Week 49 - Oppad na Mosselbaai (vuurstorms, klipgolwe en ewige gebergtes)

Maandag was dit basies ons laaste dag in Stellenberg. Pieter en Declan het saam met ons vriend Craig gaan rotsklim en ek en Charma het gaan fliek. Ons het die nuwe "How to train your dragon" gaan kyk.

Bo-op Paarl Rots 


Declan het sy eerste "lead" ingekry op die "multi-pitch" roete. Dit beteken hy klim eerste en is verantwoordelik om die tou elke keer mooi in te "clip" in elke anker in die rots. Hy was op wolk nommer 9!

Ek en Charma het lekker van winkel tot winkel gestap en onsself verkyk aan al die mooi goed. Na ons fliek het ons roomys geëet vir middag-ete, en toe kry ons 'n uber om ons huistoe te neem.

Oppad na Riversdale het ons in Montagu gestop vir middag-ete

Dinsdag het ons binne 2 ure gepak en alhoewel al ons goed kleintjies gekry het, het ons EN ons goed alles in die kar gekom. Dit is baie eienaardig hoe ons dit regkry om so op te gaar op hierdie padrit van ons. 'n Mens sou dink dat ons dit nou al sou afgeleer het!

Ons volgende maand sal in Mosselbaai wees, maar ons wou graag die area tussen daar en Kaapstad bietjie beter verken, so toe besluit ons om 3 aande in Riversdale en 2 aande in Ladismith oor te slaap oppad soontoe.

Riversdale is 'n pragtige klein dorpie wat omring is met berge. 'n Mens ry so deur die fynbos streek om daar uit te kom, maar jy is op die rantjie van die Karoo. Dit is egter 'n baie vrugbare vallei en veral steenvrugte aard goed daar.

Die mooi kerk in Swellendam

Ons het by mense in hulle huis gebly Dinsdag-, Woensdag- en Donderdagaand. Hulle het ons aangeraai om die Garcia-bergpas te gaan ry en dit doen ons toe ook Woensdag na werk. Ons het so bietjie van die pad afgedwaal en op paaie beland wat bietjie 4x4 tegnieke uitgetoets het, maar dit was ook lekker. Die pad na die Garcia-pas uit Riversdale, gee mens 'n baie mooi uitsig oor die "Sleeping Beauty" - die buitelyn van die berg wat lyk soos 'n vrou wat lê en slaap. Daar is 'n staproete tot daar wat blykbaar baie mooi is, maar die mense van my was nou glad nie lus vir stap nie. (en daar was soveel ander paadjies om te gaan ry...)

Mooi uitsigte oor die bergpas

Die werk het haastig ingerol Donderdag en hoewel ons plan was om Stilbaai bietjie te gaan verken, het ons die hele dag net by die huis gebly. Ons gashere in Riversdale was baie interessante mense. Helma en Frikkie. Hy is die hoof van die brandweer in Riversdale (as ek reg kan onthou) en Helma het al die jare by skole gewerk. Frikkie was 'n weermagman. Hy sê uniform mans is ander soort mense. Hy reken dat 'n mens 'n man in uniform moet kan uitken, selfs wanneer hy sy gewone klere aanhet. Frikkie is so 'n ou.

Deur die Garciapas

Hy het ons monde laat oophang met sy stories oor die vure. Hy vertel dat groot vure hulle eie storms vorm wat soos tornado's in die lug opskiet, en soos 'n draak se tong meters ver kan uitskiet en iets of iemand kan verbrand. Hulle veg sommige vure weke lank voor hulle dit regkry om dit heeltemal dood te maak. Hulle praat ook van "vuurstorms" want 'n vuur maak sommer so dreun-geluid wanneer hy woed. Hy vertel van lank terug se lanings bloekombome wat geplant is wat die bome ook gehelp het om "paaie" te skep vir hulle om in te kom om brande te blus. 'n Bloekom brand nie so maklik nie en die vonke skiet nie sommer bo-oor hom nie, so hy keer die vuur om verder te brand.

As jy mooi kyk kan jy die profiel van 'n vrou sien wat lê en slaap - dis hoekom hulle die berg "Sleeping Beauty" noem

Vrydag het ons opgepak en weer aangery. Ons het twee aande bespreek in Ladismith in 'n pragtige gastehuis in Albert staat. Ladismith is ten volle Klein Karoo met sy kort bossies en sanderige grond. Norman - ons gasheer - het vertel dat karoo-lam gesertifiseer word en dat daar 7 verskillende bossie is wat 'n egte karoo-lam eet om hom eg karoo-lam te maak. Blykbaar kom al 7 bossies nie in die Klein Karoo voor nie, so hierdie kant van die berg sal jy nie egte karoo-lam kan kry nie.

Norman het ons ook aangeraai om die Seweweekspoortpas te gaan ry waar jy klipgolwe in die rotse kan sien. Ons maak toe ook so daardie middag toe ons werk alles afgehandel is. Dit is 'n bergpas in die Swartberge en hy volg die Seweweekspoortrivier. Dit is heelpad grondpad en hulle werk op die oomblik aan die pad op so paar plekke, maar dit is baie mooi en mens sal met 'n gewone kar ook daar kan ry.

Die kranse gee behoorlik antwoord tussen die gebergtes en vir die eerste keer in my lewe het die woorde van CJ Langenhoven so mooi gepas by die omgewing rondom ons: "Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see, oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee... "

(Blykbaar het hy sy inspirasie vir die lied in Meiringspoort gekry wat ook naby Oudtshoorn is.)

In die Seweweekspoortpas

'n Interessantheid in Ladismith is dat daar 'n liggie brand in die berg wat opgewek word deur die bergstroompie daar heelbo. Die liggie word al aangevuur van 1963 af toe Stanley de Wit, 'n geesdrifitge bergklimmer, die bergstroompie se standhoudende energie benut het om die lig te laat werk. Die liggie brand so helder dat jy dit van die dorp af kan sien. Ons het hom altwee aande wat ons daar was, gesien van ons huisie af.

Aangesien ons so naby die R62 was, moes ons ook die bekende roete bietjie ry. Saterdagoggend het ons dus opgestaan en teruggery in die rigting vanwaar ons gekom het - Swellendam se kant toe. Ons het - tot die kinders se absolute skok - gestop by Ronnie se sex shop (baie "overrated" as jy my vra) en ons sou graag ontbyt daar wou eet, maar die kos-mense sou eers 9-uur (miskien) daar aankom. So toe neem ons maar net die foto hier onder en ry verder tot by Barrydale waar ons lekker vars roosterkoek gekoop het vir ontbyt.



Om by Swellendam te kom van Barrydale af, moet mens ry oor die Tradouwpas. "Tradouw" is blykbaar die Khoi-woord vir "vroue-pad" en dis seker maar daarom dat dit een van die mooiste bergpasse in ons land is.

Die pas het BAIE stop-plekkies vir piekniek, en die een wil mooier wees as die ander een.
Watervalletjies elke nou en dan en asemrowende uitsigte oor die berge en klowe maak dit 'n pas om weer en weer te ry met baie padkos!

In die Tradouwpas
(Ons Suid-Afrika boek het gesê by die Noordelike ingang tot die pas is daar boesmantekeninge met so paadjie op teen die berg op, maar ons het dit glad nie gekry nie.)


Net voor jy dan by Swellendam inry, kom jy by Suurbraak - 'n ou sendingstasie. Ons het 'n lekker koue koeldrank by die kafee gekoop en so paar foto's van die ou kerkies geneem. Dit was blykbaar 'n Khoi-nedersetting en die hoofman - Moos - het spesiaal gevra dat daar 'n sendingstasie daar oopgemaak moet word.

Kerkie op Suurbraak

Nog 'n kerkie op Suurbraak
Van Suurbraak af is ons toe na Swellendam. Dit is die derde oudste dorp in ons land. Kaapstad is eerste, Stellenbosch is tweede en dan is dit Swellendam. Die plek is skatryk van geskiedenis en ek sal verseker 'n maand of wat daar kan bly en net deur die strate loop en stories bymekaar maak van lank gelede, maar daarvoor het ons nie tyd gehad nie en die meerderheid het ook nie lus gehad nie.

Ons het darem die ou dorpsmuseum besoek wat ingesluit het - toegang tot 3 persele, alles wat deel was van die oorspronklike landdros se huis en sy kantore.


Ons het dit vreeslik geniet - maar die kinders was veral gaande oor die tannie met haar verkleurmannetjie - hy was sommer daar in 'n nagemaakte klein ossewa gebêre en sy het hulle toegelaat om hom bietjie vas te hou.


Charma het 'n oulike opstel geskryf oor Koningin Victoria. Dit was geinspireer deur die portret wat in die een huis museum gehang het van haar.


Van Swellendam af het ons terug gery Montagu toe om die warmwaterbron te gaan besoek. Daar is ook baie mooi historiese geboue, maar die museum-kapasiteit was reeds vol so toe hou ons maar verby.

Oppad soontoe het ons deur so gat in 'n rots gery - daar is 'n bordjie op wat iets sê van 'n fort, maar ek weet nogsteeds nie presies wat dit was nie...

Dit lyk soos 'n soliede rots waardeur net eenvoudig 'n gat gemaak is vir die pad om deur te gaan.


Na ons lang dag het ons weer in Barrydale gestop - die keer vir "gourmet milkshakes" :-)


Vanoggend is ons weg uit Ladismith, deur Calitzdorp, en tot in Oudtshoorn. Daar het ons die sleutel gaan optel vir die woonstel waarin ons bly hierdie maand in Mosselbaai. Ons is soooooo bederf.

Life is beautiful xxx

Opmerkings

Charne het gesê …
Ag ek ry en kyk te lekker saam met julle...met 'n sketsboek en waterverwe kan mens laaaaaaank hier kuier!

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf