Dit gebeur nie baie dat golwe my
nie intimideer nie, maar Maandag was so 'n dag. Ek en Charma kon altwee by die "backline" uitgepaddle kom en die golwe het meestal sag en vriendelik gebreek. Dit het so lekker gevoel en ons het branderplank gery totdat ons naderhand nie meer ons arms kon beweeg nie. Ek voel net elke keer half ingedoen as ek so 'n lekker golf gery het en ek kom op uit die water uit en niemand "cheer" vir my nie. Dit het so amazing gevoel dat ek amper gevoel het almal op die strand moes vir my 'n staande ovasie gegee het... nouja - in my kop voel dit natuurlik baie meer "epic" as wat dit lyk. Dit is regtig die waarheid. Pieter het noudiedag my afgeneem toe ek so paar golwe gevat het, en toe ek uiteindelik die video's kyk kon ek nie glo dat DIT was hoe ek gelyk het nie! Dit was asof die video gelieg het, want dit het baie "cooler" gevoel as wat die video's dit uitgebeeld het ...
|
By St Francisbaai |
As die weer draai en die golwe is nie mooi vir branderplankry nie, dan moet ons maar bietjie rondry en ander plekke gaan kyk. Dinsdag was so 'n dag. Ons het St Francisbaai toe gery en tot by Kaap St Francis gegaan. Die hoogste klip-ligtoring in Suid Afrika is mos daar en hy is al in die 1800's gebou. Daar is sulke mooi stap en fietsry-paadjies en die mooiste skulpe op al die strande. Ons het lekker gestap en skulpe opgetel en toe kyk ons hoe die walvisse dans. Daar was seker omtrent 10 walvisse wat ons kon sien wat beurte gemaak het om hulle danspassies uit te haal en hoë spronge te maak net naby genoeg vir ons om hulle te sien, maar te ver om mooi fotos te kan neem met selfone.
|
Kaap St Francis se ligtoring |
Ons skulpie-versamelings het vreeslik gegroei met pampoenskulpies en skroefskulpies en die mooiste kleinste skulpies - amper soos daar by Skulpiesbaai in Stilbaai. Dit was so 'n lekker dag by Kaap St Francis dat ons die volgende dag weer soontoe gegaan het. Ons was die hele dag by die see. Die keer het ons branders ook gery. Die "surfspot" se naam is "Sealpoint", maar gelukkig was daar nie robbe nie en daarom hopelik ook nie haaie nie :-).
|
Visvang sessie by Kaap St Francis |
Toe ons arms te moeg was om nog verder te "surf" het Pieter en die kinders probeer visvang van die rotse af. Die kinders was baie meer suksesvol met klein visnette as Pieter met sy visstok.
|
Die kinders se vangs |
Donderdae is maar altyd werksdae hier in ons huis en ons het eers 3-uur die middag by die see uitgekom. Die golwe was te klein vir Pieter en sy fishboard so die kinders het alleen ingegaan en 'n goeie 3 ure lank gespeel. Ons het 'n pragtige sonsondergang dopgehou en toe weer huistoe gegaan en gebraai.
|
Declan en 2 ander surfers by Dolphin Beach in Jeffreysbaai |
Declan het op een of ander manier reggekry om WEER sy bord te beseer. Ons vat die bord toe weer in en loop toe so deur die winkeltjies. Die kinders is al so tuis hier in die dorp dat hulle sommer vooruit loop en vra wat hulle wil vra vir die winkel assistente waarookal ons kom. Oral waar ons kom, hou die mense van ons kinders. Hulle praat met enige iemand en maak sommer vinnig maats. In die foto hier bo was Declan besig om lang gesprekke te voer met die ander twee "surfers" in die water. Dit was 'n pa en sy seun wat saam gesurf het en hy het spesiaal uit die water uitgekom om my te kom komplimenteer oor my oulike seun. Dit is so lekker om die kinders so te sien blom. Dit is 'n geskenk uit die Here se hand dat ons hierdie tyd kan beleef met hulle op hierdie ouderdomme wat hulle is.
|
Oesterbaai se groot sandduine |
Vrydagmiddag is ons Oesterbaai toe. Die dorpie het een kaffee en 'n restaurant en verder is daar sandduine wat lyk asof jy in 'n woestyn is. Die golwe daar lyk gevaarlik en woes en ons het nie daar ingegaan met die surfborde nie.
|
Charma en Ouma Annette |
Na Oesterbaai het ons weer gaan kyk hoe lyk die golwe in Kaap St Francis en dit was pragtig. Charma is ALTYD eerste in haar "wetsuit" en in die see. Die keer was dit presies dieselfde. Sy is so 'n prentjie van dapperheid en selfstandigheid as sy met haar wetsuit aan, en surfboard op die kop aftrippel met die paadjie see toe. Sy kyk nie eers een keer om nie en dit pla haar nie dat sy op haar eie ingaan nie.
|
Pieter en Declan besig om in te "paddle" by Kaap St Francis |
Declan hou daarvan om saam met Pieter in te "paddle" na die "backline" toe. Pieter is groter en sterker so dit gebeur nou maar net elke keer so dat hy ver voor Declan daar uitkom. Dit kry hom egter nie onder nie en hy druk deur totdat hy agter by Pieter uitkom. Dit is een van die grootste voorregte om te sien hoe Declan dapperder en vreesloser word. Sy vordering met surf is verseker indrukwekkend en ons geniet dit verskriklik om hom dop te hou as hy so in die see is.
Saterdag het die foon gesê dat die golwe nie mooi gaan lyk vir branderplankry nie. Daar woed 'n storm op die see en dit het ook die weer bietjie laat draai en vir ons wind en reën en koue gestuur. Ons besluit toe om Stormsriviermond toe te ry en die Tsitsikamma natuurreservaat so vinnig te besoek. Ons het eers net oor die gewone brug op die N2 gestop en oorgeloop oor die Stormsrivier en toe ry ons verder oppad na die natuurreservaat.
Daar naby die afdraai na die reservaat is ook die "Groot Boom". 'n Outeniqua Geelhout wat al ouer as 1000 jaar is. Hy is MASSIEF en pragtig. Ons het weer die Knysnaloerie en die ruigtesanger gehoor, en nog baie ander voëls wat ons nog nie op hulle liedjies kan identifiseer nie.
|
Die ou geelhoutboom |
By die natuurreservaat het ons gestap tot by die hangbrug oor die mond. 'n Mens moet eers deur so stukkie woud stap met mooi gemerkte paadjies en trappe en so aan. Oppad terug, terwyl ons asem skep kom sit daar toe 'n Knysnaloerie so reg by my en my skoonma. Dit was so lekker om sy groen lyf en rooi vlerke van so naby af te beskou!
Hy het seker so 4 sekondes mooi stilgesit voor hy weggevlieg het en ek het lomp met my selfoon probeer fotos neem van hom maar nie regtig dit reggekry nie.
|
Die hangbrug oor die Stormsriviermond |
Oppad terug het ons so stukkie van die Langkloof gery, maar dit was nie Fiela se Langekloof nie.
Vandag moes ons my liewe skoonma weer groet. Dit was so 'n lekker bederf om haar by ons te hê. Die kinders se harte is vol oumaliefde en hulle magies vol sjokelades. Die golwe was mooier vandag, maar bietjie te groot vir ons klomp. Ons het lekker ontbyt saam geëet, en gaan kyk hoe die goeie surfers speel by Supertubes. Daarna het ons ons pad gemaak Port Elizabeth toe om hartseer afskeid te neem van ouma.
|
Lekker middag-ete by "Marilyn's 60's Diner" in die Stormsrivier Village |
Vanoggend het een van ons Instagram volgelinge ons aangeraai om by die Phoenix hotel in Port Elizabeth 'n draai te gaan maak. Hierdie hotel is al in 1837 gebou en is 'n regte geskiedkundige juweel. Hy is oorkant die statige biblioteek waar 'n standbeeld van koningin Victoria pronk. So in die mal mengsel van histories en modern, staan die hotel nogsteeds. Daar is 'n restourant met die naam "The Stage Door". Ons het reeds geëet, maar ons het sommer net ietsie gaan drink om te kan ingaan en rondkyk. Dit was so interessant om te sien hoe die houtbalke in die gebou duidelik met die hand gekap was, soos ons nogal gelees het wat Elias van Rooyen gedoen het in "Fiela se Kind".
|
In die Phoenix Hotel |
Hierdie week wat voorlê sien ons uit daarna om klaar te maak met die kwartaal se skoolwerk en natuurlik na die lekker branders wat ons gaan ry.
Opmerkings