Week 66 - Laaste rukkie in Jeffreysbaai

Ons het oral waar ons gekom het sover, probeer inskakel by welwillendheidsprojekte. 'n Mens sou dink dat dit maklik sou wees om sulke projekte te kry en in te skakel, maar dit lykmy dit verg nogals aandag en inspanning om betrokke te raak. So oor die laaste 15 maande het ons redelik onsuksesvol betrokke geraak by ons land se verskeie opsies om te "volunteer". Nie dat ons NIKS gedoen het nie - ons het al kos uitgedeel by 'n sopkombuis en uitgehelp by 'n kleuterskool, maar nie so gereeld soos ek gedink het ons sou wou nie.

By die Jbay Recycling Project (foto van hulle Facebook-blad af gekry)


Jeffreysbaai voel egter anders. Dalk 'n bietjie meer toeganklik en vriendeliker selfs.

Miskien is dit omdat ons nou al 2 maande lank hier bly. In elk geval hoe dit gebeur het is -

Toe ons by Barry Hilton se optrede was laasweek, het ons nuwe mense ontmoet aan die tafel waar ons gesit het. Dit was toevallig die dag wat my nuwe branderplank daardie middag HARD op my kop geland het, en ek het verbale diarree ontwikkel om dit te probeer verwerk. Almal aan tafel het my dus daardie aand leer ken as die een wat bietjie sukkel met haar "longboard".

Die paartjie wat reg oorkant ons gesit het, het uitgelate en kliphard daaroor gelag want hulle kon sekerlik die prentjie mooi vorm in hulle gedagtes van hoe ek daardie dag moes lyk toe ek gesurf het. Nouja ons het 'n geselsie aangeknoop en hulle het ons vertel van die "Jbay Recycling Project".

'n Seuntjie met al sy baie herwinnings-sakke (foto gekry van hulle Facebook-blad)


Hoe dit werk is dat die kinders in die buurt herwinbare gemors moet bymekaarmaak en uitgesorteer in sakke pak. Plastiek in een sak, glas in 'n ander sak en blik in 'n ander sak. Hulle bring dan elke Maandag hulle sakke na die perseel in Pellsrus waar 'n klomp "volunteers" hulle inwag. Daar staan 'n groot skaal en die sakke word geweeg. Volgens die gewig en natuurlik watse materiaal dit is, verdien die kind dan "mula". Dit word aangedui op sy kaartjie by die tafeltjie wat beman word deur nog volunteers. Die kinders se handjies word dan gewas deur die volgende volunteer en van daar af staan hy of sy in die ry by die winkeltjie. 'n Ander volunteer vat dan die kind se kaartjie en sien hoeveel "mula" daarop geskryf staan en stap saam met die kind deur die winkel om hom of haar te help om te besluit waarop die mula spandeer sal word.

Een van die helpers wat in die klerewinkel help (foto gekry van hulle Facebook-blad)


Dit is so 'n vindingryke projek! Die kinders kan kos, klere, speelgoed en skryfbehoeftes vir hulleself aankoop met hulle "mula". Hulle kan ook besluit om dit te spaar vir volgende keer totdat hulle meer bymekaar gemaak het.

Hierdie dogtertjie het vir haarself 'n pragtige kombersie gekoop met haar mulas(foto ook gekry van die facebook-blad)


Een klein seuntjie (seker so 4 jaar oud) met 'n snotneus en vuil klere het al die pad aangesukkel gekom met 'n hele "kontrepsie" aan 'n tou in sy hand agteraan gesleep. 'n Tou, vasgemaak aan 'n boks, nog 'n tou en 'n ou gym-sak - alles vol plastiekbottels en blikkies. Een van die vrouens het dadelik nader gegaan om hom te help aansleep en hom op sy naam genoem. Arno het met blink ogies geroep "Tannie! Gaan ek BAIE mulas kry tannie?" Hy het haar gevolg tot by die weegskaal waar hulle nie dadelik kon weeg nie want sy gemors is nie mooi uitgesorteer nie. Dieselfde tannie het hom gougou gehelp om dit uit te sorteer. Sy het mooi gewerk met sy tou en sy sak en sy boks, maar hy wou dit nie terughê toe alles uitgesorteer is nie.

2 Mulas.
Dit is wat sy toe op sy kaartjie geskryf het en waarmee hy tot by die wasbak gestap het om sy hande gewas te kry. Sy ogies het nogsteeds geblink.

Hy het reguit na die fietse toe gestap. Die fiets wat hy wou hê kos 150 mulas. Die ander helpers het verduidelik dat hy moet spaar en dat hy net 2 mulas het. Op die ou einde is hy daar uit met 'n pakkie weet-bix (3 blokkies in) en 'n pakkie langlewe melk (250 ml).

Glad nie ingenome nie.

Hy het die hele middag daar gebly, baie broodjies en vrugte geëet en later uiteindelik opgehou "sulk".

Almal was nie soos Arno nie. Daar was Aya wat 150 mulas verdien het, geen oogkontak met enigeiemand gemaak het nie, maar reguit klerewinkel toe gestap het om vir haar kleiner sussies skoene en skoolrompies te kry. Sy het nie alles spandeer nie, en nog baie gespaar. Daar was ook kinders wat saam-saam reguit na die speelgoed hoekie toe gestap het en vir hulle elkeen 'n pop gekoop het met hulle mulas en baie van die dogtertjies was baie ingenome met hulle helderkleurige kombersies wat hulle kon koop vir R3 mula een.

Daar is iets betowerend aan Jeffreysbaai as dit  kom by die hele "surf-scene". Hier is selfs die Spar se verwelkomings-bordjie 'n foto van branderplankryers op 'n groot golf wat sê "Thanks for dropping in!". Dit is snaaks, want as iemand "in-drop" op jou as jy branderplankry, is dit eintlik nogal ongeskik.

Mooi klein golfies by Point


Iets wat dit alles net nog meer fassinerend maak, is dat hier so baie "shapers" is - dit is die ouens wat die surfboards maak. Tot nog onlangs toe het ons nog net in die kinders se Zigzag tydskrifte gelees van al die verskillende "shapers". Jy kry Sawyer surfboards, SMTH-shapes, Natural Curve en ook Rebel surfboards. Hulle almal (en  nog verseker 'n hele klomp wat my brein nog nie opgemerk het nie) is in Jeffreysbaai. Al die shapers surf self ook nog. Almal is al middeljarig (of dalk al ouer) en hulle loop rond in kortbroeke en plakkies - gereed om vinnig see toe te draf met 'n surfboard onder die arm.

Thys Strydom is een so shaper hier op die dorp. Hy is die eienaar van Rebel Surfboards. Daar is BAIE van die plaaslike kinders wat met Rebel surfboards surf - en hulle surf blerrie goed. Laasweek het Declan en Jack gesurf en toe is van hierdie kinders met hulle Rebel surfboards baie lelik met hulle. 'n Mens noem dit mos  "localism" - wanneer die "locals" jou wegjaag by 'n surfspot want jy is nie deel van hulle nie.

Pieter se surfboard moes reggemaak word en hy besluit toe om Rebel Surfboards te probeer vir die regmaak. So in die verbygang noem hy toe vir Thys van die outjies wat lelik was met die kinders en Thys strip net daar sy moer. SOLIDLY.

Declan se surfboard word ge"de-wax"


Dit is toe nou mos wat dinge begin draai vir Declan. Elke dag daarna, soos wat hulle vir Declan raakloop by die see of by Thys se winkel - vra hulle hom toe onverskoning. En hulle surf saam met hom. Hulle moedig hom aan en help hom om beter te surf.

En toe het Declan die lekkerste dag van sy lewe gehad want oom Thys het hom toegelaat om sy "surfboard" by hom te kom "de-wax" EN toe leen hy nog vir hom 'n Rebel surfboard om uit te toets by "Kitchen Windows". Die beste van alles was toe Dillen en sy sussie Zia ons twee kinders onder hulle vlerke neem en hulle moed inpraat om dieper in te swem en op die regte tye in die golwe instoot vir die lekkerste surf van hulle lewens!

Ek het sommer trane in my oë gekry toe ek sien hoe lekker Declan surf saam met Dillen. My seun het soos 'n "pro" oor die branders gegly - sommer so paar keer! Sy oë het geblink toe hy vertel hoe lekker dit vir hom was en hoe groot die "wave" was en hoe hy net so maklik ge"duck-dive" het. Daar is darem maar min dinge wat kom daarby as die regte mense op die regte tye jou moed inpraat en in jou glo.
Dillen help vir Charma met die skateboard ry


Gister het ons 'n heerlike kuier-dag saam met ons nuwe vriende - die Curries - gehad by 'n plek hier naby Jeffreysbaai - "Jan se Gat". Dit is 'n swemgat by 'n waterval op 'n boer se plaas net soos jy uit die dorp uitry oppad Port Elisabeth toe. Ons het piekniek-mandjie gepak en by die waterval gesit en kuier tot dit middag-ete tyd geword het. Daar is 'n foefie-slide en baie hoë plekke om by af te spring tot in die BAIE diep, BAIE koue water in die poel.

Lekker kuier by Jan se gat


Toe het ons gaan braai by "Lower Point" en gekuier totdat die son onder gegaan het.

Vandag het die ander mense wat aan ons linkerkant aan tafel gesit het by Barry se "show" ons gevat vir middag-ete by "The Greek". Ons het so lekker met Andre en Hester ook gekuier - dit voel of ons al jare lank hier in die Ooskaap bly.

(Ek moet regtig Barry Hilton se optredes aanbeveel - 'n mens ontmoet die gaafste mense daar!)

Terwyl ek nou hierdie laaste paar woorde tik en die laaste fototjies insit voor ek dit uitstuur, surf Pieter weer by Lower Point en die kinders tel skulpies op. Heerlik!


Opmerkings

Nichelle het gesê …
Dankie vir die info. Ek love die JBay recycling projek. Daar is iets so positief daaraan as almal betrokke kan wees en dit op 'n manier dadelik 'n verskil kan maak.
Rut Cloete het gesê …
Ek is bly jy het dit geniet :-)
Ja - ek is mal oor die projek - dink net as daar so projek in elke dorp kan wees - dis so COOL!

Gewilde plasings van hierdie blog

Verf en verf en verf

Week 25 - In Afrikaans (Garies, Vredendal, Calvinia, Nieuwoudtville)

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai