Week 5 - In Afrikaans

Hierdie week was lekker vol gewees. En yskoud.
Ek wens ons kon vir Charma die sneeu gaan wys het wat net so ent weg in die drakensberge geval het die week.
Maar ons was bietjie besig. Meestal met skoolwerk en "werk" werk maar darem het ons lekker goed ook gedoen.
Declan het hierdie week 2 praatjies uitgewerk vir assesering, die een was oor die "Secret San" oor wie ons bietjie geleer het by Nottingham Fort. Sy ander praatjie was een waarin hy instruksies en 'n demonstrasie gegee het hoe om 'n kompas te maak. Dit was nogal oulik.

'n Groot lekkerte die week en nuwe ondervinding vir die kinders was om na die veiling toe te gaan op Normandien. My skoonma doen die kos stalletjie en ons het gaan help in die kombuis met broodjies maak, jaffels maak, kerrie en rys opskep en verkope.


Charma was absoluut "in awe" van alles. Die beeste wat van die trokke afgejaag word in die hokke in, die man wat so snaaks praat as die veiling begin en oupa wat die skaal beheer.




Hier by die huis is Pieter besig om vir ons 'n rak te bou om bo-op ons sleepwa te sit sodat daar meer spasie binne in die kar is wanneer ons ver ente moet ry. Hy is darem maar 'n slimmie. Hier op die plaas is ook darem lekker plek en gereedskap vir dinge bou.




Declan het ook geleer oor elektriese stroombane en het probeer om 'n baan te bou om 'n gloeilamp te laat brand... dit het ongelukkig nie gewerk nie.
Ons plan was om die naweek weer Mont Pelaan aan te pak, maar toe oorval die wolke (en die koue) ons en die Saterdag (gister) was toe lekker lui spandeer in en om die huis.





Vandag was egter oopgetrek en die dag het ons uit die huis uitgeroep.
Ons het Newcastle omgery, oor die Buffelsrivier brug ('n erfenisterein) deur Utrecht ('n dorpie binne in 'n natuurreservaat) tot by die Bloedrivier Monument.




 Die kinders was heel entoesiasties oor die (nuut in hulle wêreld) storie van Dingaan en Piet Retief en Sarel Cilliers en Andries Pretorius en die wonderwerk wat God daai dag vir die Trekkers gedoen het. 



Mens loop met 'n bruggie oor Bloedrivier na die Ncome Monument as 'n teken van versoening en waar daar 'n museum is en uitstalling wat die Zoeloes se kant van die storie vertel. Ongelukkig was alles toegesluit en redelik verniel. Dis jammer dat dit so gelyk het.



Blykbaar word daar nou nog elke jaar op 16 Desember geloftedag gevier op die terrein waar die bronsbeelde van die ossewaens staan. Aan die anderkant van die rivier word daar ook saamgekom om die dag te herdenk.




Oppad terug het ons deur Dundee gery. By Talana museum gestop en die pragtige museums gesien. Charma sê sy "love" die museums, want hulle het sulke mooi ou goed in. Veral oorbelle.






Deur Dundee gery het ons by die ou AGS kerkie verby gery wat eers 'n metodiste kerk was vanaf 1899 en gedurende die  Anglo Boere oorlog 'n hospitaal was.


AGS kerkie Dundee


Die landdroshof se geboutjie is ook mooi en is blykbaar die enigste een in die land wat koning Edward VII se wapen dra.


Landroshof


Die anglikaanse kerk is in 1898 gebou en in sy kerhof lê die brit, genl Penn Symons begrawe  (hy was die bevelvoerder van die britse magte gedurende die slag van Talana).




Daar is die mooiste ou NG kerk wat deur G Moerdyk ontwerp is. Daar is ook 'n Anton van Wouw beeld en gedenkplaat vir die boere wie dood is by Talana.


NG Kerk Dundee

NG Kerk Dundee


Die Biggarsberg Unity Lodge was blykbaar voor die vryheidsoorloë 'n teater. 




Ons het heelpad terug wes gery en het die sonsondergang gesien. 




Mont Pelaan het heelpad vir ons gelag.

Opmerkings

Charne het gesê …
My Ma het altyd foto's van kerke geneem oral waar hulle gery het! Ek het haar liefde geërf so kyk vreeslik lekker na jou foto's. Jou 'Secret San' het my laat onthou van 'boesman' tekekninge op skollpêlle se plaas naby Nelspruit. Mens moes weet waar in die bergeom te gaan kyk, maar dit was fantasties! Ek wonder of iemand nog weet waar dit was...ek lees en kyk tog alte lekker al jou stories en prentjies ;-)

Gewilde plasings van hierdie blog

Finding King Shaka's Isivivane

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 35 in Afrikaans - Stellenbosch, Houtbaai, Vishoek, Kalkbaai