Week 48 - Ons laaste paar avonture in Kaapstad

Die eerste deel van die paadjie in die kloof op


Ons week het met 'n "bang" begin toe ons Maandagoggend die "Crystal Pools" staproete naby Gordonsbaai gaan doen het. As mens net deur Gordonsbaai gery het, dan is daar so parkeer area aan die regterkant van die pad. 'n Mens stap dan na die oorkant van die pad, en wys jou permit by die wendy-huisie om by die hek in te stap. Dis 'n steil 2 km roete in die Steenbras-kloof op tot by die eerste groot poel. Van daar af kan jy besluit of jy wil terugstap en of jy verder in die kloof wil opstap om die ander 4 poele te gaan verken.

Heel bo
Ons het gekies om verder te stap - tot bo-op die hoogste punt waarvandaan ons kon kyk tot teen die Steenbrasdam se wal en al die pad onder tot by die see. Al die poele was heerlik om in te swem, en alhoewel die dag redelik koud begin het, het ons vinnig warm begin word. Ek moet sê hierdie Kaapse berge met hulle diep donker poele het my hart gesteel. Dit is regtig besonders.


Een van die poele met die mooiste waterval
Na die lekker stap was ons almal poegaai. Ek wou nog by die mooi boekwinkeltjie inloer "Bikini Books" wat ek van gehoor het, maar kon nie my lyf kry om haarself uit die kar te laat klim om te gaan kyk hoe dit lyk nie - ons het maar net verby gery.


'n Lekker groot groep wat op die "surf camp" is
Dinsdag, Woensdag en Donderdag het ons die kinders ingeskryf vir 'n "Holiday Surf Camp" by Muizenberg. Surf Emporium is so oulike winkel reg oorkant die "surf" strand by Muizenberg. Die eienaar van die plek was 'n SA branderplankry kampioen en sy het nou 'n winkel wat "surf-stuff" verkoop, dit uithuur en ook klasse aanbied vir mense wat wil leer surf.

Charma, Jack en Declan heel voor in die koor :-)
Die reëlings vir die "surf camp" was al getref toe ons in Onrus was, want Jack - Declan se surf maatjie het gesê hy gaan, en toe besluit ons dit sal lekker wees om ons nuwe vriende weer te sien vir oulaaas. Alhoewel die weer nie so wonderlik was nie, het die kinders dit vreeslik geniet en kon nie uitgepraat raak elke aand as ons moeg by die huis ingestap het nie - en ons het ook lekker gekuier.



Met al die avonture moes ons BAIE vroeg opstaan in die oggende en teen Vrydag was ons al lekker moeg. Dit was waarskynlik die laaste keer wat ons Muizenberg sou sien, en dit was nogal hartseer om te dink daaraan. Ons het soveel lekker dae daar gehad oor die laaste 3 maande.


Teen Constantia Nek op
Ons vriend Craig (ons het hom ontmoet in Durban by die bergklub aand waar ons oor slange geleer het) het by sy dogter kom kuier in Kaapstad en hy nooi ons toe om saam met hulle Tafelberg te gaan uitstap die Saterdag oggend.

 Die kinders loop en gesels met Craig en Jess

Tafelberg is veel groter as wat ek dink en elke keer besef ek dat ek aan die berg dink as net die groot ding wat uitstaan en plat is bo. En eintlik is hy baie groot. Ons het dit eintlik al besef toe ons in die hut geslaap het bo-op, maar ek vergeet vinning hierdie tipe goed.

'n Leë dam bo-op Tafelberg

Die Constantia Nek paadjie tot bo is baie maklik en as jy wil, kan jy op die sement-paadjie stap waarmee die karre opry om die damme se instandhouding te doen. Die keer het ons nog so paar damme raakgeloop en hierdie keer was hulle almal baie leeg en daar was een sluis oop. Natuurlik omdat Craig die slang-ou is, het ons ook 'n boomslang raakgeloop wat ons nooit sou raakgesien het as hy nie by was nie! Die kinders het na hartelus gesels en sonder ophou vir hom en sy dogter alles vertel wat hulle moontlik aan kon dink om te sê.

Craig en sy dogter Jess saam met ons 4 by die Woodhead Dam bo-op Tafelberg


Gisteraand het ons die oom-hulle wie se huis ons oppas, gaan optel by die lughawe. Hulle het lekker gekuier by die kinders en ons moet ook nou aanstaltes maak om aan te beweeg. Ons het so week waarin ons, ons pad kan vind tot in Oudtshoorn - waar ons die sleutel sal optel vir ons huisie in Mosselbaai.

Ons beplande roete vir volgende week

Ons sien uit om aan te beweeg en verder te verken. Daar is soveel negatiewe gesprekke oor ons land aan die gang (selfs uit ons eie monde ook partykeer), maar dit bly 'n pragtige land, en nie ALLES loop skeef nie. Die paaie is sover oral baie mooi, ons kan gemaklik oral ons inkopies doen vir kos, ons bergpoele is skoon genoeg om uit te drink en ons kinders kon nog by elke plek waar ons gebly het - buite gespeel het. Met dit in ons harte beweeg ons aan en sien ons uit na wat voorlê.


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Finding King Shaka's Isivivane

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 35 in Afrikaans - Stellenbosch, Houtbaai, Vishoek, Kalkbaai