Week 57 - Ons laaste volle week in Plettenbergbaai

Hierdie week het ons baie werk (WISKUNDE) gehad om te doen, maar tussenin het ons opgelees oor haaie, geleer hoe loeries sing en hoe om stories beter te vertel. So tussendeur die tafels en tellery het die kinders ook geleer hoe om vloere ordentelik te vee en badkamers skoon te maak... 'n mens kan regtig so baie doen met tuisskolery :-)

Wiskunde ...

Dinsdag het ons gery na die Forest Hall Estate toe om vir Pieter (of Piet) te ontmoet. Hy bestuur so paar sulke pragtige ou plase hier in Suid Afrika vir oorsese mense en was vriendelik genoeg om ons toe te laat op hierdie een naby Plettenbergbaai. Die huis dateer uit die 1800's uit en is omskep in gastekamers vir mense wat stylvol en geseënd is (ons is ook natuurlik geseënd, maar ek bedoel op 'n spesifieke geldelike manier geseënd :-)). Al die geboue op die plaas is dieselfde mee gedoen en mens kan heerlike samekomste op hierdie pragplek vier.

Die mooi groot huis op Forest Hall Estate


Ons was egter daar vir die stap en die verken van die plaas omdat hy op so mooi deel van die kuslyn lê waar bos en see bymekaar kom. Pieter het vir ons gesê die "Disa newdigateae" het nou die perfekte omstandighede gehad om te kan blom (hierdie orgidee was laas gesien in 1905) en ons moet uitkyk vir hom. Ons het natuurlik ook ons oë en ore gespits vir die Knysna Loerie.




Hierdie nuwe mengsel van natuurskoon (woud en wilde kuslyn) skep 'n dillemma by my om regtig met oorgawe te kan sê wat my gunsteling soort plek is... daar is so baie om van te kies in ons mooi land... bosveld, see, berge, woud...

Die opsies maak dit so moeilik!

Die prentjie van die agterstoep af


Ons het nie die skaarse orgidiee OF die knysnaloerie gekry nie, maar dit was nogsteeds heerlik. Dit is 'n baie styl stappie van die huis af ondertoe maar dit is darem nie so ver nie. 'n Interessante detail van die plek is dat baie films daar geskiet is.. onder andere die nuwe "Fiela se Kind", so in die bos het ons fotos geneem voor die bosmense se huisie soos in die film gebruik is.


Toe ons onder by die see uitgekom het, het ons eers lekker middagete gemaak, en daarna het ons ure lank skulpies en klippies en rotspoele bestudeer. Dit was so lekker - ons het gevoel of ons die enigste mense op aarde was vir daardie rukkie.



Dit is ongelooflik hoeveel meer seelewe ons kon sien net omdat minder mense daar rond is.

Ons kon Robberg en die Beacon Island resort sien in die verte maar dit het gevoel of ons BAIE ver van Plettenbergbaai af was!



En net so tjoef-tjaf is nog 'n dag verby.

Pragtige rotspoele! Ons het selfs 'n lewendige perlemoen gesien!


Pieter het ook sommer die kinders ingeskryf by die "surf" skool hier in Plett, so Maandag, Woensdag en Vrydag was die kinders lekker in die see saam met ander kinders. Daar is baie witdoodshaaie gesien die laaste ruk, so ons bly maar vlak wanneer ons ingaan of gaan soms glad nie in nie. Dis een van die voordele om in te skakel by so "skool" jy weet waar en wanneer dit veilig is.



Wiskunde is wat ons die dag weer mee omgekry het Woensdag en dit was met tye baie moeilik (soos dit maar is met Wiskunde). Gelukkig kon ons Donderdag en Vrydag ook daarmee aangaan, so toe ons Saterdag besluit om uiteindelik in die Knysna bos te gaan stap was dit vir ons almal se deurmekaar wiskunde-breine heerlik.

By 'n groot boom in die Knysnabos


En die heel beste van alles? Ons het die Knysna loerie gesien! Sommer baie van hulle! Tussendeur die wiskunde het ons sy roep ook geleer (met ons Roberts' birds app) en ons het hom elke keer gehoor voordat ons hom gesien het. Dis darem vreeslik dat so 'n mooi voël so 'n lelike roep het. Hy klink amper soos 'n seekoei! Dit is 'n redelike sku voël wat hoog in die boomtoppe bly en nie nader kom sommer vir geen rede nie. Maar wanneer hy so ver oor jou vlieg dan skyn die son so mooi deur sy bloedrooi vlerke.

Ons het die 9km roete gestap by Diepwalle


'n Voëltjie wat egter 'n besondere roep het, is die bosmusikant. Eendag sal ek 'n dwarsfluit-duet of iets moet komponeer op sy liedjie want dit is regtig baie mooi.

Natuurlik sê hulle dat daar nog een Knysna-olifant ook oor is in die bos, en die meeste van die 3-ure lange staproete het die kinders se vrae oor olifante gegaan. Elke hopie mis was bestudeer en oorweeg of dit nie dalkies olifantmis kan wees nie... elke boom wat omgeval het is moontlik deur 'n olifant omgestoot en elke voël wat roep kan dalk net wees dat hy ons waarsku teen die grootvoete.

Weer by Buffelsbaai


Vandag is ons weer by Buffelsbaai, so om te keer dat ek nie alweer laat is met die Sondagaand-briefie nie, tik ek maar solank verwoed terwyl Pieter en die kinders op die golwe ry.

Ek wonder of een van julle dalk weet wat hierdie ding is? Ons kry dit oral op die strande en Declan reken dit is haai-eierdoppe...


Hier is nog 'n foto of twee:



Hierdie is ons laaste naweek hier rond - volgende naweek beweeg ons aan Jeffreysbaai toe, waar ons 'n hele 2 maande lank gaan bly! Dan is ons ook offisieel in 'n ander provinsie! (dit het ons net 7 maande gevat om deur die Weskaap te kom...)

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf