(Week 15 - In Afrikaans) Ons bly in Ulundi

Ons het omtrent 5 ure geneem om alles weer op te pak in Mtunzini. Ek moet sê die draak (aka - die mamma) was heel rustig hierdie keer en niemand het seergekry nie.
Die volgende stop: Ulundi. Die hart van Zululand. Oppad was ons omring deur verskillende skakerings van groen heuwels. Suikerriet landerye en inheemse woude. Riviere en stroompies . Ek verstaan heeltemal hoekom Piet Retief hier wou land beding vir sy mense.


As die sleepwa gehaak is wil ons nie regtig baie stop om plekke te besoek nie, maar Kwabuluwayo was so op ons pad, ons kon nie anders nie. Dit is waar Shaka se kraal was.  Ongelukkig was die groot swaar hekke na die terrein toe en die beeste wat daar rond wei kon ons nie sê hoe mens inkom nie.
Net toe Pieter begin lus voel om aan te beweeg toe sien ek 2 selfoon nommers teen die hek. Ek het dit eers geignoreer want dit het gelyk soos daai plakkate oral in Jhb opgeplak wat muthi verkoop aan mens vir allerhande persoonlike probleme.
Maar om mnr Cloete te keer dat hy nie wegry nie, bel ek toe maar die eerste nommer. Die foon was af. Ek bel toe die 2de nommer en hy lui toe darem, maar niemand tel op nie...
Net toe ek maar bekaf in die kar wou klim, toe bel die 2de nommer terug en ek antwoord "Hallo, dis Rut wat praat", en die 2de nommer sit toe wraggies die foon in my oor neer. Ek klim toe maar in die kar en wag dat Pieter moet ry. Hy staan toe egter stil en wys na 'n man wat na ons toe aangestap kom. Sy naam is Veli en hy sal die hek vir ons oopmaak, dan sal die toergids oor 5 minute hier wees. Ons moet asb wag vir die gids en nie rondloop op die terrein nie. Ons sit toe heel geduldig vir 20 minute en wag en daar kom toe nog 'n man aangestap. Nadat hy sy lang selfoon gesprek klaargemaak het, kom hy toe nader en groet ons. Hy het homself voorgestel as Malusi en was dankbaar dat ons gekom het om na hulle historiese plek te kom kyk. Hy het ons toe eers in sy kantoor ingevat en lank met ons gesels. Die man is 'n ware historikus wat regtig opgewonde is oor die Zulus se geskiedenis en die bewaring daarvan. Hy ken sy storie regtig goed en kon entoesiasties al ons vrae beantwoord, selfs 'n paar in Afrikaans (spesiaal vir Charma).


Shaka se kraal was massief en bo-op 'n heuwel wat uitkyk oor 'n vallei. Hy het die zulus regeer met wreedheid en sy impis doodgemaak by die lafaardsbos (daar naby) as hulle nie hulle dapperheid aan hom kon bewys nie. 

Malusi het gesê sy ouma het hom vertel dat sy as kind nog beendere van mense gesien lê het onder daai bos en hy sê ook dat hulle diere nie onderdeur die bos sal loop in die aand nie omdat hulle die geeste van die dooie mense aanvoel.


Van daar af is ons na ons huisie in Ulundi. Dit is eintlik net 'n township. Hier is nie veel hier waaraan ons witmense gewoond is nie. Die "self catering unit" waarin ons gebly het, het byvoorbeeld net lepels in die laaie en 'n draadklitser vir pap maak.



Nie messe en vurke of so nie. Ons het gelukkig kamp goed en het vinnig onsself lekker ingerig.




Na 'n lekker nagrus (ons het darem baie lekker beslaap in die gemaklike bedden met silwerskoon wit beddegoed op) het ons volstoom begin met skool en werk, en toe die kinders se moed in hulle skoene sak oor die kwaai juffrou toe besluit ons dat ons maar bietjie sal moet gaan fietsry. Dit is nogal 'n ervaring om in 'n township fiets te ry. 


Die mense is natuurlik mal oor Charma met haar pienk helmet en pienk fietsie. Die plek is net heuwels en klein straatjies tussen huise deur. 'n Heeltemal anderste soort mooi. 


Ons ry toe na die plek wat op google maps aangedui is as koning Mpande se graf. Hy was Cetshwayo se pa. Die plek is toegespan met groen pallisades en by die hek staan 'n bord wat besoekers vra om 3 keer te toet as hulle voor die hek staan. 



Ons kon ongelukkig nie toet op die fietse nie, toe ry ons maar om, om te kyk of daar nog 'n hek is. Al die hekke wat ons kon kry was toegesluit met kettings en slotte maar aan die anderkant is daar 'n museum opgerig vir prins Mangosuthu Buthelezi. 


Die mense daar het probeer om die persone in die hande kry om die graf terrein vir ons oop te sluit. Intussen het hulle ons laat inkom by die museum (gratis!) en ons kry toe 'n baie vriendelike maar onseker toergids wat ons deur die hele museum neem. Dit was heel interessant. Ons het weer probeer inkom by die graf maar niemand het oopgemaak nie so toe gaan ons maar weer huistoe om verder te werk.

Die winkels daar in Ulundi, soos Spar en Pick 'n Pay is ook anders. Die vleis afdeling is bv net hoenderpote, lewers en afval. En die koffie en tee afdeling het glad nie moerkoffie nie. 

Woensdag oggend het ons wakker geword van 'n zulu man wat sing. Dit was so mooi. Dit het omtrent 'n halfuur lank aangehou en dit het of gestop of ons kon dit net nie meer hoor nie omdat ons self ons oggendgeluide begin maak het. Ons het besluit om in die dag soveel as moontlik "sightseeing" te probeer inprop. 

Dit lyk asof hier baie geld ingesit is om vir die zulus museums op te rig en mense op te lei as gidse om die toere te begelei en ons het oral vriendelike gidse gekry wat ons rondgewys het. Meeste vd plekke se toegang is nogal ook gratis!


Emakhosini  - vallei van die konings

Ons was by die Emakhosini vallei, Cetshwayo se kraal, Dingane se kraal, Piet Retief se graf en die monument by Ulundi.

Piet Retief se monument
Pragtige dure by die museum

Donderdag moes ons meeste van die dag werk en die kinders moes bietjie skoolwerk doen maar iewers in die agtermiddag het Pieter besluit ons moet die huidige zulu koning se kraal gaan soek. 
Ons gids by Dingane se kraal

Dingane se hut
Die mooie monument by die slag van Ulundi
By Cethswayo se kraal

Cetshwayo se kraal

Dit doen ons toe. Hy is in Nongoma, so 30 minute se ry van Ulundi af, bietjie langer omdat jy oral moet rem vir die beeste en bokke wat vrylik hier rond wandel. By die koning se paleis aangekom het 'n polisieman ons gestop en verduidelik dat  ons eers met die induna moet praat om te kan ingaan, hy sal hom roep. Ons wag toe geduldig terwyl die skoolkinders ons omring en wil fotos neem van die kinders. Dit het hulle nogal benoud laat voel en Charma het agter my weggekruip en Declan agter Pieter. Maar uiteindelik het die kinders ook gesien daar is geen gevaar nie en hulle het op fone se fotoalbums verskyn in oral in zululand.

Saam met koolkinders voor die koning se kraal

Terwyl ons staan en wag vir die baie belangrike induna om te verskyn, toe kom daar mans aan met beeste. Na vele gegroetery en buigings en in boeke skryf gaan staan hulle toe voor die hek van die koning se kraal en doen hulle die koninklike groet wat ons by elke museum ook geleer het. Die koning se "praise singer" roep eerste die woorde en dan roep die ander 7 mans agterna om te groet. Dan begin 'n elle-lange geroepery deur die "praise singer" om die volledige groet te doen vir die koning.


Dit is hoe die zulus se geskiedenis behoue gebly het, want die "praise singer" sê elke keer dieselfde rympie op vir die koning wat vertel van wat die koning gedoen het. So is dit oorgedra oor die generasies en die "praises" van elke koning word nou nog onthou en word nog gesê. Elke zulu clan het ook sulke "praises" so as 'n man sy verteenwoordigers stuur om te gaan onderhandel oor lobola dan sing hulle ook eers die familienaam se praises.
Dink net hoe lekker dit moet voel on so gegroet te word elke keer met lofge"roep"! 

Die polisieman vertel toe vir ons (terwyl ons wag vir die baie belangrike induna om met ons te kom praat), dat die koning vrydag verjaar en mense regoor die land kom feesvier. Almal bring vir hom beeste so sy krale is stampvol. Die manne wat sopas die groet gedoen het, het ook beeste gebring. Die groet is gedoen al is die koning nie daar nie. Hy is by sy onderste paleis. Hy het 6 vroue en elke vrou het haar eie paleis. 



Toe die manne uiteindelik klaar is met die beeste toe stap die praise singer na my toe en sê vir my heel geirriteerd 

"yes, how are you". 
Ek sê toe vir hom op my vriendelikste - baie goed en ek sien die koning gaan baie bly wees oor sy baie beeste. 
"Actually I am not so very good. Call your husband now". 

Die mislike man het daarna nie weer met my gepraat nie behalwe toe hy my gedreig het om my foon te vat omdat ek wou fotos neem. Pieter moes toe eers 'n "persent" gee om respek te toon dat ons by die koninlike kraal kan wees en hy moes die koninklike groet ook doen (vir die koning wat nie daar is nie).
Die mislike ou was egter was mal oor Pieter en het ons toe selfs uitgenooi na die koning se verjaardagpartytjie toe!


Elke jaar roep die koning al die meisies van die zulus wie nog maagde is om die rietdansseremonie te kom doen. Hulle bring dan elkeen 'n riet wat vir die koning gegee word. Blykbaar as die riet buig dan wys dit dat die meisie nie regtig 'n maagd is nie. Hulle word ook blykbaar "gecheck". (Die arme meisies... ) Daar was 'n groot klomp riete wat teen 'n muur van die koning se kraal gelê het en die ou het gesê daar was meer as 70000 meisies wat gekom het om aan die rietdans ceremonie deel te neem laasjaar.
voor ons huisie in Ulundi

Vrydag het ons net so entjie van daar af na 'n amazing plek gegaan langs die Wit Umfolozi rivier, Klip Kloof. (Nog 'n plek wat ons deur die bergklub van te hore gekom het). Asemrowend mooi met rotsklim roetes en 'n paar lekker plekkies om te swem in die rivier.
Vrees was die keer nêrens te siene nie - selfs toe die bordjie wys hier is al 'n krokodil, 'n luislang en 'n luiperd hier gesien.


Declan het ook sy rotsklim roetes almal die keer tot bo gedoen! 

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Kersfees-koekies!

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Travelling through South Africa - some things we've learnt about self-catering accommodation