Upper Tonquani... 'n dagbesoek


 In Gauteng aangekom was dit vir my belangrik om onmiddelik avonture te begin beplan. Die natuurlike reaksie daarop is om my boetie Hein te skakel.

Hein en Sarah is omtrent so lank soos ek en Pieter getroud, maar hulle het al 4 kinders! Die een is wilder as die ander en avonture is hulle middelnaam.

Hierdie Stapelberg-gesin is ook lede van die Bergklub van Suid Afrika en hulle benut die Johannesburg en Magalies-seksies se eiendomme baie goed.

Dit het toe net so gebeur dat hulle die naweek in die berge sou kamp, by die deel wat genoem word "Upper Tonquani". Met min oorreding nodig het Pieter toe ook ingestem op hierdie avontuur, MAAR hy was nie lus om te kamp nie, want die indra van tente en slaapsakke het vir hom soos te veel van 'n "schlep" geklink.


Hein het my gewaarborg dat die instap nie te erg is nie (net so uur) so alles het belowend geklink.

Tildie het besluit om saam met ons te kom op hierdie avontuur, en om nie so ver hoef te stap aan die einde van'n dag vol opwinding nie, het ons sommer in Hein hulle se huis gaan oorslaap in Pretoria.

So ry ons toe sommer eers na Hein-hulle se huis om ons tasse, wassakkies en Woolworths-inkopies af te laai en val toe in die pad. 

Hein het vir ons 'n google maps pin gestuur van waar ons die hek sou kry, die nommer vir die ou wie ons moet laat weet dat ons daar gaan parkeer vir die dag, asook die kode vir die slot wat die hek mee gesluit is.

Maklik.

Alles het goed gegaan tot by die pin. Maar die kode wou nie werk vir die hek nie. Hein-hulle was reeds in die berg gewees en het geen opvangs gehad nie - so ons kon hulle nie bel nie. 

Die logiese verduideliking vir die kode wat nie werk nie, is dat dit die verkeerde hek is. So ry ons toe maar padlangs en karring aan elke hek wat op ons pad kom. Nie een van hulle het gewerk nie.

Dit val ons toe by dat ons 'n nommer het vir die ou met wie ons moes reël vir die parkering, so Pieter bel hom toe. Nee, lig hy ons toe in, die kode wat ons probeer is verkeerd. Hy gee toe darem vir ons die regte kode. Natuurlik moes ons toe net weer al die hekke probeer, net om uit te vind nie een van hulle slotte sluit oop met die kode (albei) wat ons het nie.


Ons dink toe aan ander bergklub-lede wat dalk al hier besoek afgelê en bel toe rond. Een van hulle bel toe en verduidelik vir ons dat ons aan die verkeerde kant van die pad aan die hekke karring EN dat die google maps pin wat Hein vir ons gestuur is so paar 100 meter ver is van die eintlike hek. Die berglub lid vermaan ons toe ook net om sodra ons by die hek in is, die heeltyd net regs te hou elke keer as die grondpad "split".

Nouja, ons ry toe maar aan, en in die ry bel Hein ons toe uiteindelik. Hy het natuurlik begin wonder waar bly ons so lank en het gestap tot waar hy opvangs kon kry. Ja, sê hy toe - die pin is dalk bietjie verkeerd, en ja - die hek is aan die anderkant van die pad as wat ons probeer het. Maar, sê hy toe ook, ons moet net sodra ons deur die hek is sekermaak om heeltyd links te hou elke keer as die pad vertak...

Nouja, teen die tyd is ons toe al histeries giggelend van al die uitdagings om net by die berg uit te kom en ons pak ons avontuur in elk geval aan met 'n sin vir humor.

Dit IS toe wel beter om heeltyd links te hou, want dan kom jy by die huis uit waar die parkering gereël is.

Toe ons uiteindelik parkeer onder die dak langs my boetie se kar was daar NOG 'n verrassing wat ons ingewag het.

BYE!

Bo-op die huis se dak was byekaste en die spesifieke dag was hulle smoorkwaad. Binne minute het hulle op ons toegesak, en ons het agtergekom dat wieookal die bangste is - die vinnigste sal hardloop!



Uiteindelik was dit net Tildie wat dapper (en kalm) genoeg was om terug te stap kar toe om hom te gaan haal en te bring tot waar ons weg gehardloop het!

Die berg self was toe pragtig. Die instap tot by Hein hulle was lekker en die swem in die bergpoel verfrissend (veral op al die bysteke!).

Alles is alles was daar heelwat lessies om te leer uit die dag:

  1. 'n Dag saam met Hein sal altyd 'n avontuur wees, of hy dit nou so bedoel het of nie;
  2. 'n Hek wat aan die linkerkant van 'n pad sit, mag dalk lei na 'n parkering aan die regterkant van die pad;
  3. Bye vlieg vinniger as wat mense kan hardloop

Tot volgende keer dan!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai