(Week 10 - In Afrikaans) - Ushaka Marina World, Durban & last week in Kingsburgh

Oormore sal ons al presies 2 maande al op ons "roadtrip" wees. Toe ons vertrek het die 26ste April was ons eintlik maar bietjie benoud en as ek nou terugkyk op wat verby is, is die Here vir ons net goed gewees. Hierdie maand voel vir ons asof ons in vakansieland is, al werk ons tussen alles is dit darem maar net anders om die hele tyd die see te kan hoor en by die venster te kan uitkyk en hom te sien ook!


Toe ons laasnaweek gaan klim het, het ons weer vir Craig raakgeloop van die bergklub (MCSA) - die ou wat die praatjie oor slange aangebied het vroëer die maand. Hy werk by Ushaka Marine world in Durban en hy nooi ons toe om hom te kontak wanneer ons soontoe gaan dan kan hy vir ons kom hallo sê. Ons besluit toe Dinsdag om te gaan en bel hom toe. Wat 'n amazing ou! Hy is so 'n kundige op die gebied van al die seediere, dat hy vir ons toe sommer 'n persoonlike begeleide toer deur die akwarium gee! Selfs deur die deure wat sê "staff only" om vir ons te wys hoe ongelooflik hulle sisteme en prosesse werk. Dit was 'n ongelooflike ervaring. Ons het die pylstertvisse gaan voer (ons was die enigste toeriste daar by die ou wat die voerwerk doen) en toe gee Craig ons kans om self deur die akwarium te loop en die "shows" te kyk. Dit was so lekker. Die kinders was so geinteresseerd in al die nuwe dinge om te leer en het so entoeisasties geluister na alles wat die personeel vertel het by die dolfyne vertoning en die robbe en pikkewyne vertonings. 





Na dit alles is ons toe "dangerous creatures" toe, die afdeling waar die slange en paddas ens. gehou word. Toe kom Craig weer en neem ons agter die skerms in na die "hospitaal" toe waar  die nuwe diere en die siek diere gehou word. Die eienaar van die plek - Carl is net so nice ou en so geduldig met die kinders. Hulle het ons weer slange en allerhande reptiele laat vashou en interessante dinge geleer van die diere. Dit was so lekker. Die kinders drink nou enige boek of tydskrif wat ons in die hande kan kry se inligting in oor diere op en ons geselsies wanneer ons op die strand stap raak al hoe interessanter! 






'n Groot opgewondenheid is op die oomblik oral in die lug... die haainette is gelig en die sardyne is besig om te loop hier verby die KZN se kuslyn! Ons hou ons strand met valkoë dop om enige teken van hulle te sien, want hulle lok voëls en roofvisse, so dit is 'n asemrowende natuurvertoning wat afspeel, (buiten natuurlik vir die belewenis van die visse wat uitspoel en verkoop word per krat - so baie is daar!) Een middag toe ons gou dorp toe wou gaan vir so paar goedjies, toe sien ons ewe skielik 'n haastige paar bakkies wat een na die ander op die strand ry en een of twee bote wat gereedmaak om in die see in te gaan... ons verander toe onmiddelik ons plan (die dorp sal nie wegswem nie) en hardloop na die opwinding toe. Binne minute wemel die strand toe van mense en bakkies en bote en ons kan omtrent nie ons emosies in toom hou met die belofte van avontuur nie. Maar helaas! Ewe skielik  begin een na die ander bakkie sy enjin aan die gang kry en ry... eers lyk dit asof niemand in dieselfde rigting ry nie, maar toe sien ons almal beweeg net na die volgende strand toe! Ons hardloop toe terug kar toe en agtervolg hulle, vol moed dat ons nou aksie gaan sien. Almal het ons idee gehad, want toe sit ons vas in die verkeer om die 2 km te ry... daar gekom speel die toneel homself presies net so weer af! Ons het na 3 sulke strande toe gery met groot opwinding net om te besef die bakkies word minder en minder... ons het nogsteeds nie die sardyne gesien nie...



Die res van die week het die kinders heerlik gespeel (al hulle skoolwerk is gedoen en hulle rapporte lyk mooi) en ons het dit rustig gevat behalwe vir die gewone werk wat maar moet gebeur vir die lone en salarisse wat geprosesser moet word. 

My oog het 'n plakkaat laasweek gevang voor 'n teater toe ons in Durban was "Cetshwayo the musical". Later lees ek dit toe weer raak in 'n tydskrif wat ek moes koop vir 'n skooltaak...  Nouja... in ons huis is ek op die oomblik maar nog alleen in my entoesiasme as dit by musicals en toneelstukke kom. Hierdie musical het boonop nog 'n ouderdomsbeperking ook op gehad so al was die helfte van die kroos lus om saam met my uit te gaan, was dit nie 'n opsie nie. Ek rëel toe met my vriendin (van kunsskooldae af) en haar sussie in Durban om saam met my te gaan kyk en ons gaan kyk toe vrydagaand (terwyl die manne na die altesaam 6 kinders kyk!) na die opvoering. Dit was in die pragtige "Playhouse" teater in die middestad en ons besluit toe ter wille van veiligheid om eerder te uber soontoe en terug. Alhoewel meeste van die musical in zoeloe was en ook heeltemal die prys van die kaartjie werd was (R50!!), was dit tog interessant om te sien hoe hulle die storie uit hulle oogpunt vertel. 
Saam met die regisseur van die opvoering - Jerry Pooe


Cetshwayo was die zulukoning wat die britte verslaan het by die slag van Isandlwana. Daarna het die Engelse natuurlik seker gemaak dat die Zulus verslaan word by Ulundi en Cetshwayo is ook daarna weggeneem Engeland toe. Ons het na die tyd selfs die regisseur, Jerry Pooe ontmoet.

Ons het toe sommer vir die lekker na die "Roma Revolving Restaurant" toe gegaan vir nagereg en 'n interessante baie "liefdevolle" ou italiaanse oom ontmoet. Die uitsig was prentjiemooi en dit was onwerklik heerlik om so lekker te kon kuier met vriendinne van baie jare terug!




Sekerlik die hoogtepunt van die week was Declan se eerste branderplankry-les. Die seun van ons het die vermoëe om dinge net te laat gebeur met sy vasberadenheid. Hy hou letterlik nie op vra nie. Hy het self uitgevind van die "surf" lesse en na 'n gespook om die ou in die hande te kry, was ons uitendelik suksesvol en reël toe sy eerste les. Dit was so lekker gewees om sy blink ogies te sien toe hy sommer met sy eerste probeerslag dit regkry om regop te staan en 'n golf te ry tot op die strand! Ons laaste week is dus nou uitgeknip... die "surf"-gogga het gebyt!


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai