Week 28 in Afrikaans - Sutherland, Langebaan, Paternotster

Maandag was ons weereens verstom oor hoeveel grondpad tussen dorpe kan lê, en hoe skielik alle konnektiwiteit verlore kan raak in die ver ente pad tussen die dorpe.

Sutherland is eintlik net 'n klein dorpie met stofstrate. Daar is 'n OK en straatkafees en interessante winkeltjies. Maar ons was daar vir die sterre so ons eerste stopplek was die planetarium.
Die planetarium gebou is baie kleiner as die een wat ons in Johannesburg het maar die sitplekke maak op daarvoor met die gemak-faktor! Hulle lê sommer so VER terug sodat jy amper voel jy lê op 'n bed..

Dit was net ons 4 en 2 ouer dames wat die vertoning bygewoon het.
Die vertoning was nie so "wow" nie, en die een ou tannie agter ons het heerlik gelê en snork in die gemaklike stoel. Charma self het ook bietjie haar middagslapie opgevang en ons het lekker gelag vir die 2 wat so lê en slaap!

Ons het die volgende dag na die "South Africa Large Telescope" gaan kyk. Met die dagtoer vat hulle jou na die teleskoop self en verduidelik hoe hy werk en hoe hy onderhou word. Dit is verskriklik interessant. Die volgende aand het ons die nagtoer gedoen en dan kyk mens deur baie kleiner teleskope na 'n paar dinge in die hemelruim, onder andere "alpha centauri" wat die naaste ster aan die aarde is, "antares" wat die hart van die skerpioen is, die planete Mars en  Saturnus (ons kon selfs Saturnus se ringe sien!).

Donderdag het ons die lang pad aangedurf Langebaan toe en veilig by ons huisie aangekom. Ons bly reg langs die "lagoon" en stap elke nou en dan soontoe. Die sand is nie losserig soos ander strande hier nie en dis lekker vir stap en selfs fietsry! Die water is vol "kite-surfers" en blykbaar is dit een van die lekkerste plekke om die watersport te beoefen. Declan is egter nog "surf"-mal en hy maak ons skoon mal met sy geneulery elke 5 minute vir 'n surfboard!

Langebaan is regtig beeldskoon en die dorpie is eintlik nogal groot en goed toegerus met alle winkels wat mens sou nodig kry en die huisie waarin ons bly is baie netjies. Ons gaan lekker hier bly die maand.

Gister was ons gou by die Paternoster oesterfees.. Declan het nie so baie van die oesters gehou nie, maar die res van ons het! Ons het ook gou gaan loer na die bekende "panty-bar" en die kinders het lekker gegiggel daaroor ...

Ons het sommer op Paternoster 4 krewe gekoop en ons eie kreefbraai by die huis gehou laatmiddag. Ons het omtrent ons vingers afgeëet so lekker was dit -  ons is darem bevoorreg om dit te kon doen!
Met al die ge-etery het Declan 'n stywe oefenprogram vir ons uitgewerk, so sy alarmpie gaan al van 6uur vanoggend af elke nou en dan tekere - eers moes ons draf, toe moes daar ge"paddle" word in die yskoue "lagoon", toe is dit 'n strek-sessie en later was daar 'n lys oefeninge soos "sit-ups" en "push-ups" wat voltooi moes word. Die arme man het sy hande vol met ons wat redelik ongewillig is om enige van die oefeninge reg te doen.

Ons sien uit na 'n lekker week - more gaan ek werk in Windhoek en dan moet die skoolwerk afgehandel word sodat die skooljaar kan klaarkom!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai