Week 64 - 'n Nuwe surfboard en ander olifantstories

Die weer het begin draai Sondag toe die pro's begin opwarm het vir die kompetisie wat hierdie week begin het. Die wind het versriklik gewaai en die golwe het baie groot geword. Dit is nie goed vir mens se selfbeeld as jy probeer om sulke golwe te ry as jy nog nie eers kleiner golwe mooi kan ry nie. Pieter het nie daai problem probleem nie. Hy ry sommer enige golf!

Die mooiste sonsopkoms!



Maandag het die golwe - snaaks genoeg - BAIE klein geword en mense wat nooit by Point en Boneyards "surf" nie, het daar rondgehang. Dit het so lekker gelyk dat Declan en sy maatjie Jack sommer ook uitge"paddle" het daar. Hulle het nou nie enige golwe gery nie, maar net die feit dat hulle daar op die rotsrif in en uitgegaan het, is nogal baie indrukwekkend. (Net vir die wat wonder - Pieter het wel saam met hulle uitgegaan)

Dinsdag het die Corona Jbay Open offisieel begin. Groot opwinding! Ons het ons "apps" afgelaai op ons fone, en vroegoggend al die boodskap gekry dat die eerste rondte (of "heat") 7h30 sal afskop. Ek kon myself skop toe ons so vroeg op die strand is, dat ek nie meer sonsopkomste kom kyk nie - dit is SO mooi!

Alles gereed vir die kompetisie om te begin by Super Tubes


Die surfers hier in Jeffreys - of hulle nou hier bly of nie - het swaar afskeid geneem van "Super Tubes" daai oggend. Dié "surf-spot" is afgebaken vir die kompetisie en so van half 8 af (toe hulle eintlik al moes begin het) het die opdrag hard en duidelik oor die mikrofone gekom dat die "free surfers" nou asb uit die water uit moet kom. So 'n handjievol het dadelik geluister, maar die meeste het gemaak of hulle doof is. Toe kom daar so paar mooi "sets" deur en die stem oor die mikrofoon por hulle almal toe aan om hierdie golwe te gebruik om mee uit te kom. So paar van hulle "paddle" toe, maar draai parmantig hulle borde om en wag vir nog 'n golf. So het dit aangegaan tot op die heel laaste. Hulle het op die ou einde GLAD NIE uitgekom nie, maar eerder net bietjie verder afgery met die stroom na die volgende "surfspot" toe.

Altyd tyd vir nog skulpies optel


My groot opwinding het egter nie Dinsdag by die kompetisie gelê nie, maar eerder by my GROOT persent van Pieter af. My liefste man het vir my 'n 10'2" surfboard gekoop! Nou as dit nog nie duidelik vir julle is nie, dan sal ek dit nou vir julle uitspel:

Ek is nie regtig "surfer" materiaal nie. Nie eers amper nie. In die regte lewe is ek veronderstel om die vrou te wees wat op die strand lê en wag totdat die man en kinders weer besluit om uit die water te kom. Dan moet ek regstaan met sonroom en toebroodjies en almal vriendelik ontvang en terugstuur water toe. Maar daar is nie 'n manier dat Pieter my so sal agterlaat nie. Hy is die ou groot motiveerder. Die een wat my dapperder maak. Dit geld vir "surf" ook.

Hy verplig my baie vriendelik en opgewonde om saam te "surf".

Dit is egter toe nou regtig baie lekker om so in die seewater te speel en rond te plas. Die sand en die taai seewater wat na die tyd vasklou aan jou lyf is nie so erg soos ek dit altyd onthou het nie, en dit voel maklik en natuurlik om elke keer weer en weer (en weer) terug te gaan.

Snaaks. Ek het dit nou nooit van myself verwag nie.

Nouja, die feit dat ek dit GENIET beteken nog glad nie dat ek dit al baasgeraak het nie. So, my geniale man weet toe net dat hoe groter die "board" is, hoe makliker sal ek kan opstaan. Hy het eintlik al 'n hele rukkie lank sy oog al op hierdie "board" en het nou besluit dit is die regte een, en Dinsdag was DIE dag wat die "board" hier aangekom het. (Wat is in elk geval die regte spelling vir die afrikaanse weergawe van "board"? Is dit maar net 'n "plank"?)

Eerste keer in die water met my nuwe PLANK!


Ek was eintlik skoon op my senuwees toe die "board" uiteindelik hier uitkom... en hy is MASSIEF groot. Ek gaan nou so sterk word van dit rond-dra oral - en nog oor die sand ook! Maar dit is "magical" as die golf kom en my vorentoe druk - hoe stewig die plank onder my voete voel, en hoe maklik hy gly oor die water. My hart borrel sommer oor as ek dink aan hoe bederf ek is met so oulike man wat so raakvat as dit kom by sy vroutjie se vermoeëns :-)


Die Corona Jbay open kompetisie is baie lekker om te kyk. Die surfers is oor die algemeen almal baie vriendelik en hulle gee maklik hulle handtekeninge en neem graag fotos saam met hulle aanhangers.


Van die mans wat deelgeneem het aan die kompetisie


Woensdag was daar ewe skielik baie werk wat ingekom het vir my en ek het eers later die middag afgestap na waar Pieter en die kinders gekyk het hoe die meisies kompeteer. Die golwe het intussen so klein geword dat hulle die kompetisie "on hold" gesit het en vir die volgende paar dae gewag het vir groter golwe om deur te kom.

Dit was my "teken".

Kleiner golwe beteken ek kan my nuwe "board" gaan uittoets, en die keer het ons "Kitchen Windows" toe gegaan.

Mooi klein golfies by Kitchen Windows


Ek was ongelukkig ONMIDDELIK geintimideer deur die ander surfers wat daar uitgehang het en Pieter het al sy dae gehad met my om my geposisioneer te kry op die regte plek vir 'n golf. Toe ek uiteindelik een vang en opstaan, het 'n ander ou wragtig ook hom gevang (wie blammeer hom nou eintlik - hy het seker voorspel dat ek die golf sou mis) en ek skrik toe en spring af voor ek die golf klaar gery het. Simpel fout.

Nog 'n paar pro-surfers


Ek het toe weer terug gegaan en nog 'n keer probeer, maar die keer was ek heeltemal te naby aan die rotse en ek beland toe in 'n penarie. My held van 'n man was darem reg agter my (ook in die rotse vas) en ons twee is toe darem uiteindelik daar uit - see-kastaiings in die voete en al!

Ek was so vies vir die flippin selfsugtige surfers wat my nie eers 'n golfie wou gun nie, maar toe herinner Pieter my dat ek nie op die regte plek gelê het nie, so ek het eintlik op hulle inge"drop" en nie hulle op my nie...

Lekker saam met pappa by die kompetisie


Die res van die week was dit elke dag maar dieselfde storie - as die golwe te klein was, dan was ons in die water en as hulle groter was, het ons die kompetisie gaan kyk. Ons was ook by 'n offisiele Roxy & Quicksilver aand waar die surfers wat deur hulle ge"sponsor" is handtekeninge uitgedeel het. Dit was vir die kinders sommer baie lekker want ons het elkeen 'n klomp "stickers" gekry en persente nadat ons 'n uur lank in die ry gestaan en wag het daarvoor!

Charma kry handtekeninge by die Roxy-surfers


Saterdagoggend VROEG het ons gery na die Addo Olifant Park! Dit is die eerste keer in ons al vier se lewens dat ons soontoe is en wat 'n pragtige park. Die vriende saam met wie ons gegaan het, het ons onlangs eers ontmoet. Onder normale omstandighede moes dit eintlik slegte gevolge gehad het om so saam met wild-vreemde mense in 'n wildreservaat rond te ry, maar deur goedheid van Bo het ons so lekker gekuier en saamgery. Ons het elkeen in ons eie spasies gebly en die kinders het meestal almal in een kar gery. Hulle was poot-uit na 'n laaaaang dag!

Lekker om so klomp mense te wees wat saam deur die Addo gery het!


Die park is regtig pragtig. Pieter sê natuurlik elke keer niks kom by die Kruger Wildtiuin nie, maar ek geniet die kleiner parke nogal. Dit is hanteerbaar vir my. Jy sal nooit deur die Kruger wildtuin kan kom binne 'n dag of twee nie.



Ons het baie olifante gesien, maar ook koedoes, rooi hartbeeste, jakkalse, vlakvarke en baie mooi voëls. Ek geniet ons "Roberts Bird" app verskriklik baie want hy kan die voêls se liedjies ook speel. Ek dra mos bril - so ek sal baie vinniger 'n voêl HOOR as wat ek hom sal SIEN. My gunsteling voëlsange is die bosmusikant, die vleiloerie, die geelbekbosduif en die rooiborsvleikuiken.



Vanoggend het ons met koffiebekers in die hand gaan kyk hoe die son opkom in die voël-kyk hut. Daarna het ons rustig ons pad terug gemaak Port Elizabeth toe en nog saam met ons vriende gekuier. Ons sien uit om hierdie week die res van die kompetisie te kyk en dalk nog die laaste paar pro's se handtekeninge te kry. Ons tyd hier in Jeffreysbaai is ook vinnig besig om uit te loop en ons reëlings is nou ook in plek om volgende maand die hele maand lank in Port Elisabeth te bly. Ons sien baie daarna uit en gaan vir julle alles vertel wat gebeur!




Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf