Week 56 - Lekkerte op lekkerte

Maandag moes ons so paar werkies afhandel vir ons kliënte en toe het ons so net na middag-ete gery na die Keurboom Natuurreservaat hier naby Plett.
Met 'n bootjie die Keurboomsrivier op


Ons het die aand slaapplek bespreek in die Whiskey Creek hut in die natuurreservaat. Om by die hut uit te kom moet 'n mens 7km met kano's roei en dan so paar honderd meter van waar ons die bootjies kon los, stap. Dit is die beste om in en uit te roei wanneer dit hoogwater is, want anders kan jy nie regtig oor party van die dele roei nie omdat dit te vlak is. Die mooiste tonele het ons omring soos ons geroei het. Digte bome teen die berghange (met name wat ek al geleer het en al klaar weer vergeet het)... GROOT bome, bome met baarde, bome met rooi stamme en bome met klein blommetjies op. Dan was daar ook grotte. Groot grotte met diertjie spore vooraan op die sand, klein grotte wat lyk soos voëlneste, groter grotte wat lyk asof iemand een van die dae gaan sê ons voorouers het daar gebly.

Die huisie waarin ons oornag het


Dit was so aanskoulik.

Mooiste omgewing


Die hut was ruim en skoon en ons het lekker warm geslaap in ons eie slaapsakke en met hulle kussings en matrasse. Hulle gee vir mens skoon kussingslope en die hut is goed toegerus met borde en messe en vurke en potte ens. Daar is ook 'n gasstoof en sonpale vir lig en warm water. Die water het net nooit warm geword nie, maar dit was nogsteeds baie lekker.

Goed toegeruste hut


Woensdag was daar natuurlik werk om in te haal en na dit gedoen is, het ons see toe gegaan. Die witdoodshaaie is maar bedrywing hier hy Plett die tyd van die jaar, so die surfers het mekaar laat weet ons moet maar verbyhou. Ons het toe gegaan om die hommeltuig bietjie te vlieg en word toe bederf net die ongelooflikste skouspel van dolfyne. 

'n Selfoon kan maar net nie dit mooi raakvat nie... kyk maar uit vir ons youtube video oor Plett - ek gaan dit daarin mooi wys :-)


Honderde van hulle wat hulle eie branderry speletjies speel. Met draaie en swaaie en spronge waarvan die meeste "pro-surfers" net kan droom.

'n Interessante ding van die strande hier by Plett is hoeveel wit mossels daar is. So baie dat die sand sommer so kraak as jy daarop loop. So baie dat jy eintlik nie kaalvoet wil gaan surf nie want jy gaan dalk jou voete sny. Dit is indrukwekkend hoe hierdie goed werk en hoe elke strand en baai of skiereiland 'n ander soort skulp of skulpe se habitat is.

Duisende wit skulpe!


Gister het ons besluit om die hele Robberg staproete te gaan doen. Dit is 'n 9km roete waarmee jy basies in 'n sirkel stap om die skiereiland. Dit was so die moeite werd. Ons het honderde robbe en hulle kleintjies gesien en die mooiste tonele. Die rotste op Robberg is so kleurvol en die kontras teen die verskillende groene van die bosse en die verskeie skakerings blou van die see was mooier as die mooiste skilderye.

Mooiste staproete xxx


Na Robberg is ons na "Radical Raptors" toe waar ons 'n tentoonstelling van arende, uile en ander roofvoëls gaan kyk het. Dit was so interessant om hulle te beleef.

By Radical Raptors kon ons van die roofvoëls vashou - ek dink hierdie was 'n Jakkalsvoël


Vandag het ons bietjie Buffelsbaai toe gery want ons het gelees dat daar 'n vriendelike branderplankry plekkie is. Ons was die hele dag daar en dit was behoorlik lekker. Vriendelike mense, lekker golwe en 'n pragtige strand. Ons wil graag weer soontoe gaan.

Mooiste Buffelsbaai

Ons het nou nog net een naweek oor hier in Plett. Die tyd vlieg behoorlik! Ons moet nog in die Knysna woud gaan stap want ons is juis nou besig om "Fiela se kind" te lees. Ek hoop regtig ons sien 'n Knysna Loerie xxx.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Finding King Shaka's Isivivane

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 35 in Afrikaans - Stellenbosch, Houtbaai, Vishoek, Kalkbaai