoet in die kar nie.

By die Hermanus Mark

Pieter kry toe 'n gier vir gatskuur ry en ons ry toe al die pad Pearly Beach toe. Natuurlik besef Declan TOE eers hy is kaalvoet, en die tekkies bly dus maar by die kaasplaas. Dis vir my 'n baie goeie rede om weer te moet gaan :-)

Ek kan nie heeltemal onthou wanneer presies en hoe nie, maar toe ek 'n kind was, het ons baie (of dalk net een of twee keer vir lang tye) Pearly Beach toe gegaan. Dit is wat ek vir Charma vertel het - waar ek so baie pampoenskulpies opgetel het. Ek onthou dit was die eerste keer in my lewe (toe ek klein was) wat ek seebamboese op die strand gesien het, en dit was vir my nogal "gross". Totdat ek die papmoenskulpies ontdek het!

By Pearly Beach
Vandat ons in Mcdougallsbaai so baie pampoenskulpies opgetel het, het Charma gedroom oor die dag wat ons twee saam Pearly Beach toe kan gaan en skulpies optel.


Dit was so lekker. Ek het sommer weer onthou hoe ek gevoel het as kind so op die strand en saam met my dogtertjie was dit net nog bietjie ekstra spesiaal. Ons het eintlik bietjie meer tyd nodig gehad om ORDENTELIK te kan skulpies optel, maar die manne was nou nie so opgewonde daaroor soos ons nie - so ons het nie so lank gebly soos ons eintlik wou nie.

Kuslangs terug het het ons by Franskraal gestop en deur Van Dyksbaai gery. By Birkenhead het ons 'n kort 4x4 roete gery en 'n paar keer amper terug gedraai omdat die rotse baie skerp is en die gate diep, maar die prentjies rondom ons was mooi genoeg en ons het deurgedruk!


Toe ons laasnaweek die staproete gedoen het van Gansbaai tot by De Kelders, was daar een plek wat ons nie gekry het nie: die Duiwelsgat. Die Duiwelsgat is 'n grot waarvan die bokant ingeval het. Die gat was so groot dat beeste daar kon inval, so die mense het 'n muur om hom gebou om die diere veilig gehou. Die keer het ons besluit om die gat weer te soek, want dit is nogal noemenswaardig. Ek kan nie onthou of ek laasweek genoem het dat "De Kelders" so genoem is omdat daar so baie grotte daarlangs is nie. Dis ook hoekom ons die roete gedoen het - om die baie grotte te verken.

Met 'n bietjie meer energie as laaskeer, kry ons toe die grot / gat. Ons het laaskeer reg by hom verby geloop sonder om hom te sien. Ons het net bietjie laer gestap as wat hy was en was waarskynlik al so moeg gewees teen daai tyd dat ons nie opgekyk het nie.

Duiwelsgat
Vandag het ons teruggery Stellenberg toe want MORE KOM MY MA-HULLE KUIER!💗💗💗💗
Ons is so opgewonde! Die beddegoed is skoon en die sjokelades wag saam met ons in spanning vir hulle koms xxx

(As julle lus is om nog fotos te kyk van die week - kliek hier)

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Travelling through South Africa - some things we've learnt about self-catering accommodation

Kersfees-koekies!