Week 65 - Kompetisietyd en partytjies

Ons Pajero is 'n wonderlike kar. Hy het BAIE spasie, het nog nie een keer gebreek nie, en het ons nog glad nie in die steek gelaat nie. Buiten vir die elke nou en dan se battery wat pap is en die elke nou en dan se wiel wat pap word, is daar niks wat pla nie.

Hierdie was die laaste week van die Corona Jbay Open.
Ongelukkig vir die branderplankryers, was die golwe te klein die eerste twee dae van die week.
Gelukkig vir my was die branders klein genoeg gewees die eerste twee dae van die week.

Mooiste sonsopkomste


My voorneme laasweek Sondagaand was om elke liewe dag hierdie week in te swem met my branderplank en ten minste een golf te probeer ry. Herhaling help almal, dink ek - selfs vir my. Behalwe as die golwe net die eerste twee dae van die week klein genoeg is vir my...

Maandagoggend het ons dus VROEG opgestaan, alles bymekaar gesit, vir die slapende kinders gefluister ons sien hulle later en in die kar geklim om te ry. Net jammer ons Pajero het nie gedink dit is 'n goeie plan nie.

Die battery was pap. So ons kon nêrens heen gaan nie.

Nouja, dan spring die ander ratte in my brein aan die gang en ek spring aan die werk. Dan maak ek vir myself sulke laaaaaang lysies van alles wat gedoen moet word. Julle moet een ding verstaan - my rol in ons besigheid is ONSIGBAAR.
Agter die skerms.
 Ek het alles wat ek moontlik kon bydra tot ons besigheids dienste so mooi uitgedink en oorgedra aan die twee steunpilare: Pieter wat al die lone en salarisse beheer en Marina wat al die Bedinginsraad-dinge beheer. My rol is eintlik maar om ons Youtube-kanaal, sosiale media dinge en opleidingsplanne te bestuur en kreatief te wees met bemarking. (Dit doen ek alles tussenin die tuissskolery.) Dan doen ek natuurlik elke nou en dan my "Rut de Ridder" toertjies en red een of ander arme maatskappy wat in die moeilikheid is by die owerhede. Ek is nogal goed daarmee...

So - in kort - ek doen toe bietjie "regte" werk - aangesien ons nie kon gaan branderplankry nie. Dit was nogal lekker.

Later die middag het Pieter ons battery gelaai gekry en TOE kon ons uiteindelik bietjie gaan branderplank ry.

Ek het in die eerste twee dae van hierdie week twee baie belangrike dinge geleer van branderplankry:
1. Wanneer ek net vir die see staan en kyk is die see mooi kalm en rustig, en die golwe nooi my uit om met hulle te speel. Die golwe is ook baie klein en glad nie intimiderend nie;
2. Wanneer ek my voete in die water sit en begin instap met my branderplank onder my arm, dan word die golwe kwaad vir my en hulle val my aan. Hulle is ook meer as twee keer groter as wat hulle was van die strand af.


Reg om kompetisie te kyk!


Dinsdagaand het ons na een van die restaurante hier gegaan waar ons vriend Barry Hilton opgetree het. Hy is 'n baie "skoon" komediant en selfs die kinders het sy optrede baie geniet. Ons het gelê soos ons lag en dis wonderlik hoe ons hom nou sommer van voor af in 'n nuwe lig sien. Dit is altyd lekker om iemand iets te sien doen waarvan hy hou en dit is mooi om te sien hoe hy sy seun intrek en betrokke maak met sy optrede.

Barry Hilton in aksie

Die res van die week was een warboel-deurmekaarspul van die branderplank-kompetisie kyk en kuier met vriende EN die belangrikste van alles was - om reg te maak vir Charma se 8ste verjaardagpartytjie.

Die kompetisie is regtig wonderlik om te kyk. Die manier wat die professionele branderplankryers vlieg oor die golwe is betowerend. Ek het geskree vir Kelly Slater van die mans en Stephanie Gilmore van die vrouens, maar hulle was altwee uitgestof en het nie in die semi-finale deelgeneem nie. Uiteindelik was dit Carissa Moore wat gewen het van die vrouens en Gabriel Medina van die mans.

Perfekte dag vir klein branders ry


'n BAIE lekker bederf was toe my vriendin Sandy vir ons na die kinders gekyk het Woensdagaand en ek en Pieter kon bietjie alleen uitgaan. Dit was so lekker. Gesprekke kon voltooi word sonder onderbrekings, grappies kon vertel word sonder om verduidelikings te gee en ons kon dinge van ons harte afkry wat 'n rukkie lank al daar lê.

By de Viswijf Restaurant


Charma hou daarvan om lysies te maak en programme uit te werk, so seker nou al van Januarie af werk ons aan die planne vir die verjaardag-lysie. Hy word oor en oor uitgevee en oorgemaak, want DAN hoor ons van 'n waterpark, en DAN hoor ons van "sandboarding" hier naby en DAN hoor ons van die lekker yskaatsbaan in Port Elisabeth.... en so het dit aan en aangegaan. So die program was op die ou einde die volgende:

7-uur: Opstaan, klaarmaak en ontbyt (joghurt met vrugte en heuning)
8-uur: Gaan "surf"
10-uur: Gaan "sandboard"
12-uur: Kom terug huistoe en eet van daai lekker worsbroodjies, koek met meringue en aarbeie en room, en speel speletjies. Speletjies is sakspring, eier-in-die-lepel-hardloop-resies, eet-die-appel-in-die-bak-water-sonder-hande en driebeen-hardloop.
3-uur: Gaan kyk die "finals" van die "surf" kompetisie
4-uur: Ry Port Elizabeth toe om te fliek
5-uur: Kyk "Aladdin" in Port Elizabeth.

Ongelukkig het Aladdin nie Vrydagaand gewys nie, so ons het Donderdagaand deurgery en die fliek gaan kyk.

Kaartjies koop by die fliek


Great. Donderdag het ek rondgejaag en die laaste paar goedjies gekry vir die program. Donderdag het ek ook die koek gebak (effense flop...) en ek het ook die huis mooi skoongemaak, ballonne oral opgehang en die kaartjie laat teken deur al die betrokke persone in hierdie huishouding. Ek het my wekker op my foon gestel om volgens die opgestelde program elke uur 15 minute voor die tyd aan te kondig sodat ek betyds kan aanbeweeg na die volgende aktiwiteit.

Alles was gereed.

Vrydag-oggend het my wekker 6-uur afgegaan. Ek was so paar minute vroeër wakker, want buite was dit besig om kliphard te reën. Pieter was ook al lankal wakker en hy het teleurstellend aangekondig dat  dit DIE HELE DAG SO GAAN LYK!



Ek het nie eers een keer gedink daaraan om vooruit te kyk na wat die weer sou doen daardie dag nie.

Nouja, soos ons maar doen, het ons haar gaan wakker sing en haar ogies het GEBLINK! Maar toe kom sy agter dat die reën al haar planne omver gegooi het. Gelukkig kon ek nogsteeds haar ontbyt maak EN haar hande en voete lekker bederf om haar aandag af te trek.

Toe dit lig geraak het, het ons gaan loer hoe die golwe lyk en hulle was monsters.

Pieter en Declan het besluit om die kompetisie te gaan kyk, maar dit was so aaklig nat en koud dat ek en Charma by die huis gebly het en ander planne begin beraam het. Op die ou einde het ons haar gevat vir 'n manikuur en 'n hare was en blaas. Sy het SO mooi gelyk! Ongelukkig het sy nie haar ontbyt klaar geëet daardie oggend nie en van die baie laaaang stilsit het sy skoon duiselig geraak toe ons opstaan en val sy NET DAAR FLOU in die salon! Dit was verskriklik! My arme blommiekind...

Verjaardag-meisie


Na 'n inderhaas-voorbereide middag-ete om al haar voedings-vlakke te herstel en enige verdere nare gevoelens te probeer wegjaag, het ons toe weer Port Elizabeth toe gery om maar te gaan yskaats en speletjies te gaan speel in die "games arcade". Die yskaats was onsuksesvol (sy het nie baie daarvan gehou nie en die skoene het haar seergemaak) maar die speletjies was 'n wenner! Sy het NOG persente gekry by ons nuwe vriende in Port Elizabeth - die Curries - en ook van Jack af.



Saterdag was ek poot-uit en ons wou ook ons vriende gaan groet het in St Francisbaai. Dit het weer die hele dag gereën en dit het ons die kans gegun om rustig te verkeer voor 'n kaggelvuurtjie en te kuier die hele dag lank.



Vandag het Pieter ons bederf en lekker kook-kos gemaak. Die golwe herstel nog van die baie reën en nie een van ons het gaan branderplank ry nie. Ons het wel lekker laaaaang geselsies op die strand gehad en voel nou weer gereed vir hierdie week.

Lekker kook-kos xxx


Ons begin weer die week met skool, en dit is ook ons laaste volle week in Jeffreysbaai. Ons hou nogal van hierdie plek, so dit sal hartseer wees om aan te beweeg.

Hier is ons nuwe youtube video as julle hom dalk wil kyk :-) 



Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Finding King Shaka's Isivivane

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 35 in Afrikaans - Stellenbosch, Houtbaai, Vishoek, Kalkbaai