Week 62 - Jeffreysbaai, Bergrivier en tyd om aan te beweeg (2 km verder)

Ek kan nie glo ons is al klaar weer by Sondag nie. Die weke vlieg een vir een verby teen die spoed van lig en met elke sonsondergang sê ons dankie vir die voorreg wat ons het om hierdie lekker lewe te kan lewe van reis deur ons mooiste land.

Mooiste golwe


Die voorspelling vir die week se golwe het maar sleg gelyk, maar Maandagoggend was daar 'n straaltjie hoop vir mooies om deur te kom. Dit het ons forseer om bietjie vroeer op te staan en in die koue uit te gaan om te gaan speel.

Tussen die vier van ons staan ons branderplankry-sake so:
Pieter skop ons almal se alies met die branderplankry (asof ons dit nie verwag het nie). Hy gaan dieper en verder in as wat ons voor kans sien en lyk asof hy al jare lank die ding doen.
Declan is kort op sy hakke. So kort op sy hakke dat ons nou al weet die dag kom dat hy nie meer saam met ons op ons golfies wil speel nie, hy sal beter en sterker wees as Pieter want hy het vroeër (op 'n jonger ouderdom) begin.
Charma is baie dapper en het goeie balans, maar sy kan net eenvoudig nog nie uitkom by die GROOT golwe by die "backline" nie, so sy bly vir ons 'n raaisel oor hoe goed sy nou eintlik is. Intussen oefen sy haar toertjies in die vlakker water en skrik nie vir 'n groot golf wat haar rondgooi terwyl sy op haar kop staan op haar "surfboard" nie.
Ek is redelik voorspelbaar. My reputasie is duidelik dat ek ALLES sal probeer en waarskynlik sal misluk ook.. maar ek geniet dit nogsteeds verskriklik baie, al kry ek nie veel reg nie. Hulle sê eintlik die beste "surfers" is die ouens wat die meeste pret in die water het, so ek doen nie te sleg op daardie maatstaf nie.

Nouja, dit beteken deesdae dat die golwe meeste dae vir Pieter PERFEK is, maar vir ons 3 gaan dit maar sukkelend. Dis moeilik om die monstergolwe dag na dag te trotseer en nie reg te kry om hulle goed genoeg te lees om te vermy om gekarnuffel te word nie. 'n Mens sou dink dat ons na hierdie week se sukkel sou opgee, maar dit is ongelukkig nie hoe dit werk met "surf" nie. Jy sê vir jouself dat dit nie weer gaan gebeur nie, en dan trek jy maar weer jou "wetsuit" aan en stap weer dapper in die monster se bek in sodat hy jou kan uitspoeg. Dan as jy moeg word, sit en bewonder jy die ander "beter" surfers en leer so paar dinge wat hulle anders doen as jy, en probeer dit weer die volgende dag.

Die son het ten minste lekker geskyn ook Maandag en daarom was daar sommer wasgoed gewas en huis skoongemaak tussenin alles.  Die reën het iewers daai nag gekom en die hele Dinsdag en Woensdag gekuier. Dit het ons forseer om uiteindelik binne te bly en al die kwartaal se werk klaar te maak. Die wasgoed het ongelukkig nooit droog geword nie en ons het sekere goed maar droog geblaas met die haardroeër sodat ons darem relatief skoon kan aantrek. Die res van die goed was ek vandag maar weer, want dit het daai suur reuk wat nat wasgoed na 'n ruk kry... (en dit is ook nou nog nie droog na vanoggend se was nie)

Skulpies optel


Donderdag was ons behoorlik uitgehonger om buite te gaan speel en ek en die kinders het vir Pieter alleen gelos by die huis om sy werk te doen terwyl ons gaan kyk het hoe die golwe lyk. Die kinders is nou altwee klaar met al die tweede kwartaal se werk (dankie tog!) en ons doen elke dag net een bladsy wiskunde. Die golwe was rof en onbeskof en selfs die vlak golfies het ons rondgegooi dat ons doer trek! Dit breek dan soms mens se moed om te probeer branderplank ry, maar dit bly mooi en lekker en ons het intussen NOG twee emmertjies vol skulpies opgetel. Ons ken nou ook al mooi name van skulpe in Afrikaans soos "babatoontjies", "kamskulpe", "spookhandjies" en "gesiggies".

Vriende uit Pretoria uit (die Kelbers) was in Jeffreysbaai vir die week en ons het bietjie met hulle gekuier, toe nooi hulle ons saam na 'n mooi familieplaas hier naby - Bergrivier. Die plaas het 'n hele paar lekker-bly huisies en kampplek om oor te slaap. Daar is selfs 'n paar ossewaens waarin jy die nag kan deurbring in 'n heerlike dubbelbed! Ons het gaan piekniek hou en braai en later gestap deur die bos tot by 'n mooi waterval.


Ons respek het sommer verdubbel vir die Kelber middelkind - Stéfan - toe hy per ongeluk die "gopro" in die YSkoue water verloor het (lang storie kort - die dryf-meganisme het nie gewerk nie) en 3 keer geduik het tot heel onder om hom te soek! Kliek hier bo (of hier) vir die video daarvan - jy kan sommer die verligting sien van sy "gehoor" (audience) toe hy die laaste keer opkom met die "gopro" in sy hande!.

Dit was net die 3 wat dapper genoeg was om te swem, die res van ons het ons warm baadjies net stywer om ons getrek!



Gister en vandag was die golwe aansienlik mooier en ons het onsself moeg gespeel in die water. Ons speel so lekker dat ons almal se nekke en rûe sommer styf is!

Ons trek vandag en more in ons nuwe huisie in. Ons gaan nogsteeds in Jeffreysbaai bly, want ons wil graag die "J-bay Open" kyk. Die "pro's" het al klaar begin arriveer en op instagram het 'n hele paar van hulle al aangekondig dat hulle hier is. Die opwinding is GROOT!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai