Week 68 - Party van ons moet bietjie werk ook

Ek het laasweek Donderdag Johannesburg toe gevlieg. Ek het eers gister weer terug gekom. My pa het verjaar en ons het vir hom 'n groot partytjie gehou en ons het baie familie en vriende weer gesien.
Op die werksdae tussen toe en nou het ek gewerk en kliënte gesien, want iemand moet dit ook darem doen partykeer... (:-))



Pieter en die kinders het (terwyl ek weg was) Port Elizabeth toe geskuif van Jeffreysbaai af. Dit was vir hulle interessant toe hulle so terloops 'n karwag raakloop wat hier in PE is wat ons eers in Jeffreysbaai ontmoet het. Hy is oppad Oos-Londen toe en beweeg so op kuslangs. Hy het dadelik on swart kar met die brnaderplanke bo-op herken en vir Pieter hulle gaan groet.

Ons bly in 'n lekker familie-huis in 'n lekker buurt en dit voel amper asof ons hierheen getrek het. Die mense in wie se huis ons bly is weg vir die maand, so toe besluit hulle om die huis beskikbaar te stel vir toeriste en sommer bietjie inkomste te kry terwyl hulle weg is.

Dit is lekker vir die kinders om weer hulle eie kamers te hê en die huis is VOL kinder-speelgoed wat weer 'n hele nuwe dinamika bring aan hoe hulle graag hulle tyd wil spandeer. Dit alles laat mens weer onthou hoekom dit so natuurlik is om 'n vaste blyplek te hê en dit vol te maak met dinge om jousself en jou mense mee besig te hou.

Pieter en die kinders se week was heel eenvoudig: Elke oggend het hulle werkies gedoen (skoolwerk en werk werk) en sodra hulle reg is, het hulle see toe gegaan om te kyk hoe lyk die golwe vir branderplankry. Party dae was lekker, maar die dae wat nie lekker was nie het hulle speletjies gespeel hier by die huis.

Van die begin van die toer af laat ek die kinders mos in hulle dagboeke skryf elke aand en Pieter het gelukkig volgehou daarmee. Hulle altwee se dagboek inskrywings was hierdie week basies dieselfde.

"Ons het opgestaan en geëet en toe het ons gaan surf. Dit was lekker"

Charma se dagboek het gepraat van iets anders wat gister gebeur het:

"Ons het toe gaan surf. Ons het toe ingegaan en toe kom daar silke monster. Ek dingk dis 503088 meter. Ons het toe wel pa het van die bord afgespring en my in die golf in gestoot en toe ry ek hom en toe slat pa se bord my en my neus begin blooi. Enyway so ek was nie OK nie."



Ons het oulike vriende gekry hier in PE - die Curries. Lauren het ons begin volg op Instagram en so het ons al in Junie bymekaar gekom en kontak gehou. Hulle het lekker oor en weer gekuier met Pieter en die kinders terwyl ek weg was. Vrydag het hulle saam op die strand gaan 4x4 ry. Ross is 'n kranige 4x4 eienaar, bestuurder en entoesias en is ook deel van die NSRI reddingspan. Ons Pajero het so bietjie vasgesit in die sand, maar toe het Pieter die bande afgeblaas, en het toe sommer so tjoef-tjaf uit gekom.



Gisteraand het ons die "Stock" karre se resies gaan kyk hier naby ons saam met dieselfde Curries. Dit was baie opwindend. Die karre is almal opgebou en raserig gemaak en geverf en versier om elke drywer of span te verteenwoordig. Daar was mans en vrouens en hulle almal het ewe hard probeer om te wen.



Vandag het Pieter en die kinders vir my al hulle branderplankry-strande gaan wys. Port Elisabeth maak my kop deurmekaar. Aan die een kant is dit 'n mooi plek en die strande is nie te sleg nie. Aan die ander kant is daar stukkende trappe by party van die paadjies na die strand toe en die drankbottels lê die hele plek vol. Vandag was ons so ontsteld toe 'n vrou haar klein dogtertjie (seker 5 jaar oud) se broek net daar op die pier laat uittrek en laat piepie tussen al die mense. Ek het gewonder of dit maar net is wat hulle gewoonlik doen en of dit was omdat daar nêrens toilette was naby die strand nie.


Lauren en Ross-hulle het darem vir ons ook 'n hele lysie met aktiwiteite op saamgestel en hier is nog BAIE om te sien en beleef hier in en om die stad. Ons tyd is besig om minder te word, so ons sal ons bes probeer om soveel as moontlik gedoen te kry voor ons gaan aanbeweeg volgende maand.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai