(Week 12 - In Afrikaans) - Hluhluwe-Imfolozi park, St Lucia en Isimangaliso

Ons het Maandag die hele dag by die Hluhluwe-Imfolozi Park spandeer. Buiten die renosters, olifante, rooibokke en ander groot wild, het 'n dassievoël vir ons gesing by een van die skuilings.

Dit is 'n pragtige park, omring met heuwels en die mooi Imfolozi rivier wat kronkelend deur die park vloei.
Dinsdag het ons die boonste deel van die park besoek, en oppad soontoe het 'n tierboskat oor die pad gehardloop! Dit was nie eers in die park nie, dit was net buite St Lucia! Ek het daai dag bokkies gesien wat ek nog nooit voorheen gesien het nie, en dit was so lekker om saam met die kinders alles op te soek in ons diere-boek.



Dit was 'n ysige dag Dinsdag, en Pieter het 5uur opgestaan om vir ons 'n lekker vleis-pot aan die gang te kry. My skoonsus het vir ons 'n "wonderbag" persent gegee voor ons uit Pta is en die pot is in die wonderbag gehou heelpad deur die wildtuin. By een van die piekniekplekke het ons gestop en heerlike warm kos geëet vir middagete!


Woensdag oggend het ons groot geskrik. So 5uur word ons wakker van iemand wat skree "keep your hands up, keep your hands up!"
Hy spring toe onmiddelik op en kry sy vuurwapen om ons te beskerm teen die rowers wat in die kamp is. Ons het voorheen al gekamp waar mense so beroof is, en dit was heel onaangenaam.
Toe hy niemand sien nie, vra hy toe ons buurman wat ook wakker is of hy iets gehoor het. Nee, sê die buurman toe, sy kinders is al wakker en hulle kyk 'n polisie-storie op hulle tv in die karavaan!

Ons het werk gehad om te doen Woensdag so ons het tot die middag in Wimpy gesit en werk. Die kinders was regte sterretjies, hulle het soet gespeel en hulleself besig gehou. 


Ek het iewers raakgelees dat die 2de hoogste begroeide sandduin in die wêreld in St Lucia is. Op die bootrit op die meer laasnaweek het die toergids weer iets daarvan genoem en ek het na hulle kantoor toe gestap om te hoor hoe mens daar kan uitkom. Die vrou wat my toe help is vreeslik entoesiasties en vertel ook vir ons van 'n vlermuis grot oppad Cape Vidal toe, by Mission Rocks. Dit laat Pieter se oë toe blink en ons is daar fort om water, rots skoene, sonroom en swemklere te kry. Wat 'n beeldskone plek! Mission rocks is 'n plek waar jare terug (in die 1800's) 'n sendingstasie was en omtrent so 1.5 km met die strand op, is so paar grotte. Mens kan net by die grotte uitkom wanneer dit laagwater is en in een van die grotte het 'n klomp vlermuise nes gemaak. Dit was nogal indrukwekkend om die klomp vlermuise te sien onderstebo hang in die grot.






Daarna het ons gou gaan loer hoe dit lyk by Cape Vidal, deur die Isimangaliso vleilandpark gery tot bo - witrenosters EN 'n swart renoster gesien - en bietjie die strand gaan bewonder.



Donderdagoggend word ons te wakker met 2 pap probleme... 'n pap wiel en 'n pap battery. 


Ek vermy die probleme toe deur alleen te stap deur seekoei en krokodil land tot bo-op Maphelane - die 2de hoogste begroeide sand duin in die wêreld. Dit was beeldskoon!








Toe ek weer by die kamp kom het Pieter al ons probleme uit gesorteer EN alles opgepak. Ek het soos 'n koningin gevoel! (Of soos 'n uitgeslape vrou)


Van daar af is ons na Tugela Mouth toe, 'n piepklein dorpie waar die Tugela rivier in die see inloop. Ons slaap vanaand vir die laaste aand hier, more gaan ons Mtunzini toe!
Hier by die riviermond is die hoof aktiwiteit om vis te vang. Nie my gunsteling tydverdryf nie maar die manne "love" dit! Ek geniet die karakters wat ons hier ontmoet. 'n Oom van 77 wat alles verkoop het toe sy vrou gediagnoseer is met kanker en die land deur reis met sy karavaan. Sy vrou is intussen oorlede en hy toer nogsteeds! 'n Ander oom wat van die karoo af kom en alles beskryf as "skitterend". Almal deel dieselfde liefde vir visvang. Ons het heerlik gerus hier - die naweek was stil soos die dorpie en die kinders was weer omring met maats. Ons is diep dankbaar vir die Here se goedheid teenoor ons en dat ons in so 'n pragtige land kan bly.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf