Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai

Maandag moes ek vroeg opstaan en betyds wees vir 'n vergadering in Johannesburg. Ek en Charma het mos oorgeslaap by my ma-hulle in Daleside nadat ons deurgevlieg het Johannesburg toe die vorige Saterdag (sien laasweek se blog hier) Ek het gereken 'n uur sal meer as genoeg wees om die skamele 67 km te ry soontoe. Die vergadering het immers eers 9uur begin.

Maar ek het dit ongelukkig onderskat.

Gauteng se verkeer: 1. Rut: 0
Pieter se uitsig vs my uitsig Dinsdag middag

Ek was dus laat vir my vergadering. Die res het heel goed afgeloop en die rytyd terug was 40 minute. Ek het by my sussie in Meyerton gaan kuier en ons was in die wolke oor al die familie wat ons so lank terug laas gesien het.

Dinsdag oggend se vergadering was darem eers geskeduleer vir 10uur. Ek was die keer vroeg en die vergadering het ook heel goed afgeloop.

(Rut: 1
Gauteng verkeer: 0)

Ek het die nuwe toevoeging tot ons werk-familie gaan ontmoet (Connor is in Oktober laasjaar gebore!) en toe het ek my laaste aandjie se kuier gaan benut.

Woensdag het ons deurgery Pretoria toe. Reguit skooltoe. Ons het gaan hallo sê vir Charma se graad 1 juffrou en rondgeloop op die skoolterrein en terug gedink aan die dae wat ons daar rondgehang het. Van daar af het ons net tyd gehad vir een stop naby die skool, en dit was by my maatjie Ilze. Daarvandaan het ons nog so uur gehad voordat ons moes inklok vir ons vlug, so toe groet ons gou my skoonsus oppad lughawe toe.


'n Warrelwind van kuiers en heeltemal te kort om by almal uit te kom!

Woensdag-aand het ons heerlik gesins-reunie gehou en oor en weer vertel van die DAAAEEEEE wat ons sonder mekaar moes klaarkom en van al die miljoene goed wat intussen gebeur het sonder die ander twee :-)
So lekker om sulke hoflike manne te hê wat ons bagasie kar toe neem :-)

Donderdag het ons HARD probeer skoolwerk opvang... Ek het 'n effense verkoue opgedoen in Gauteng en kon nie lekker saam op die branders ry nie, maar Vrydag oggend was die see so aanloklik vriendelik met golfies wat glad nie intimiderend was nie. So, ek het gougou my snotneus geignoreer en ingegaan... Niks kan die gevoel beskryf wat ek het as ek op net die regte plek ingaan, en deur die seestroom ingetrek word tot agter die golwe se breeklyn nie. Dit voel asof alles mooi in lyn is met mekaar - die see en die strome en ek. Maar dan as die perfekte golf kom, is ek maar nogsteeds bang, en dit laat my dan die golf mis. Dit is baie soos dit in die lewe ook is, nê - vrees wat jou terughou om die lekker golwe van die lewe te ry.
Lekker by die see

Na ons lekker branderplankry-sessie Vrydag-oggend, het ons gepak en op 'n kort padrit gegaan na Stilbaai.
Middagete by Danabaai

Van Mosselbaai af het ons gery na Danabaai waar ons gestop het vir middagete (broodjies wat Pieter ingepak het).

Boggomsbaai het vreeslik baie bloublasies gehad op die strand


Van Danabaai af het ons gestop by Boggomsbaai waar ons 'n entjie gestap het al langs die strand en terug en van daar af is ons na Gouritsmond.

Gouritsmond

Alles is so mooi en stil en vriendelik. Vissermanne en mense wat kafee toe stap. Mense wat verbystap en groet.

Declan maak vir ons kos


In Stilbaai het ons oorgeslaap agter in mense se erf in 'n houthuisie wat heel gemaklik ingerig is. Die kinders moes so bietjie skoolwerk doen, en toe steek ons sommer vir Declan aan die werk om aandete te maak. Alles het heel goed afverloop en ons het eers die volgende oggend regtig die buurt gaan verken.

Die Preekstoel wat uitsteek in die water


Ons heel eerste stopplek die volgende oggend was die Preekstoel - 'n waterverweerde rotsformasie wat uitstaan uit die golwe en lyk soos 'n preekstoel. Dit was wonderlik, maar wat ons asem weg geslaan het was 'n hele hoop nautilus-skulpe wat iemand op een van die duine gelos het!

'n Hele hoop nautilus skulpe wat iemand daar op die sand gelos het!


Dit was ongelooflik om so baie van die skaars skulpe op een plek te sien en ek en Declan was so bly dat ons ook nou elkeen een so skulp het. Charma s'n is in veilige bewaring by ouma, so ons moet ons skulpe nou baie mooi oppas.

Ons het mooi videos van die paling geneem met die gopro - julle moet kyk as ons youtube video op is van die maand - dit sal daarop wees!


Ons volgende stop in Stilbaai was die informasie sentrum waar daar 'n varswaterpoel is (a.g.v 'n natuurlike fontein) waarin daar palings voorkom. Die tannie het vir ons mooi verduidelik hoe 'n paling 'n nagdier is wat in vasrwater voorkom, maar wanneer volgroeid is - see toe swem (en selfs oor land swerf) om eiers te gaan lê in die see. Ons het die palings uit hulle gate uitgelok met stukkies vleis en die kinders het hulle selfs gevoer!

Die mooiste skulpies opgetel by Lappiesbaai!


Ons het vinnig ietsie te ete gekry by die mark naby die brug en toe is ons na Lappiesbaai, waar die golwe ons baie lus gemaak het om te gaan speel in die branders, maar ons het eerder net strandlangs afgestap waar ons die mooiste skulpies opgetel het.


By Skulpiesbaai het ons die wonderlikste ontdekking gemaak: piepklein pampoenskulpies!

Declan met die vonds van die dag! Die kleinste pampoenskulpie!


Die vonds was so indrukwekkend dat ons vinnig almal hande viervoet rondgekruip het op die sand om te kyk watse klein skulpe ons nog kan kry.

Opsoek na piepklein skatte!


Dit het BAIE moeite gekos om ons weer op twee bene te laat loop tot by die kar om verder te ry na Jongensfontein. Ek wou baie graag daar gaan bly het vir 'n maand, maar ons kon nie 'n plek kry met goeie internet opvangs nie, daarom het ons verby gehou.



Maar sjoe... wat 'n mooie plekkie. Ons het vinnig by die een gety-poel gestop en Charma het 'n vinnige swem ingekry. 'n Ou oom en tannie het mekaar lekker gelief daar in die water en die atmosfeer was vriendelik en lig.

Jongensfontein se getypoel


Van daar is ons verder - na Witsand. Dit is bietjie snaaks as mens eers inry by Witsand - daar is twee borde - een wat sê "welkom in Witsand" en 'n ander een wat sê "Port Beaufort"... so net vir die rekord - ons was by altwee daardie plekke...

Witsand


Witsand is waar die Breerivier in die see inloop. Daar is noudiedag 'n Zambesihaai daar gevang en blykbaar is dit ook 'n goeie plek om "Pansy-shells" te kry. Hulle maak hulleself tuis in die sanderige rivierbedding en spoel uit op die strand of op die wal.

Witsand lê aan hierdiekant van die water en Infanta lê aan die oorkant

Ons is laat gisteraand eers weer terug by ons huisie in Mosselbaai. Interessant hoe vinnig hierdie klaar voel soos "huis".

Vandag het die branders ons geroep en ons was meeste van die dag by hulle. Die golwe was heeltemal anders as al die ander dae en ons ry hulle nou al bietjie beter!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf