(Week 13 - In Afrikaans) - Ons is in Mtunzini

Mtunzini is eintlik baie naby aan Tugela Mouth, so toe ons 10uur Maandagoggend daar wegtrek het ons lank voor 2uur hier aangekom, selfs met die stop tussenin in Richardsbaai om die wiel reg te maak en inkopies te doen. Ek het nie gedink ons sou vroeër kon inkom as 2uur nie maar die mense was vriendelik en het ons ingelaat. Die lekkerte waarna ons almal uitgesien het was dat ons weer bietjie my ma en pa sal sien, en NOG 'n bonus was dat die kids se nefie Nikolai ook saam sou kom! 

Ons kom nou al die laaste 7 jaar omtrent elke jaar saam met my ma hulle hierheen in die winter vakansie. Terwyl dit onder vriespunt is in Gauteng, loop ons dan lekker met kortmoue rond hier by die see. Ons is feitlik binne in 'n natuurreservaat (Umlalazi) en die natuurlike woud wat elke houthuisie omring laat dit voel asof jy nie naby ander mense is nie. Toe ons die eerste keer in hierdie houthuisies gebly het, was een van Declan se gunsteling stories "Die 3 klein varkies". Ons het hard probeer dat hy die voordeel van goed gedoende werk deur die storie sal verstaan, maar al wat dit hier beteken het was dat hy baie bekommerd was dat ons nie in 'n baksteenhuisie kon bly nie.


Behalwe vir die pragtige see, is die woud propvol kilometers se lekker bospaadjies wat ons na hartelus stap of draf of fietsry.
As jy my al lank ken, dan sal jy ook weet dat ek nie juis baie vinnig of sterk of rats is nie. Dit vergeet ek soms en een so keer wat ek vergeet het, het ek fiets gery in een van die paadjies en baie hard geval. 



Dit was so seer dat my kniëe 'n jaar later nog gepyn het. Die littekens sit nou nog daar. Inteendeel, al die littekens wat nog sigbaar is op my lyf is van fietsry. Ek het daai hele jaar baie goed onthou dat ek nie baie fiks of sterk of rats is nie.
Maar die paadjies is nogsteeds hier en dit is asof hulle soos 'n stukkie sjokelade in die yskas jou roep om bietjie hulle te verken. Die hoogtepunt van my week was dat ek daardie spesifieke paadjie gaan ry het waarvoor ek bang is as ek net daaraan dink.... EN TOE VAL EK NIE! En dit was lekker!!!




Om by die strand te kom, loop mens oor die Siyaya rivier. Daar is 'n lang stewige houtbrug bo-oor hom gebou en 'n groot sandduin waaroor mens klim om uiteindelik by die see te kom.
Die eerste dag wat ek en Charma toe besluit om bietjie see toe te stap, sien ons vir die eerste keer die bordjie raak wat mens waarsku dat daar krokodille is!
Ons het die bordjie nog nooit voorheen gesien nie en net daar vries my dapper dogtertjie soos 'n soutpilaar en weier om oor te loop. Oorkom met vrees staan sy toe en huil en raak ook heeltemal histeries as ek waag om verder te loop (sonder haar). Noodloos om te sê het ons nie daardie dag die see gesien nie.
Sy het nog so 2 keer so gestap tot by die brug, gevries en net weer omgedraai huistoe - eenkeer selfs saam met haar sterk pappa! Sy moes toe in haar eie hartjie uitwerk wanneer sy gereed gaan wees om dit te oorkom, en toe het sy - al moes ek maar saam met haar oorhardloop.


Declan en Nikolai sien ons omtrent nie deur die dag nie. Die 2 seuns is mal oor mekaar en gaan vang vis, ry fiets en "explore" die wêreld vol.
Ongelukkig vir die kinders is ek 'n regte pyn want ek het besluit ons skool begin al klaar, so hierdie week het ons van 8uur tot omtrent 12uur elke dag skoolwerk gedoen. Die rede is maar net omdat ons redelik van blyplek gaan verander die maand en hierdie is dalk die enigste keer wat ons vir so lank op een plek gaan bly. Dit is nogal 'n uitdaging om orde te hou in so 'n klein huisie. Ongelukkig kry ons dit nie reg nie.


Gister het ons besluit om die Richards bay parkrun te gaan doen. Die paadjie gaan deur 'n natuurlike woud en tot bo-op Pelican island. Dit was pragtig om dit te sien.



Alhoewel die weer begin draai het en dit begin koud word het gister, het ons besluit om so paar historiese plekke te gaan opsoek. Ons het dus dapper die piekniekmandjie gepak na die parkrun en ons eerste stop was die Harold Johnson natuurreservaat - 'n piepklein reservaat met 2 staproetes, een van 0,8km en een van 7km. 


Die paadjie daarheen kronkel deur suikerriet landerye laat mens voel asof jy diep in zululand rondry.
Wat my eintlik na die reservaat gelok het, was die "ultimatum boom". In 1879 het Shepstone vir die zulu koning Cetshwayo 'n ultimatum by hierdie boom gegee om onder andere sy weermag te ontbind. Cetshwayo het geweier en dit het gelei tot die anglo-zulu oorlog. 


Van daar af is ons na Kwadukuza (Stanger) om koning Shaka se graf te gaan sien. Hulle het 'n oulike museum ingerig met sy hele storie wat nou al vir ons redelik bekend is met al ons lesery. 



Ons het Salt Rock strand toe gery om sy rots te gaan soek waarop hy gesit en dink het oor die lewe, maar teen die tyd was dit al yskoud en die wind het ons heeltemal weg gewaai.
Van gister af het die weer net versleg so ons boer maar in en om die huis (of eerder, die bed). Die houthuisie het ongelukkig natuurlik die vermoë om die ligste veertjie-dogtertjie se treë soos 'n klein olifantjie te laat klink wat sokker speel...
Dit is nou ysig koud en ons sien uit daarna dat die kinders kan gaan slaap nounou sodat die houthuisie weer stil kan wees.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Kersfees-koekies!

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Travelling through South Africa - some things we've learnt about self-catering accommodation