Week 45 - Ons laaste week in Onrus

Laasweek Sondagaand toe Declan en Pieter gaan surf het by Grotto - het ek, my ma, pa en Charma uiteindelik die "Cliff Path" in Hermanus gaan stap. Al die pad van die ou hawe af tot by Grotto strand. Dit is 'n vreeslike mooi paadjie verby die mooiste baatjies en strande met lekker Afrikaanse name soos "Kwaaiwater", "Skulpiesbaai", "Langbaai" en "Kammabaai". Oral het mense piekniek komberse, tafeltjies en stoele, met 'n bottel wyn en versnapperings uitgepak op die strande en by die bankies om die son te sien sak oor die mooiheid rondom ons. Dit was so spesiaal gewees.

Op die "Cliff path" in Hermanus
(Google maps sê dis so amper 6 kilometer maar omdat ons lekker rustig gestap het, het ons amper 3 ure lank gestap! Toe voel dit baie lank :-))


Tyd vir 'n breek :-)

Maandag het ek en my ma-hulle na middagete gery om oor te slaap in Stellenberg om die volgende oggend 5uur by die lughawe te wees sodat hulle kan terugvlieg huistoe. Die week het veels te vinnig verbygevlieg en ons mis hulle al klaar. Oppad soontoe het ons by die Jan Joubert Gat brug gestop in die Franschoekpas. Dit is bietjie toe gegroei en dit lyk of daar iemand 'n woning daar gemaak het, maar dis die mooiste ou klip trappies wat tot onder gaan waar massiewe uitgekapte klippe die basis vorm van die mooie brug. 'n Mens kom nie eers agter hoe mooi die brug is as jy oor hom ry nie.

Jan Joubertgat brug

Ons het vinnig gestop in Franschoek en die Hugenote monument weer gaan besoek. My ma se nooiensvan is Cilliers, en dit het haar hart geroer om so te dink aan haar voorsate en wat hulle alles deurgegaan het vir godsdiensvryheid. Snaaks hoe die wêreld werk, nê... in daardie tyd het ons mense gevlug uit Europa uit vir 'n nuwe begin sonder onderdrukking en deesdae begin ons mense bietjie vir bietjie terugsyfer Europa toe.

By die Taalmonument

Dinsdagoggend vroeg is ons lughawe toe, en na so paar malle draaie in Tygerberg om normale probleme uit te sorteer (foon wat nie werk nie, ipad wat nie wil aangaan nie, goed te gaan haal wat laas vergeet was) ry ek toe weer Onrus toe waar my mensies my opgewonde ingewag het.

Lekker speel by Fisherhaven

Ons het lekker maatjies gemaak met Jack (Declan se surf maatjie) en sy ma-hulle en ons het saam met hulle gaan braai by die Seiljagklub in Fisherhaven. Ons het onsself omtrent vergaap aan die mooi prentjies wat vir ons in die lug geverf is deur die Groot Kunstenaar.


 Die deel van ons land voel besonder veilig en rustig en dit is so maklik om vriende te maak. Dis asof mense se persoonlike mure nie so hoog op gebou is soos in plekke waar die fisiese mure hoog is want almal is benoud oor hulle veiligheid nie.

Jan Rabie getypoel

Daar was 'n rooigety by Hermanus gewees die week en alhoewel ek nie heeltemal alles verstaan wat dit beteken nie, vertel Sandy (Jack se ma) ons toe van die "bioluminescence displays" wat ons in die water sal kan sien in die aand. Deur die dag is die water bruinerig - selfs partymaal rooi, maar in die nag word dit helder blou of blinkerige groen, soos daai "glow in the dark" stickers wat mens kry. Ons pak toe 'n paar goed in ons rugsakke (koekies en warm klere) en stap na die "Jan Rabie" getypoel daar naby ons huisie in Onrus om te gaan kyk of ons iets sal kan sien. Een van Sandy se vriendinne is 'n slim mens in oseane en seelewe, en sy het gesê ons sal dalk nie veel sien nie omdat die wind te sterk is en die golwe te onrustig. Maar ten spyte van dit alles was daar duidelik neon helder tentoonstellings. Dit was ongelooflik interessant om dit te kan sien.
'n Buitengewone ontstuimige, bruin see

Dit was heeltemal te donker om dit te kon afneem met ons gewone selfoon kameras, maar dit was so COOL gewees om te sien hoe die water blink, of eerder GLOEI! Die kinders het almal geswem en dan lyk dit nog meer asemrowend. Wanneer mens dan uitklim sit daar sulke goed vas aan jou wat lyk soos "glitter".

Lekker veilige strate in Onrus

Nouja, mens kan nie altyd net speel nie en daar was werk wat klaar moes kom, so dit beteken toe dat ek deurnag gewerk het na ons uitstappie Woensdag en die hele dag Donderdag ook. Ek het behoorlik soos 'n zombie gevoel daarna, maar gelukkig het ek klaargekry met al die werk wat vir my gewag het! Die kinders het intussen weer soveel maatjies gemaak in die buurt dat hulle amper nie eers agtergekom het ons werk so hard nie.


Vrydag was ons weer in ons oppak bui, en allamapstieks was daar baie meer goed as wat ons gedink het ons het. Charma het nou behoorlik hope skulpe en ons gaan moet planmaak daarmee voor ons verder optoer teen die kus.

Oppad Stellenberg toe het ons gou by die Houw Hoek padstal gestop. Ek het net weereens besef hoe min tyd mens het om regtig ALLES te kan verken in 'n area. Daar was nog soveel goed wat ons moes doen - die Elgin mark besoek, Hoys koppie in Hermanus gaan uitstap, in Fernkloof gaan stap, die Harold Porter tuine gaan verken... maar nou is ons klaar daar en ons moet aanbeweeg. Daar is net soveel tyd in 'n dag en ek is dankbaar vir alles wat ons wel kon sien. Dit gee ons natuurlik ook altyd iets om voor terug te kom eendag.

Oppad terug na Stellenberg

Saterdag oggend vroeg het ons opgestaan en Muizenberg toe gery om bietjie te gaan "surf". Dit was bietjie reënerig gewees, maar die golwe was pragtig. Pieter huur toe 2 ekstra borde, sodat elkeen sy eie surfboard kan hê. En toe gebeur dit... EK staan op en surf al die pad strand toe! Dit was so 'n lekker gevoel dat ek dit nog so honderd keer gedoen het net om seker te wees dit het regtig gebeur! Nou kyk, ek moet darem sê Pieter moes 'n BAIE lang, breë surfboard vir my huur voor ek dit reg kon kry, maar nogsteeds.. ek laat dit tel in my storie :-)

Gereed vir "surf" selfs al reên dit!

Selfs Charma was 'n klein willewragtig in die see gewees met ons surfboard. Sy het self ingegaan, self golwe gevang en ook baie goed gesurf. Dit het my laat wonder of ons ooit weer weg kan bly van die see af. Dit is so 'n lekker ding om saam te doen as gesin - nooit sou ek kon dink dat dit iets sou wees wat ons sou doen nie.

Ons het lekker gebraai by vriende wat hierheen getrek het so paar jaar terug en die kinders het lekker gespeel. Vanoggend is ons toe sommer saam met hulle kerktoe ook en dit was ook lekker om weer te voel asof ons deel is van 'n gemeenskap van mense.

Die res van die dag sal ons maar rustig vat en dalk bietjie werk doen want more en oormore gaan ons uiteindelik bietjie rondry op die rooi bus in Kaapstad. Ons wil ook iewers inwerk om Robben eiland toe te gaan en Kirstenbosch. Dan is alles op ons lysie min of meer afgehandel vir die Kaap.

En dit het ons net 6 maande gevat...😂😂😂

Jammer dat ek nie kan uitwerk hoe om die albums beter op die blog te sit nie... hier is die link vir hierdie week se fotos.



Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai