Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Hierdie week was nogal besig werksgewys en tussenin het Declan vertrek op wat seker een van die grootste avonture van sy lewe sover is.

Hy het al die pad van Stellenbosch af saam met sy niggie gery, oorgeslaap op Beaufort Wes en tot in Pretoria die volgende dag. My mamma hart was maar bekommerd met tye maar tegnologie het my toegelaat om die heeltyd te weet waar hy is (google maps location sharing en natuurlik whatsapp boodskappe).

Van daar af was dit 'n effense logistieke uitdaging om hom van punt na punt te kry tussen Donderdag en Maandag waartydens hy darem by 4 maatjies kon speel, en oorslaap by 3 verskillende huise voordat hy Maandagoggend (more) veilig by my sussie sal aankom in Meyerton om verder daar te kuier.

Dankie tog vir goeie vriende en familie in Gauteng wat gehelp het met al die reëlings! Nou is dit net ons drietjies wat oor is in Stellenbosch en dit is maar vervelig sonder hom om die minste te sê!
Vrydag kon ons onsself darem wegskeur van ons rekenaars af om bietjie te verken. Ons het by die informasie kantoor 'n kaart opgetel en 'n "stap" roete beplan rondom van die mooi ou geboue in die dorp (Stellenbosch).  (Die ou St Mary kerk, die Rynse sendingkerk en pastorie, die Braak (dorpsplein) die koringmeul en die NG kerk. Die dorpsmuseum was nogal 'n belewenis met huisies wat nog staan van die 1700's af!


Gister het ons vinnig na oom Samie se winkel toe gegaan wat in ons Suid Afrika boek gelys is as 'n besienswaardigheid in Stellies. Van daar af is ons weer Paarl toe vir die dag. Ongelukkig was al die museums in die Paarl toe! Die dorp is vol van die moooste ou geboue, maar fotos is maar min, want my foon het weer die gees gegee. Die strooidakkerk is waar Piet Retief gedoop is en het grafte in die kerkhof uit die 1800's uit.

Ons het kaartjies gekoop vir die sterrekyk piekniek wat by die taalmonument gehou is, en terwyl ek en Pieter met 'n glasie wyn in die hand onsself verkyk het aan die mooiste sonsondergang wat ins in 'n lang tyd gesien het (geen foto nie, jammer... Pieter se foonbattery was pap) kom bied die vriendelike restaurant eienaar vir ons 'n kombersie aan en sê hoe mooi Tafelberg gaan lyk om 19h47. Dis toe die eerste keer dat ons besef ons staar vir die ikoon van 'n berg al die pad van Paarl af! Die wolk "vadoek" (soos Charma sê) het hom heeltemal gekamoefleer vir ons!

Vandag was 'n luilekker dag by die huis. Ons het 'n verassingskuiertjie met my boetie en sy vrou gehad en dit was so lekker om bietjie bekende geselskap te hê.
Ek en Charma het bietjie verder gewerk aan ons youtube videos - dis nogal lekker om alles weer 'n keer te beleef wanneer ons deur die videos en fotos gaan in die proses.

Ons dink en droom en filosofeer so tussenin oor ons planne vir volgende jaar en waarheen ons sal gaan en wanneer ons sal terugkeer huistoe... Alhoewel dit nou baie lekker sou gewees het om kersfees en nuwe jaar by familie en vriende te wees, dink ons dat ons dalk nog sal uithou tot einde volgende jaar met ons toer. Ons sal van Januarie af verder al langs die kus toer in die rigting van die Ooskaap, dan beland ons waarskynlik in die winter weer in KZN waar ons begin het.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Finding King Shaka's Isivivane

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 35 in Afrikaans - Stellenbosch, Houtbaai, Vishoek, Kalkbaai