Week 50 - Eerste week in Mosselbaai

Ek kan nie glo hierdie is nou al die 50ste week wat ons op die pad is nie. Ek het gemengde gevoelens daaroor... daar is 'n deel van my wat baie graag nou wil huistoe gaan. Daai deel van my is die een wat planne uitvoer soos wat dit beplan was. Die deel van my wat hou daarvan om lysies af te merk soos ek takies verrig en wat goed voel oor myself wanneer ek dit doen.

Ek verlang ook so bietjie na ons ruim huis en al ons goeters. Ek dink dit word in my wakker gemaak as ons mense ontmoet en by hulle in hulle huise gaan kuier. Dan onthou ek weer hoe lekker dit is om jou eie plekkie te hê waar jy jou skulpies wat jy opgetel het kan uitstal in 'n glas houer en waar jy jou prentjies en foto's teen die mure hang. Dit is egter nogsteeds baie lekker om so lang avontuur te hê. Dit is ook lekker om te sien hoe my mense blom. So tot verdere kennisgewing, sal ons maar nog aanhou met die avontuur!

'n mooi "pansy" skulp wat Pieter een oggend opgetel het

Ons het maar Maandag al met skool begin, want dit was bietjie bewolk en nie 'n goeie dag vir surf nie. Ons is nogsteeds sprakeloos oor hoe bederf ons is met hierdie huisie. Dis so lekker hier. Die kinders het elkeen hulle eie kamers en dit veroorsaak 'n groot vrede in die huis waarvoor ek baie dankbaar is. Ek en Pieter het ook ons eie badkamer wat verder dinge vereenvoudig, veral vroegoggend wanneer almal 'n toilet nodig het!

Tyd vir skoolwerk


Ek en Pieter is weer lus vir oefen, so ons staan in die oggende op en gaan draf op die strand. Ek draf totdat ek die mooi skulpe begin sien, en dan stap ek maar verder :-). Declan draf dan saam met Pieter en ek en Charma tel skulpies op. Ons het reeds laasmaand twee bokse vol skulpe na ouma toe gestuur vir veilige bewaring, want die hemel weet daar is nie nog plek in die kar vir een ekstra skulp meer gewees nie!

Vroegoggend draf sessies


Ons het "pansy" skulpe op die strande hier gekry! Ons het opgelees dat hulle familie is van die seepampoentjies en eintlik 'n bedreigde spesie is. Alhoewel jy die skulpe mag optel, mag jy nie gaan duik vir die lewende diertjies nie. Dit is so 'n groot lekkerte om sulke skaarse skoonhede op te kan tel. Dit is kosbare geskenke wat oral gesaai lê vir ons om te ontdek!

Ek en Charma tel skulpe op


Dinsdag het ons die water gaan uittoets met die branderplanke. Die golwe is rof maar Declan en Pieter en Charma het al drie mooi reg gekom. Ek is mos maar altyd bietjie anders :-). Ek sê net -  ten minste het ek probeer! Ek raak bietjie benoud as die golwe so vinnig op mekaar volg, want ek is skaars deur een, dan kom die volgende een al. Gelukkig ry ek net met ons spons-branderplank, want anders sou ek al harsingskudde gehad het van al die kere wat ek teen die kop getref is met die branderplank as gevolg van die wilde golwe.

Charma se skulpe


My skulpe :-)


Woensdag en Donderdag is maar werksdae in ons huis :-). Dit is die meeste van ons kliënte se lone-dag, so dan is ons redelik nodig "op kantoor"... maar teen middag-ete is ons geregtig volgens wet op 'n uur breek, en dan gaan ry ons maar weer 'n bietjie op die golwe. Hulle bly maar rof, want die strome is baie sterk en die golwe kom sommer so van elke kant af. Dit maak die moeilik selfs net om te swem in die see - maar dit is niks om oor te kla nie - ons geniet dit alles BAIE! Die water is vreemd genoeg nie yskoud nie, en dit is eintlik aangenaam om in die seewater te speel.

'n Groot grot by die begin van die St Blaize staproete

Pieter het weer lus gekry om met sy drone vis te vang, so dit het ons ook 'n bietjie gedoen een aand. Ongelukkig was dit donker so ons kon nie mooi sien dat die drone nie die vislyn in die see laat val nie.... hy bring dit net so weer terug land toe, en toe "ploeps" val die lyn net so op die sand!

Hulle durf die see aan vol bravade


Saterdag het ek en Charma Johannesburg toe gevlieg want ek moet werk doen die week by kliënte. Dit is Charma se beurt vir kuier by haar ouma's, oupa's en niggies en nefies. Dit was ook haar heel eerste keer op 'n vliegtuig en dit was natuurlik een groot belewenis. Elke ding was ondersoek en geanaliseer - selfs die reddingsbaadjie onder die sitplek! Sy was net baie geirriteerd met die 3 seuns wat voor ons gesit en winde los het die hele tyd!



Ons twee het lekker by die ouma's gekuier die res van die tyd en Declan en Pieter het... jip - julle kan seker nou al raai - gaan branders ry. Pieter het vir homself 'n nuwe branderplank gekoop en natuurlik moes hy dit bietjie gaan uittoets het!

Pieter met sy nuwe surfboard!

Ons vlieg weer Woensdag middag terug George toe, maar tot dan sal ons kyk by hoeveel mense ons kan uitkom tussen die kliënte en verkeer hier in die Johannesburg area!

Lekker kuier by Ouma Netta xxx



Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf