Week 52 - Mosselbaai, Robberg Stap, St Blaize stap,en branderplankry

Hierdie week was 'n week vol ontmoetings met vriende. Maandgaoggend was sommer die eerste een. Vriende van ons het 'n boot gekoop en is huidiglik in die Knysna Strandmeer waar hulle besig is met voorbereidings om deur die wêreld te seil met hulle seiljag. Ons het met hulle afgespreek om te gaan oorslaap op Robberg in die "Fountain Shack" - 'n Cape Nature hut op die skiereiland naby Plettenbergbaai.

By die Fountain Shack op Robberg


Ons het vroeg opgestaan en gereedgemaak om te gaan stap en oor te slaap in die hut. Die gewone konflik het ontstaan oor die groot tekort aan spasie en die groot begeerte om goed saam te vat wat geen nut op die staptoer sal hê nie. Dit maak nie saak hoeveel keer ek die sakke deurgaan om seker te maak net die "essentials" is ingepak nie, ek kan met 100% sekerheid sê daar sal ten minste een teddiebeer ongesiens deurglip...

Wees gewaarsku - hierdie rugsakke bevat nie net oorlewings-items nie..


Jaaaaare terug het ek en twee van my sussies Robberg gaan stap. Ek moet dit andersom sê want eintlik is ek die jongste, so ek het net saamgegaan. Ek onthou net die stap was baie lekker, en daar was dele wat baie "wild" gevoel het. Ek weet nie of ons reg onthou nie, maar ons dink daar was 'n walvis-skelet wat op die skiereiland strand gelê het. (hy is nou nie meer daar nie).

Dit het heel oggend gereën oppad Plett toe. Alhoewel ons 'n goeie bord hawermout-pap ingehad het, was almal ewe skielik op Knysna lus vir Wimpy-ontbyt. Ons moes ook ons permit uitdruk en die Postnet daar naby was darem al oop.



Die reën het bietjie bedaar toe ons by Robberg aangekom het, maar teen die tyd dat al die vormpies ingevul is en sleutel gegee is en gelde betaal is, het die weer opgesteek en ons het amper sopnat geword met die instap na die hut. Gelukkig is daar net 3 moontlike roetes op Robberg en die paadjie direk na die hut is net 2 km lank. Die hut is oulik uitgelê met slaapplek vir 8 mense, 'n goed toegeruste kombuis (borde, messe vurke, lepels, potte, panne, koppies, ens.) daar is gas vir die stoof en sonpanele vir krag. (Daar is ook 'n stort met warm water wat ons nie uitgetoets het nie...)



Alternatiewe leefstyle...

Om anders te lewe is lekker. Dit voel of ons gemaak is om anders te wees. Dit is 'n onuitspreekbare lekkerte om met mense te kuier wat in dieselfde dink-spasie is as ons. Al doen hulle dit op 'n boot en ons op land is dit nie die norm vir die gewone mens nie. Dis lekker. Ons het gekuier, geëet, gestap, gesels en speletjies gespeel.



Dinsdag het ons uitgestap en 'n laaste koffietjie in Plett geniet. Ons hoop om hulle gou weer te sien, voordat hulle op die grote oseaan weg gaan vaar.


Woensdag het ons vir ons kaartjies gekoop om op die Diaz Express te gaan ry. Dit is so 'n oulike 3-wa treintjie wat ry van Mosselbaai na Maalgate toe. Maalgate is 'n rivier wat sulke gate in die rotse gemaak het. Die trein het omtrent so 45 km gery tot waar hy ry op 'n brug gaan stilhou het wat 75m bokant die rivier is. Dit is baie mooi. Ons het twee keer langs die pad stilgehou (nie gaan staan nie) - een keer vir ontbyt by Seeplaas en die tweede keer vir middagete in Groot Brakrivier by die Transkaroo restaurant.

 Trommeldik terug by Mosselbaai het ons roomys gekoop by die St Blaize ligtoring en in die rotspoele gaan speel. Dit was 'n heerlike stadige dag wat mens bietjie toegelaat het om terug te gaan in tyd en te voel hoe dit sou wees om per trein op reis te wees.

Die Diaz Express

Die treinbrug oor die Maalgate rivier


Die Maalgate rivier

Donderdag het die werk weer ingestroom en ons en die kinders het ingespring en gewerk. Dit maak al hoe meer sin om so te speel wanneer die weer dit toelaat en hard te werk die ander tye, of wanneer die werk instroom. Ons is nou al in 'n ritme sodat ons goed fokus en effektief werk wanneer ons werk, en hard speel wanneer ons speel. Dit voel of ons tyd goed benut en nie sommer mors nie.

(Natuurlik is daar altyd tyd vir bietjie branders ry)


Goeie Vrydag het ons saam met vriende van ons wat hier in Mosselbaai bly, kerktoe gegaan. Ek wil graag my kinders die hele storie van Jesus vertel en in my entoesiasme het ek besluit om vir hulle "The Passion of the Christ" te wys. Dit was 'n groot fout. Dit is BAIE grafies en hulle kon nie eers halfpad kom voordat hulle altwee gevlug het nie. Ai, soms is mens se beste planne maar simpel.

Mooiste Mosselbaai


Daar is hierdie naweek 'n stap-fees aan, hulle noem dit die "Garden Route Walking Festival". Daar is elke dag begeleide staptoere in verskeie dele van die tuinroete en ons het besluit om saam met Tracy-hulle die St Blaize-roete te gaan stap. Die begeleide toer was volbespreek, so ons het maar net op ons eie gaan stap. Dit was so lekker. Die volledige roete is eintlik 13,5 km maar ons het net 8 daarvan gestap tot by die Pinnacle se klubhuis. Daar het ons 'n heerlike buffet-ontbyt geëet en lekker gekuier.

St Blaize Lighuis - die begin van die staproete


Vandag het ons weer kerktoe gegaan en ons sal maar die gewone Jesus-film vanaand vir die kinders aansit om die res van die storie in hulle harte lewendig te probeer maak. Die golwe was klein en mak so ek en die kinders het baie lekker op die branders gaan speel na kerk.

Lekker staproete


Oor 6 dae is ons al presies een jaar lank op die pad. Ons tyd hier in Mosselbaai is ook al amper verby. Tyd staan stil vir niemand nie.




Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai