Adam se Kalender - Desember 2020

Ons is nogsteeds by my ma se huis in Daleside.

My sussie het positief getoets vir COVID (sy voel darem al baie beter), so vir veiligheid is ons maar in self-isolasie op die plot.

Ek hou egter nie van wag en niksdoen nie, so ek het toe maar self gaan toets Vrydag, en het gister die uitslag ontvang - NEGATIEF! (Dankie TOG!)



Maar voor ons aan beweeg van hier af, is daar darem nog so paar avonture waarvan ek kan vertel - 

Die eerste een is ons besoek aan Adam se Kalender einde Desember laasjaar.

Ek het noudiedag maar eers gelees van hierdie vreemde plek naby Kaapsehoop. Klippe wat gepak is in 'n eienaardige vorm op 'n bult, in lyn met seker astronomiese liggame. Ons eie "stonehenge".

Natuurlik is daar volop mistieke meesters wat reken hulle weet waar dit vandaan kom, en daar is heelwat onderliggende politiek oor wie toere doen daar ens. So as jy nie weet van die plek nie is dit g'n wonder...

Mens sou dink dat dit nogal 'n groot toeriste aantreklikheid moet wees, maar dit is nie.

Toe ons die week in Kaapsehoop spandeer het, het ek nêrens pamflette of advertensies raakgeloop met inligting daaroor nie. Ons het self ook heelwat van die paadjies gestap en nêrens was daar bordjies wat aangedui het dat die kalender daar naby is nie. As jy op Google Maps dit soek, dan wys hy vir jou 'n plek met die naam "Stone Circle" in Waterval Boven, so sonder om diep te dink daaroor, sit ek dit toe op ons lysie van doen-dinge vir ons week in Waterval Boven.

Dit is toe ook die eerste plek waar ons stop nadat ons afgepak het by die backpackers op die dorp. Die oom by die backpackers het vir ons aanbeveel om met Michael te gesels en het selfs 'n boek wat Michael geskry het, vir my geleen om te lees. "Temples of the African gods" is geskryf deur Michael Tellinger en Johan Heine. Johan is 'n vliegtuig loods en sy vliegtuig het geval toe hy een dag oor hierdie "kalender" gevlieg het. Nadat hy ontevrede was met die verslag wat die "aviation-authority" gegee het, het hy dieper gaan krap en onder andere veral onder Credo Mutwa - 'n Sangoma se invloed begin glo het dat dit die geboorte plek was van Adam, of soos hulle hom noem - Enki.

Daar is heelwat om te doen by Michael se plek - Stone Circle en jy kan selfs daar oorslaap.

Maar afgesien van die mistieke en misterieuse, is dit regtig 'n interessante plek. Ek is nie veel van 'n sterre kenner nie en hierdie ou reken dis nie heeltemal so in lyn met die sterre soos Michael sê nie, maar dit is nogsteeds fassinerend om te gaan kyk en die patrone te sien van bekende en onbekende patrone en simbole.

Hier is 'n youtube video wat ek gemaak het oor ons dagbesoek (dit was regtig een hele dag!) en as ek weer die kans het, sal ek weer gaan besoek aflê.


Volgende keer sal ek net egter self sommer stap of ry van Kaapsehoop af, en 'n lekke rugsakkie pak met water en padkos! Die natuurskoon rondom Kaapsehoop maak dit werklik die moeite werd, en jy kan heelpad op die eskarpement stap en afkyk oor die De Kaap Vallei waar Barberton ook lê.


As jy geinteresseerd is in die mistieke en die misterieuse sal jy dit baie geniet om saam met Michael of sy span hierdie uitstappie te doen! As jy nie te vinde is vir dit nie, is dit nogsteeds die moeite werd om te gaan loer :-)

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf