Week 54 - Oppad na Plett

Maandag (laasweek) het ek uiteindelik my sin gekry om Oudtshoorn toe te gaan. My lysie was nogsteeds net die 3 goed:
1. Langenhoven se huis
2. Die Kango-grotte
3. 'n Volstruisplaas

Kyk hoe lê die wolk op Mosselbaai


Ons het vroeg opgestaan sodat ons so 7uur kan wegkom. Maar soos dit maar gebeur op maandeindes... kom daar toe werk in. Pieter het probeer so goed as wat hy kon, maar op die ou einde het hy maar gebly en gewerk terwyl ek en die kinders gery het. Daar het 'n wolk oor Mosselbaai kom lê wat alles koud en nat gemaak het, maar net soos ons deur die Robinson-pas gery het, was dit asof ons 'n ander kontinent binnegery het. Dit was vrek warm daar.

By Herrie die olifant


Ons eerste stop was CJ Langenhoven se huis - "Arbeidsgenot". Ek het so rukkie terug "Sonde met die Bure" klaar gelees en lees nou so tussenin "Herrie op die ou Tremspoor". Ek is mal oor sy stories en alhoewel ek graag al vir die kinders wou voorlees uit sy boeke, het ons nog nie weer in daardie ritme ingekom nie. Ek het nogtans so vinnig vir hulle vertel dat "sagmoedige Neelsie" verantwoordelik was vir die skryf van "Die Stem" (wat ek toe summier in die kar moes sing vir hulle) asook die oulike storie wat ek pas klaargelees het. CJ Langenhoven het in sy boeke 'n karakter geskep met die naam "Herrie". Dit was 'n olifant. Die olifant het oral saam met hom en sy vrou ("Vroutjie") en sy dogter ("Engela") gegaan. Dit is nogal kostelik en reg voor die ingang van sy ou huis in Oudtshoorn staan nou 'n standbeeld van Herrie. Daar is ook 'n plekkie in die ou stal ingerig vir Herrie en in die huis se gang het Langenhoven spesiaal muurpapier ingesit wat lyk soos olifantvel.

Die olifantvel muurpapier in CJ Langenhoven se huis


Ons tweede stop was die Kango-grotte en dit was asemrowend. Baie dieselfde as die Sudwala grotte in Mpumalanga maar steeds 'n wonderlike ervaring om so in 'n berg in te loop in sulke sale onder die grond. 'n Vreemde oomblik was toe die bruin toergids die akoestiek van die grot demonstreer deur te sing, en sy gehoor se "europees-geid" duidelik sigbaar is want niemand sing saam nie. As daar net een of twee  ander donkerder mense was sou die grotte weergalm het soos almal "Shosholoza" dreunend saam sou sing.

In die Kango-grotte


Ons laaste stop was die Highgate Volstruis-plaas. Die volstruis-ryery is onlangs gestaak omdat dit gesien word as diere-mishandeling. Ek moet sê ek was bietjie geskok oor die toegangsgeld wat gevra is, maar na die bietjie meer as een uur lange toer kan ek erken dit was die geld werd. Ons toergids was 'n pikswart man van die Kongo af. Hy het ons so mooi geleer van die volstruise en sy interaksie met sy gehoor was uitstekend. Almal in die groep se tweede taal was engels so die deelname en maniere van praat was baie oulik! Op 'n stadium verduidelik hy vir ons hoe die volstruis homself groter maak "to cast his spell of fear onto you", dit was vir my nogal 'n oulike uitdrukking.

Hierdie volstruis was bietjie mislik - sy wou ons byt


Ons het agterop 'n donkiekar gery en hy het ons geneem na die 3 verskillende soorte volstruise op die plaas, vir ons hulle eiers gewys en ook laat ons hulle voer. Toe neem hy ons in die stoor in waar die eiers in broeikaste gesit word en terwyl hy toe nog so verduidelik is daar ewe skielik 'n harde slag - amper soos 'n geweerskoot. Net daarna begin iets toe verskriklik te stink. 

Declan staan op 'n volstruis-eier


Niemand het iets daarvan gemaak nie, en ek het so onderweg gehoop dat dit nie my seun is wat 'n wind gelos het nie. Naderhand is die reuk so erg dat die duitsers in die groep verward uitgehardloop het uit die stoorkamer. Van daar af is ons na die werkswinkel toe waar hy vir ons moes wys hoe hulle van die volstruis-produkte maak. Maar dit was 'n onbegonne taak om uit te rig met die verskriklike reuk in die lug! Dit kom toe uit dat een van die eiers vrot geword het en as dit gebeur dan bars so 'n eier en maak die hele plaas sommer en stink-spul!

Charma voer die volstruise!


Ons is daarna terug na Mosselbaai. Met elke kilometer wat ons nader gery het, het die temperatuur gedaal. Die Klein Karoo het kleiner geword agter ons, en ons het dieper in die wolk in gery tot by ons huisie waar Pieter nogsteeds met sy warm baadjie aangesit het - besig om te werk.
Dinsdag was daar werk wat gedoen moes word. Baie daarvan. EN daar moes gepak word. EN daar moes skoongemaak word.

Terug in die wolk


Om ons heerlike maand in Mosselbaai te vier het ons gaan uiteet by 'n restourant op Santos strand. Ons harte is vol van die heerlikhede van Mosselbaai.

Op die vakansiedag het ons toe ons laaste koebaais gesê en pad gevat Plett toe. Die huisie waarin ons hierdie maand in gaan bly huur ons by die mense wat ons mee kennis gemaak het in Langebaan. Dis 'n lekker groot vakansiehuis wat so vriendelik is met al die glimlaggende kinders en kleinkinders se fotos teen die mure wat stories vertel van heerlike vakansies deur die jare heen.

Declan is klaar tuis in die nuwe huisie


Ons het klaar afgepak en die strande gaan verken op Plett. Ons is nog nie seker waar die lekker "surf"-strande sal wees nie, maar die hoofstrand is net so 800m van ons huis af. As ons in ons kamer op die bed lê dan sien ons die ikoniese Beacon Island Hotel daar ver langs die see.
Donderdag en Vrydag het ons weer ons roetines en skedules geskep vir die maand. Roosters vir skoolwerk en huiswerk (skoonmaak) en takies om te doen is bespreek en gefinaliseer en geimplementeer.

By die see - die Beacon Island Hotel in die agtergrond


Ons begin toe beplan aan ons naweke ook en eerste op ons lysie was 'n kuier op de Vlugt.
Saterdag het ons aangekom op de Vlugt met geen idee waar ons eintlik is nie. De Vlugt is op die Prins Alfredpas. Dis die langste bergpas in Suid Afrika en hier is omtrent 40 inwoners. Die bergpas loop tussen Knysna en Avontuur en dis die pad wat Fiela Komoetie gestap het toe die magistraat haar wit blonde seuntjie gevat het in Dalene Matthee se boek, "Fiela se kind". Ons verwelkoming op die plaas was die blink groot ogies van 'n bruinkop seuntjie wat ophelder toe ons om die draai gery kom en hy wat opgewinde uitroep "hulle is hier!".

Franko en Declan


Franko is 8 jaar oud en hy was besig om die skape bymekaar te roep om in die kraal in te jaag. Sy mamma, Alida was by die stoorkamer waar sy en Tienkels besig was om die vark op te sny wat hulle geslag het. Tienkels is van die plaas langsaan en het kom help met die slagtery. Ons het pas aangekom op die plaas en almal ontmoet toe help ons bokke en skape aanjaag in krale in. Ons ontmoet ook toe die res van die lekker groot gesin (6 kinders) wat my laat verlang het na my eie 7 sibbe. Na 'n koppie koffie het ons saamgeloop om die diere almal kos en water te gee en so al kuier-kuier is gebraai en geëet en gespeel.

Heerlike Roosterkoeke


Die naweek was die een plaas lekkerte na die ander. Koolstoof gebakte vars brood, roosterkoeke, heuningbossie ystee, en "free-range" kinders oraloor. Die berge is reg rondom ons so dit was vroeg in die aande donker en laat in die oggende lig. Plaasgeluide en geure het ons omring met skape en bokke wat blêr, hoenders wat kraai en ganse wat skree. Maar as dit donker is, is alles en almal stil.

Die skape word aangejaag


Sondagoggend is ons kerk toe met die enigste "dress code" vereiste dat jou klere skoon moet wees.
"Jesus is lief vir my" is die refrein wat Franko ons oor en oor laat sing het in die kerkie met 14 mense by die diens. Tienkels is ook die predikant en hy het ons mooi geleer van om die pad te loop met Jesus terwyl ons tussenin liedjies sing wat die kinders kies.

Dit was eers die ou skoolgeboutjie, en nou word dit as die kerk gebruik


Soos die dag aangestap het, is die koshuiskinders terug koshuis toe en die huis het stiller geword. Ons het 'n laaste lekker kuier ingekry en vanoggend so bietjie hartseer afskeid geneem van almal.


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai