Week 8 - In Afrikaans


Ons eerste week in Kingsburgh het behoorlik verby gevlieg.
Kingsburgh, het ons opgelees, is vernoem na Dick King - die man wat 1000 km na Grahamstad gery het met 'n perd (dit het hom 10 dae geneem) om hulp in te roep om die omsingelde britse garnisoen te kom red. Wie het die britte omsingel? Die voortrekkers, nogal! Hulle wou die onafhanklikheid van hulle jong republiek -natalia - verdedig. Die vreemde ding is dat Dick King, net na die moord op Piet Retief ook die een is wat uitgery het om die ander groepe voortrekkers te waarsku teen die daaropvolgende aanvalle...


Die eerste hoogtepunt van my week was om my eksamen te kon skryf en die boeke alles vir my boetie in Pta te stuur (soos om van my laste weg te stuur met Postnet!) en bietjie my fokus te skuif na my kinders se kwartaal asseserings en eksamens. 



Probeer die laaste bietjie leerwerk inkry voor eksamen!


Die eerste wat ons toe aanpak is 'n lekker swem in die see! En daar word ek toe omgedons deur 'n golf en verloor ek toe my voorskrif-bril!!!



 Al wat ek toe nog by my het is my voorskrif-sonbril... so dis nou maar my lot om "cool" te lyk van oggend tot aand elke dag (anders kan ek niks sien nie). Daardie selfde aand - spesiaal vir Declan - woon ons toe ook 'n praatjie by oor slange in die Drakensberge deur die SA bergklub. Declan het die aanbieder 'n vonkel in sy oë laat kry met sy honderde vrae oor slange en het selfs die geleentheid gekry om 'n slang vas te hou! Die praatjie het ons onder andere ook geleer wat om te doen as 'n slang jou byt terwyl jy op die berg is... ek dink die hoofgedagte was dat jou vriende moet hulpkry en jy moet doodstil bly waar jy is. 





Dit lyk nogal vir my asof mense hier by die kus rond baie meer mekaar aanvaar. Daarmee bedoel ek dat dit lyk asof verskillende rasse, gelowe en tale mekaar dit gun om anders te wees. Hier op die strand voor ons woonstel bv is daar baie aande iemand, of 'n paar mense dalk wat 'n vuurtjie maak. Aanvanklik het ons gedink dat dit 'n boemelaar is wat daar slaap. Maar een oggend vroeg toe gaan stap ek en Charma om te gaan kyk of God nie dalk al vir die see gesê het om my bril terug te gee nie; toe kry ons 2 dooie hoenders en 4 kerse op die strand. 



Later die dag (met die hoenders wat steeds daar lê) vra ek toe 'n swart man wat dit is en hy sê dis 'n toordokter wat sy "religion" practice. Nouja dit is seker so dat verskillende mense verskillende gelowe beoefen en dit is toe maar ook wat ek vir die kinders verduidelik het.
Die kinders draf maklik deur hulle eksamens en asseserings en Charma is offisieel klaar met die 2de kwartaal. Declan is kort op haar hakke.


Gisteroggend het ons die parkrun gedoen in Amanzimtoti en daarna het ons Durban bietjie gaan "explore".




In die middestad is die grootste moskee in die suidelike halfrond, en ons het wraggies parkering buite gekry EN toegang tot binne in die moskee gekry. Die man wie ons begelei het, het mooi vir ons verduidelik waaroor Islam gaan en hoeveel keer hulle bid en hoe hulle bid. 






Die middestad is 'n absolute reënboog van mense en geure en kulture. Dit het amper gevoel of ek weer op die strate van Jerusalem rondloop! Dit was 'n wonderlike ervaring vir die ons.



Van daar af is ons na die ou stadsaal wat 'n replika is van die stadsaal in Belfast. Rondom die plein voor die stadsaal is die mooiste standbeelde en binne in is museums. Dit was pragtig gewees.











Verder af met die straat is daar 'n pragtige standbeeld van Dick King net voor die treinspoor en die hawe, en in die hawe is die Port Natal Maritime museum waar ons op ou skepe kon klim en rondkyk. 







Net daarna het ons gery na die Moses Mabhida Stadion waar Pieter gewerk het in 2010. Ons is tot bo-op die stadion met die "skycar" en dit was vir die kinders heerlik om so hoog in die lug te wees terwyl Pieter verduidelik het waaraan hy alles gewerk het 8 jaar terug.. Ons het sommer klaar begin uitsien na Kaapstad ook met Tafelberg se kabelkar wat vir ons wag!







Die Grande finale was om by 'n ou skoolvriendin van my te gaan eet in Morningside. Sy het met haar eie "Jamie Oliver" getrou wat vir ons die lekkerste kos gemaak het wat ek in 'n laaaaaang tyd geëet het!





 Dit was heerlik! Ons kuier toe so lekker dat ons toe oorslaap en vandag sommer gestap het na die stadion toe om die comrades se eerste hardlopers te sien inkom! Ek het nie gedink ek sal dit so baie geniet om dit te sien nie, maar ek moet sê ek was nogal emosioneel gewees om te sien hoe die mense inkom. Dit is so 'n "great equaliser".... wit en swart; ryk en arm - almal is gelyk met die wedloop. 

More oggend gaan ons vroeg opstaan en met 'n boot uitgaan saam met NASM (national anti shark measures) en bietjie leer oor haaie. Dan sal ons terugkom en hopelik goed vorder met Declan se finalisering van die 2de kwartaal.
xxxxxx

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf