Week 59 - Jeffreysbaai en die Baviaanskloof

Jeffreysbaai is baie groter as wat ons gedink het dit sal wees. Hier is baie strande en hulle almal is vol van die mooiste skulpe. Pienkes en rooies en wittes. Skulpe wat draai en skulpe wat plat is en skulpe met tande. Hier is 'n skulpwinkel met skulpe in wat jy meestal self hier op die strand kan optel. Hier is ook 'n skulpie-museum wat ons net MOET gaan besoek al is almal reeds keelvol vir museums.

'n Mooi sonsondergang by "Supertubes"


Ons het kalenders opgestel vir die maand, en roosters vir skoonmaak en kosmaak. Die kinders vorder mooi met hulle kwartaalwerk en ons gaan dit so bietjie rek om die hele maand lank skool te hê. Dan kan ons miskien die hele Julie-maand vakansie hê.

Maandag se groot opwinding was dat Charma haar eie surfboard sou kry. Declan kom al baie mooi reg op sy "pro-surfboard", Pieter lyk al goed op sy "fish" en ek geniet nog die "soft-top-beginner surfboard". So nou is dit Charma se beurt. Die een wat sy van hou is 'n "fish-soft-top". Dis dieselfde vorm as Pieter s'n, maar lekker sag soos myne - so niemand gaan seerkry nie :-)



Daar is niks so goed vir motivering soos die belofte van "surf" nie, so 2-uur Maandagmiddag was 3 eksamens en 'n klomp leeswerk afgehandel, en ons is reguit see toe. Elkeen met sy eie bord. Dit was absoluut wonderlik! Ons het laas in Muizenberg dit reggekry om almal op dieselfde tyd uit te gaan - elkeen met sy eie bord, en dit is net lekker.

Terug by die huis het Declan die volgende dag besluit om in sy "pouse" te gaan skaatsplank ry. Ongelukkig haak sy voet toe vas en hy val homself toe nerf-af. Hy was toe ongelukkig buite aksie wat "surf" aanbetref vir die res van hierdie week.



Ons vriend Theo het ons vertel van ’n lekker webblad wat die “surf-spots” gradeer uit 10 uit. Kitchen Windows - een van die beginner surf-spots in Jeffreysbaai sou Donderdagmiddag ’n 8 uit 10 wees. Toe ons Donderdagoggend wakker word, sit die koue sommer teen die vensters vas. Ek het toe al geweet ek gaan nie in daai water uit nie. Declan se wonde was nog rou, so hy was ook nie van plan om te surf nie, dit het net vir Pieter en Charma oorgelos om die 8 uit 10 te beleef.

Ek kon lekker baie skoolwerk uit die kinders wurg met die koue weer want hoekom sal hulle nou wil buite speel as dit so koud is?

Teen 3uur kon Pieter homself nie meer inhou nie, en het ons ingepak en see toe gery. Eers by Supertubes - die beste surfspot in Jeffreys - gestop en ge”drool” oor die pro’s wat daar hulle toertjies gewys het. Daarvandaan ry ons toe terug "Kitchen Windows" toe om tussen die beginners te wees.

Alhoewel die wind ysig was, het Pieter en Charma dapper opge”kit”. My oë was op die golwe wat soos monsters gelyk het. 8/10 golwe is blykbaar 5 meter hoog en “crash” soos iets wat rotse wil fynmaal. Ek het my dogtertjie oorreed dat dit te koud is om met haar wetsuit in die water in te gaan, en was dankbaar toe sy haar warm droë klere weer aangetrek het. Pieter was ’n ander storie - min mense kry sy kop gedraai. Terwyl hy ingestap het in die see in, het ek en die kinders onsself opgekrul in die kar en hom dopgehou met verkykers. Die golwe was baie wild, maar daar was ’n stroom wat hom ingevat het tot by die plek waar daar so paar ander ouens ook gelê en wag het vir ’n lekker golf. Dis toe dat ek besef, die beginners hang nie noodwendig hier uit as die golwe SO lyk nie. Hierdie ouens was goed. Pieter het so paar golwe probeer ry, maar toe hy so 2 ure later daar uitkom, toe BIBBER hy behoorlik! 



Ons het die naweek in die Baviaanskloof gebly. Daar was geen sein nie, en ons fone se batterye het sommer vroeg al gevrek. Ons het op ’n plaas gebly met die naam “Verlorenrivier” - ’n lekker 4-slaapkamer huisie met krag en water en al die luukshede wat jy aan kan dink. Hier is selfs ’n plaasdam wat omskep is in ’n ordentelike swembad!



Die kloof is beeldskoon. Trekke na die Seweweekspoort en so bietjie na die Sederberge. Miskien selfs Gamkaskloof. Maar wat dit bo alles laat uitstaan is die mense se vriendelikheid. Almal is gasvry, almal groet jou as jy verbyry, nogal met 'n glimlag op die gesig. Ons het bietjie rondgery en by Oom Boetie en tannie Henriette se plaas ingery. Die oom het die grotte op sy plaas almal omskep in gastehuise en die oulikste slaapplekke aanmekaar gesit. Ek sal beslis weer hierheen wil terugkeer eendag en dit beter wil verken.

Een van die huisies in die Makkedaangrotte

Ons het vanoggend weer teruggery deur die kloof soos ons gekom het. Die paadjie gaan oor en deur die riviertjie meer kere as wat ek kon tel en dit was 'n baie lekker ding vir die kinders om op die dak te lê terwyl Pieter stadig deur die water ry. Soos ons deur die vallei gekom het, en teen die berg opgeklim het, het die omgewing skielik verander en ons was weer omring deur Kaapse fynbos en proteas.



Ons was 'n paar keer verras deur bosbokkies en koedoes en een keer selfs deur 2 swart renosters. Ek hoop die kloof sal ons gou weer sien!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf