(Week 11 - In Afrikaans) - St Lucia
Hierdie week het soos aan die einde van ons eerste maand, en ook die week net voor ons begin toer het, my swakhede mooi duidelik na vore gebring. Die op-pakkery en organisering van al ons goed maak my senuweeagtig en kortaf. Ek wil so graag alles los soos ons dit gekry het en in my vreeslike "moeite" (skoonmaak en regskuif) loop iets altyd verkeerd). Dit is nogal stresvol vir my om in iemand anders se plek te bly en al hulle goed te gebruik in daardie opsig, want dit is dan ons direkte verantwoordelikheid as iets beskadig word..
Dankie tog daar het niks gebeur die hele maand lank met die *leerbank* in die woonstel nie... maar ek het wel 'n handoek verloor (??!!!???) en 2 glase het gebreek en daar is definitief minder plastiek glasies oor.... aijaijai...
Dankie tog daar het niks gebeur die hele maand lank met die *leerbank* in die woonstel nie... maar ek het wel 'n handoek verloor (??!!!???) en 2 glase het gebreek en daar is definitief minder plastiek glasies oor.... aijaijai...
Nietemin, die week was goed. Declan het verder geleer "surf" en sy blink ogies was vol sterretjies. Charma het die week lag-lag omgespeel met haar maatjie wie in die woonstelblok bly en selfs Pieter het 'n maatjie gemaak en saam met hom gaan visvang. Tussenin het mamma-draak gepak en skoongemaak (grappie!)
Ons het wragtig die sardyne gemis... dieselfde oggend wat ons opgepak was en gery het, het hulle op "ons" strand uitgekom! Ons was so vies dat ons dit gemis het, maar miskien kan ons hulle volgende jaar vang!
Daar is iets "oer" wat wakker word in my wanneer ons kamp. Dis asof mens diep binne in jou voel dat ons lank terug so gelewe het. Binne in die natuur. Deel van die groter prentjie. Onkunde maak ons egter weerloos en amper broos. As mens egter elke dag so sou lewe, was dit waarskynlik anders, jou oë sou beter sien en jou ore sou beter hoor, maar ons sintuie is afgestomp in ons hedendaagse gejaagde lewe. So voel dit in elk geval vir my...
Die wete dat 'n slang langs my kan kom lê in die nag, of 'n skerpioen in my skoen kan wegkruip, gee my emosies 'n wip-plank ervaring van opwinding (oor die natuurskoon om my) en histerie (oor wat dit alles aan my kan doen) wat ek liefs wegsteek vir my kinders wat my emosies graag na-aap.
Die wete dat 'n slang langs my kan kom lê in die nag, of 'n skerpioen in my skoen kan wegkruip, gee my emosies 'n wip-plank ervaring van opwinding (oor die natuurskoon om my) en histerie (oor wat dit alles aan my kan doen) wat ek liefs wegsteek vir my kinders wat my emosies graag na-aap.
Dink net hoe my binneste dus tekere gegaan het toe ons St Lucia binnery gister om te kom kamp: Die hele blerrie dorp is vol bordjies wat sê "pasop vir die seekoeie"! Seekoeie is natuurlik die dier wat die meeste mense doodmaak, en ten spyte van sy grootte is hy blerrie vinnig, so ons sal nie eers vir hom kan weghardloop nie! Ek het baie mooi gekyk om seker te maak, en nee - ons kamp plek is nie omhein sodat die seekoeie nie kan inkom nie. Daar is gelukkig (nog) bordjies op wat ons herinner om versigtig te wees vir die seekoeie.
Hierdie plek is egter regtig ongelooflik mooi. Breë strande vol lewe (voëls en krappe en skulpdiertjies) met hoë sand duine wat oorgroei is met plante en bome en natuurlik die meer wat omring is met plantegroei en self ook krioel met wilde diere!
Vandag het ons net na ontbyt die omgewing plat gery met ons fietse. Heel dag lank. Gelukkig het ons net voetspore gesien van seekoeie en nie in een vasgery het nie! Ons het met 'n toerboot gaan ry op die St Lucia meer en baie seekoeie en krokodille gesien. Dit was 'n heerlike, rustige dag.
Ons gaan hier bly tot Donderdag en dan ry ons af Mtunzini toe.
Opmerkings