Week 60 - Seemonsters en yswater

Ons het 'n goeie duik gemaak in Dalene Mathee se "Fiela se Kind" in die Baviaanskloof laasnaweek en ons kon net nie anders as om hierdie Maandag die week te begin met verder lees nie. Dis 'n lekker aktiwiteit wat ons saam kan doen - ons maak beurte om te lees en almal geniet die storie saam. Ons kon onsself heerlik inleef in hierdie boek, want ons het mos gaan stap in die Knysnabos en ons het daai deel van die kus (die Tuinroete) ook lekker verken laasmaand.

So teen 10uur Maandagoggend was ons kant en klaar met die boek en met gelukkige harte (want Benjamin weet toe mos wie hy is) spring ons toe weg met skoolwerk en werkwerk.


Na werk en skool het ons al die "surfboards" gelaai en see toe gery vir 'n goeie sessie van surf. Ek en Charma het maar voorlangs gespeel terwyl Pieter en Declan dieper ingegaan het. Dit is baie moeilik om met ons sponserige borde deur die sterk golwe te kom tot agter waar mens eintlik moet lê vir goeie golwe. Dis baie makliker vir die twee manne om met hulle vaartbelynde borde deur te sny tot agter.



Gelukkig is Jeffreysbaai vol vriendelike surfers en een so ou kom toe na my en Charma toe aangestap toe ons moedeloos op die strand sit en staar na die golwe. Hy wys toe vir ons waar om in te "paddle" om daar by die "backline" te kom waar Pieter hulle lê, en sê die golwe daar is baie rustiger as hier voor by die strand.

Nouja, ek en Charma voel toe geinspireerd en volg sy instruksies toe tot op die laaste punt. Net toe ons verlig na mekaar kyk en begin geniet om net daar rond te lê op die "backline", toe kom daar 'n monster van 'n golf ewe skielik van uit die bloute (letterlik uit te bloute) en daar is GEEN wegkomkans vir enige een van ons twee nie. Die monster maak sy groot bek toe oop en sluk ons altwee heel in! Na 'n gespook en 'n gespartel wat ek net hoop Charma is nog oraait, en wonder waar is bo en waar is onder, spoeg hy my toe uit op die strand. Ek kyk toe op en sien toe darem Charma is reg by my en heeltemal veilig. Die uitkom is baie vinniger verby as die in "paddle" so ons was sommer vinnig weer op die strand. Ons sit toe maar weer net daar en kyk hoe die ander dit doen :-)

'n Rukkie later kom Declan ook bedremmeld daar aan. Die monster-golf het hom ook geëet en ongelukkig op die rotse uitgespoeg! Hy het ongedeërd daarvan afgekom, maar sy bord het so paar duike en skrape bygekry. Gelukkig is Jeffreysbaai vol van surf-winkels en daar was 'n ou wat sommer vinnig sy bord kon regmaak.

Declan gee sy surfboard in om teggemaak te word


Die snaakse ding van surf is dat selfs 'n slegte dag in die see lekker is. 

Die weer in Jeffreys is die laaste tyd baie eienaardig. Party dae is warm genoeg dat meisies in bikinis op die strand kom lê, en ander dae is nou weer so ysig dat ons al ons wolmussies en serpies en kombersies uithaal om te kan oorleef. 

Ons ervaar die mense hier is oor die algemeen baie vriendelik. Sommiges is so vriendelik dat hulle jou goed wil "leen" sonder om te vra, maar hulle sal jou ten minste nie seermaak daarvoor nie. Dit help.

Om branderplank te ry word nou regtig vir ons die hoofaktiwiteit van elke dag. Pieter en Declan durf die groot golwe dieper in aan, terwyl ek en Charma voorlangs speel. Charma vang elke "surf-coach" se oog en hulle help haar met 'n glimlag as hulle sien hoe oulik sy opstaan op haar nuwe surfboard. (Ek is natuurlik nie so gelukkig nie :-)!)



Hier is 'n hele paar plekke om te surf in Jeffreysbaai. Die een waar ons meestal rondhang, is "Kitchen Windows". 

Kitchen Windows


Daar is 'n rotsrif aan die een kant van die hoofstrand wat die golwe forseer om mooi en sag te breek (meeste van die tyd). Om daar uit te kom moet jy egter deur so paar groot golwe kom, en dit is amper onmoontlik vir my en Charma, maar Pieter en Declan kry dit heel goed reg.

Boneyards


Die ander plek is "Boneyards". Ons waag dit nie daar nie, en al die ander surfers gaan net soontoe met hoogwater sodat hulle nie hulleself stukkend val op die rotse nie. Nie so ver van "Boneyards" af nie, is "Tubes" en "Supertubes". 

Supertubes



Dis die surfspots waarvoor Jeffreysbaai bekend geword het. Perfekte "barrels" wat in sulke mooi diagonale rye aankom, en lyk asof hulle nooit gaan ophou nie. As ons 7 sekonde golfry lank voel, is dit niks teen hierdie golwe nie... party ry sommer vir 30 sekondes aaneen sonder om te stop.



Verder af oppad in die rigting van PE, is "The Point". Mens kan die surfspot sien van "Supertubes" af, en baie ouens wat daar surf, het "longboards". Blykbaar sal Pieter en Declan ook daar kan surf (so sê die surf-coach in Plett), maar dit is ook op 'n rotsrif, so ons sal maar moet sien of hulle reg gaan wees vir dit.

Die laaste plekkie is "Albatros". Ons het hierdie week vir die eerste keer daar gaan surf en dit was heel lekker vir my en Charma. Pieter en Declan het dit nie soveel geniet nie. 



Vandag het ons vir Ouma Annette gaan haal by Port Elizabeth se lughawe. Sy gaan die hele week by ons kuier en ons is sooo opgewonde daaroor! Die enigste negatiewe deel van ons padrit is dat ons so ver is van ons familie af, en so 'n kuier is vir ons baie kosbaar. 



Ons het sommer vanoggend saam met nuwe vriende gaan ontbyt eet en die dorp bietjie verken vir die lekkerte. Port Elizabeth is regtig 'n mooi stad en ons was verbaas oor hoe skoon dit is! Ons het so rukkie lank gekyk na 'n branderplankry-kompetisie by die een strand en dit was nogal baie interessant om dit te beleef. Die strande is mooi en die badkamers is skoon, so ons sal seker weer teruggaan soontoe.


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai