Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai

Hierdie week is die begin van ons nuwe jaar op die pad. Baie planne en gedagtes vloei deur ons huis en ons staan verstom met hoe ver ons gekom het. Vandag 'n jaar terug was ons maar nog baie op ons senuwees oor wat vir ons voorlê en nou kyk ons terug met harte wat oorloop van dankbaarheid.



Ons sien uit na die jaar wat voorlê en die keer is ons meer gerus oor die moontlikhede en avonture wat vir ons wag.

By die oorspronklike eerste "poskantoor" in Afrika


Hierdie week voel eintlik of dit net te veel en te vinnig was.

Maandag het ons die Dias museum gaan besoek en die posboom. Ek dink ons is al OP-ge museumbesoek... dit het net uitgeloop in kinders wat vreeslik honger en dors is, ons wat geirriteerd is met hulle en op die ou einde net een deurjaag-ery van punt tot punt. Iets wat wel BAIE cool was, was die skulp-versameling in een van die geboue daar. Die mooiste skulpe wat ons nog ooit gesien het en hulle name is ook daarby! Charma was sommer teleurgesteld in haar eie skulp versameling toe sy al die nuwe variasies van die bekende (en onbekende) skulpe sien.

Binne in die Dias Museum


Die enigste ding waaroor almal altyd opgewonde is, is om te gaan branderplankry. Dit het ons lekker baie gedoen hierdie week.

Toertjies op die strand


Dinsdag moes ek gaan werk het in Kaapstad, so ek het ingevlieg soontoe. Aangesien ons in elk geval moes George toe gaan vir die vlug, het ons besluit (let asb op die "ons", dit was nie net ek wat almal in dit ingeboelie het nie...) om maar bietjie vroeër te gaan en te "sight-see".

Een van die ou kerkies wat ons gaan besoek het


So paar mooi ou kerke was op "ons" lysie, sowel as die ou eikeboom waar 'n ou slot en ketting vasgegroei het in 'n ou eikeboom en laastens was die Outeniqua Vervoer museum.


Die boom staan voor die ou biblioteek (nou die toerisme kantoor)

Die ou slot en ketting in die eikeboom

Die ou eikeboom se slot en ketting was blykbaar gebruik om slawe mee vas te ketting wat verkoop sou word, maar daar is 'n nota opgesit by die boom wat verduidelik dat dit sommer 'n storie is, want die slot en ketting is nie oud genoeg om in die regte tydperk te val nie (en die boom self ook nie). Dit was eerder gebruik om die tennisbaan nette toe te sluit in die dae toe daar nog tennisbane daar was...

By die Outeniqua Vervoer Museum


Die vervoer museum was baie mooi en interessant. Ou treine en stories van die ou stasies en spore regoor ons land. Iets wat help om museums interessant te hou vir die Cloete-kroos is as hulle in en op goed kan klim. Daarvan was daar baie in hierdie museum!



Ek was Woensdag-aand weer terug in George en Donderdag moes daar HARD gewerk word om darem so bietjie skoolwerk te kon wys vir die week.

Vrydag was die plan regtig om Oudtshoorn toe te gaan. Ek het net 3 goed op my... ekskuus, ek bedoel op ONS, lysie... dit is

1. Die Kango-grotte
2. 'n Volstruis-plaas
3. Langenhoven se huis

Die probleem was net dat die golwe REGTIG baie mooi gelyk het daardie spesifieke oggend. So Oudtshoorn het ons nie gesien nie. Die see het wel.

Declan en sy surf-buddy Jack oppad na ons eerste "night-surf"


Vrydag-aand het ons vriende wat ons ontmoet het in Hermanus by ons aangekom en gekuier tot vandag toe. Dit was so lekker.

Ons het gou so paar golwe gery, en die kinders was baie ingenome met hulleself dat hulle vir die eerste keer in die aand ge"surf" het.

Die rotspoele by die punt in Mosselbaai


Saterdag was die eerste ding wat ons gedoen het om te "surf". Tussendeur al die kuiers en gesels het ons ook nog gaan speel in die rotspoele, in die waterpark hier oorkant ons huisie gaan baljaar en bruintjies gebak vir Pieter se verjaardag.



Die rotspoele naby die punt in Mosselbaai is iets baie besonders. Hulle lê in sulke paralelle lyne langs die kuslyn en as die groot golwe deurkom, dan spoel daar 'n sterk stroom na die een kant toe teen die "lyn" af. Wanneer die golwe dan terugtrek, dan draai die stroom om en vloei weer na die anderkant toe. Daar is sulke bruggies en platforms gebou sodat jy kan afspring in die poele in waar dit lekker diep is, en dan ry jy met die stroom af in die een rigting en dan al die pad weer terug in die ander rigting. Ons het so lekker daar gespeel! Dit is egter YSKOUD, so teen die tyd wat ons terug was by die huis was ons blokkies ys.



Vandag verjaar Pieter en ons het dit gevier met nog 'n rondte by die rotspoele. Sy persent was geheim gehou al van Maartmaand af, en hy het vandag eers uitgevind dat hy gaan SKYDIVE! Dit is blykbaar een van die mooiste plekke op aarde om in Mosselbaai te spring. Daar het 'n digte wolk die hele dag gelê op die see, maar wonder bo wonder was dit heeltemal oopgetrek by die klein lughawetjie. Dit was so 'n lekker ervaring vir hom en ons week was heerlik afgesluit.

Pieter se skydive!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai