Week 55 - Lekker by die see

Maandag het ons die langpad huistoe gekies van de Vlugt af. Ons wou net nog bietjie die na-smaak van die rustigheid op die plaas langer laat hou en daarom het ons terugpad nie net 'n uur geneem soos vir gewone mense nie. Nee - ons het 8 ure geneem om weer terug te kom in Plett. 

The road less travelled by has made all the difference xxx


Ons het opgery met die Prins Alfred pas tot op Avontuur. Van daar af is ons Uniondale toe waar ons honger geword het en ons padkos geëet het by die ou NG kerkie. Met die Swartberge aan ons een kant en die Outeniqua berge aan die anderkant is ons toe tot by de Rust waar ons bietjie in winkeltjies rondgeloop het en nie kon nee sê vir 'n lekkernytjie hier en 'n mooi prentjie daar nie. 'n Oom in een van die winkeltjies het so baie van Declan ("die seun het sulke mooi maniere!") gehou dat hy vir hom 'n vlieer gegee het!

Iewers oppad na de Rust toe


In Oudtshoorn het ons gestop vir 'n lekker koppie koffie (by dieselfde koffiewinkel waar ons gestop het 'n jaar gelede toe ons van Gamkaskloof af gery het oppad huistoe) en toe was die plan om met die Montagupas te ry tot in George. 

'n Lekker koppie koffie in Oudtshoorn


Die ding is net as mens so rondry en rustig voel dan dink ek Pieter weet waarheen hy ry en Pieter dink ek hou die pad dop so toe ons onsself weer kry, toe is ons amper in George en op die Outenikwapas. Van die een uitkykpunt op die pas kon ons die Montagupas mooi sien in die verte en hy is regtig mooi... so ons sal maar moet teruggaan om hom te ry op 'n ander dag.


Pieter doen 'n toertjie op die piekniektafel op die Outenikwapas


Met so baie speel so vroeg in die week moes ons toe maar noodgedwonge heeldag werk Dinsdag, maar daar was darem so rukkie in die agtermiddag wat Declan sy nuwe vlieer kon gaan uittoets op die strand. Die wind het nie regtig lekker gewaai nie so dit was maar ook 'n stryd om die ding in die lug te kry.

Vlieg 'n vlieer!


Ons het op stemdag heel eerste bietjie gaan speel in die see en toe het ons gaan besoek aflê by die wolf "sanctuary" hier naby Plett. Dit was nogal interessant om te leer van die diere en hulle naby famile, die "huskies" en die wolfhonde. Ek is nooit 100% seker wat ek dink van sulke "sanctuaries" nie. Deesdae is daar soveel uitgesproke mense oor die regte van diere dat selfs hierdie plekke van veiligheid dalk nog geklassifiseer gaan word as mishandeling omdat die dier nie in sy eie natuurlik omgewing gehou word nie. 

By die wolwe


 Die plek het ook 'n hele afdeling waar hulle plaasdiere aanhou en die kinders was mal daaroor om al die verskillende skape en bokke en hasies te voer wat so uit hulle hande uit kom eet.

Hierdie oulike goedjies is "Damascene Doves", hulle maak sulke fyn voëltjie geluide


Donderdag was ons van plan om te gaan "surf" na werk maar eers wou ons net bietjie die "drone" vlieg by ons nuwe gunsteling strand (Robberg V), en toe sien ons wragtig twee witdoodshaaie (op 2 aparte vlieg-sessies) net daar by die "backline" waar ons rondhang op ons branderplanke om golwe te probeer vang. Ons was toe nie juis meer lus om in die see in te gaan daai dag nie...



Vrydag na so bietjie skool het ons Charma se nuwe maatjie gaan groet by die strand vir 'n laaste speel voordat hulle huistoe sou gaan. Ons kinders maak maatjies met die interessantste mense en ons sou nooit soveel mense al leer ken het as dit nie vir hulle was wat so vinnig nuwe maatjies gemaak het nie! Hierdie nuwe maatjies het ons sommer summier genooi om by hulle ook te gaan kuier as ons in die Ooskaap aankom.

Hoeveel graad 2's kan sê hulle het hulle Vrydagoggend SO spandeer?


Gister het Pieter vir sy heel eerste offisiele "surf" les gegaan en ek was redelik skrikkerig oor die haaie wat ook dalk daai oggend daar wou gaan speel. Die "surf coach" (in hakies vir die regte rede hoekom goed in hakies moet wees m.a.w. omdat dit in Engels is terwyl ek Afrikaans skryf, en nie soos die kinders praat omdat ek sarkasties is en eintlik die teenoorgestelde bedoel nie...) het darem redelik ondervinding met hierdie tipe goed en sy raad was dat mens net rustig moet wees terwyl jy vir die golwe wag... jy moet nie angstig in die golwe in "paddle" nie. Ek is duidelik nog 'n baie onervare "surfer" want ek verstaan nie heeltemal sy raad nie...

Gereed vir aksie


Vandag het ons bietjie rondgery in Knysna - George Rex se graf gaan besoek, Thesen eiland gaan verken, rondgeloop en by mooi winkeltjies gaan inloer en die heel beste deel - vir ons vriende op "Sailing Pluto" mooi gaan groet voor hulle vertrek op hulle lang seevaart die wye wêreld in met hulle seiljag.

Waar ons gekuier het vanaand :-)


Ons voel nou geinspireerd om nog so rukkie ons alternatiewe lewenstyl te volg met meer durf en vasberadenheid, en om sonder angs hierdie golf te ry vir so lank as wat ons kan.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai